WAARVOOR MOET EK BID?

As daar nou een mens is wat gereeld vir die kerk geskryf het hulle moet bid, dan was dit Paulus. Dink maar aan die bekende vers in 1 Thessalonisense 5:17, waar hy die kerk aanmoedig om ‘gedurig te bid’. Of wat van Romeine 12:12, waar hy sê, “Volhard in gebed”? Dan het Paulus nie net die kerk aangemoedig om te bid nie, hy het sommer van sy gebede neergeskryf, sodat die gemeentes geweet het waarvoor hy vir hulle bid. Op dié manier kon hulle sien hy doen wat hy sê hulle moet doen – hy bid.

Paulus is egter nie die enigste een wat ons aanmoedig om te bid nie. Oral in die Bybel sien mens verse wat dit óf pertinent sê, óf dit op een of ander manier impliseer. Maar het jy geweet die Bybel sê nie net vir ons dat ons moet bid nie. O nee, daar word ook vir ons gesê waarvóór ons moet bid!

Vandag gaan ons kyk na sewe van die dinge waarvoor die Bybel sê ons as God se kinders, moet bid. Hierdie dinge is nie in orde van belangrikheid nie, hoewel die eerste een by verre die belangrikste is.

Waarvoor moet ek bid?

Mattheus 6:10: “…laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”

Die belangrikste ding waarvoor ons kan bid, is vir God se plan vir die wêreld en elke mens op hierdie aarde, om te geskied. Daar is sekere dinge omtrent God se plan wat gaan gebeur en niemand kan dit keer nie. Dink hier byvoorbeeld aan Jesus se tweede koms. Hy gaan terugkom en elke knie gaan voor Hom buig en erken dat Hy die Here is. Niks en niemand kan hierdie plan van God laat misluk nie.

Maar daar is planne wat God het, wat nie sommer net gaan gebeur nie. God se hart is dat elke mens op hierdie ou planeet van ons, in Jesus glo en gered word. Hy het alles gedoen wat nodig is vir hierdie plan om ‘n werklikheid te word in mense se lewens. Maar dit beteken nie dit gebeur in elke mens se lewe nie! Elke mens het ‘n keuse of hy God in sy lewe wil hê of nie. En dit wat hy besluit, het ‘n invloed op God se plan vir sy lewe. ‘n Ja van die mens is ‘n ja vir God en Sy plan. ‘n Nee is ‘n nee en het verreikende gevolge.

So, omdat God se wil nie outomaties in ons lewens gebeur nie, maar ons keuses maak wat die plan kan beïnvloed, is dit belangrik dat ons bid vir God se wil om te geskied. Juis daarom sê die Bybel dat ons moet bid dat die Here se wil sal geskied.

Mattheus 6:12: “…en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree…”

‘n Baie belangrike deel van ons verhouding met die Here, is om ons harte skoon te hou voor Hom. Dit beteken dat ons, wanneer ons bewus raak daarvan dat ons iets verkeerd gedoen het, dit dadelik voor Hom bely en om vergifnis vra. Hy weet in elk geval wat ons gedoen, gedink of gesê het, so ons steek nie regtig iets vir Hom weg wanneer ons dit nie teenoor Hom erken nie. Al wat ons daarmee regkry, is om bietjie vir bietjie van Hom af weg te draai omdat ons skaam is oor wat ons gedoen het.

Die Heilige Gees in ons is baie getrou om ons daarop te wys wanneer ons sonde doen. Wanneer Hy jou dus oortuig dat jy iets verkeerd gedoen het, bring dit dadelik voor die Here in gebed.

Moet ook nie vergeet hoe belangrik dit is om ander te vergewe nie. As jy in gedagte hou dat die Here jou al jou sondes vergewe het, dan is dit net logies dat jy dieselfde vir ander sal doen, wat verkeerd teenoor jou opgetree het. En wanneer jy ander vergewe, dan hou jy ook jou hart skoon voor die Here!

Maak dus ‘n punt daarvan om te bid vir vergifnis wanneer jy dit nodig het.

Jakobus 1:5: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. “

Dit is nou maar eenmaal so ons dink ons is slimmer en wyser as wat ons eintlik is. Ons dink ons weet alles wat daar te wete is om goeie en ingeligte besluite te neem. Ons dink ons weet wat goed en reg is vir ons verhoudings om te sorg dat hulle floreer. En ons dink selfs soms dat ons in eie krag die Woord van God kan verstaan!

Maar dis nie waar nie. Almal van ons gaan op een of ander stadium in ons lewens – soms selfs op ‘n daaglikse basis – wysheid nodig hê. En dis dan nou ook die volgende ding waarvoor die Bybel sê ons moet bid.

In Spreuke 3:5 word ons gewaarsku om nie op ons eie insigte staat te maak nie. Jy sien, ons sien nooit die volle prentjie nie en daarom kan ons nooit regtig goeie besluite neem sonder God se hulp nie.

So, wanneer jy ‘n besluit moet neem, vra die Here om jou te help. Voor jy jou Bybel lees of studeer, vra die Here om jou oë oop te maak vir Sy waarheid en om jou insig te gee. Wanneer jy voor ‘n probleem of ‘n moeilike situasie te staan kom, vra die Here om jou wysheid te gee oor hoe jy dit moet hanteer. Ook waar dit jou verhoudings aan betref, kan en moet jy die Here vra vir wysheid oor wat jy moet doen om die verhouding te bou en te laat floreer.

Bid dus gereeld vir wysheid!

LEES OOK: GODDELIKE WYSHEID EN ONS PLANNE

Mattheus 26:41: “Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”

Onthou jy, voor Jesus se kruisiging, het Petrus baie grootmond vertel dat hy nooit vir Jesus in die steek sou laat nie. Hy het selfs gesê hy sal saam met Jesus sterwe eerder as om Hom te verloën. Maar ons weet dis nie wat gebeur het nie.

‘n Paar uur voor Petrus Jesus verloën het, was hy, Johannes en Jakobus saam met Hom in die Tuin van Getsemane. Jesus het gaan bid, maar die drie dissipels het aan die slaap geraak. Toe Jesus terugkom en sien hulle slaap, sê Hy dat hulle moet waak en bid om nie in versoeking te kom nie. Ongelukkig het Petrus nie geluister nie en weer aan die slaap geraak. En toe die versoeking kom, het hy drie keer gesê hy ken nie vir Jesus nie.

Uit Petrus se storie moet ons leer hoe belangrik dit is om elke dag te bid vir die krag om versoeking te weerstaan. Doen dit sommer vroegoggend, voor jy nog regtig die dag aangepak het. Jy weet nooit watter versoeking die vyand op jou pad gaan bring nie, maar as jy voor die tyd gebid het vir die nodige krag, sal die Here dit vir jou gee wanneer versoeking kom. En met Sy hulp en krag sal jy in staat wees om versoeking te weerstaan.

Markus 9:24: “Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.”

Daar is ‘n verskil tussen om in God te glo en God te glo. Om in God te glo beteken jy glo Hy bestaan en dat Hy die enigste God is. Die Bybel sê in Jakobus 2:19 die bose geeste glo dit ook en hulle sidder van angs.

Maar om God te glo beteken jy glo wat Hy sê. Jy glo Sy woorde in die Bybel is waar – wat Hy oor Homself sê, wat Hy oor die mens sê, wat Hy oor die vyand, sonde, die dood, ensovoorts sê, is waar. Jy glo Sy beloftes, dat Sy opdragte goed en geldig is, en dat Sy woorde jou die regte pad wys.

Ongelukkig sukkel ons soms hiermee. Wanneer dit wat ons sien nie lyk of dit strook met wat die Here in die Bybel sê nie, dan raak ons geloof klein. Ons begin twyfel of God dit regtig gesê het (klink dit vir jou soos die vyand se taktiek in Genesis 3?). Of ons begin dink dat ons Hom dalk verkeerd verstaan het. Ons kan selfs begin dink dat Sy woorde en beloftes vir ander bedoel is, maar nie vir ons nie.

Wanneer dít gebeur, leer Markus 9:24 ons om te bid vir hulp om te bly glo en te bly volhard. Want dit is wanneer ons volhard om te glo wat God gesê het, wat dinge verander. Onthou, geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van dit wat ons nie sien nie (Hebreërs 11:1). Ons moet God dus bly glo, al sien ons nog niks verander nie. En ons moet bid en die Here vra om ons daarmee te help, net soos die pa in Markus 9 gedoen het.

LEES OOK: DIE KRAG VAN GEBED: GEE JOU BEKOMMERNISSE VIR GOD

Filippense 1:9-10a: “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.”

In Johannes 15 lees ons die bekende gedeelte waar Jesus sê Hy is die wingerdstok en ons die lote. Dit is wanneer ons in Hom bly wat ons baie vrug dra, want sonder Hom kan ons niks doen nie (vs.1-5). Sien jy dat geestelike groei en heiligmaking nie kan gebeur sonder Jesus se hulp nie?

Daarom moet ons gereeld bid vir die Here se hulp hiermee. Ja, daar is dinge wat ons kan doen om onsself in ‘n posisie te plaas waar die Here in ons kan werk sodat ons groei en verander. Dis nou dinge soos die geestelike dissiplines waaroor ons ‘n paar maande gelede gesels het. Maar hierdie dissiplines gaan ook nie veel help as ons nie gereeld bid vir geestelike groei en heiligmaking nie.

Dit is immers die Here wat die groei bring. Dit is Hy wat die vrug dra. En dit is Hy wat ons verander sodat ons van die verkeerde dinge wil afsien en ‘n heilige lewe wil leef.

Vra dus gereeld vir die Here om ‘n werk in jou te doen sodat jy geestelik groei, vrug dra en ‘n heilige lewe leef.

Efesiërs 6:19: “Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak.”

Net voor Jesus opgevaar het hemel toe, het Hy vir die dissipels gesê om na al die nasies toe te gaan en mense Sy dissipels te maak. Hulle moes oor dit wat hulle gesien en ervaar het, getuig, sodat dié wat dit hoor, ook kon glo en gered kon word.

Hierdie opdrag was nie net vir die dissipels nie, maar is vandag steeds vir elke mens wat in Jesus glo. Ons moet vir ander vertel wie Jesus is en hoe ons lewens verander het toe ons Hom ontmoet het. Ons moet vir hulle vertel wat Hy vir ons gedoen het en steeds doen. Maar dis nie altyd so maklik nie! Die vyand is vinnig om ons bang te praat en ons te vertel dat mense ons gaan verwerp as ons oor Jesus begin praat.

En juis daarom moet ons elke dag vir die Here vra om vir ons die vrymoedigheid te gee om vir ander van Hom te vertel. Ons moet Hom ook vra om vir ons wysheid te gee, sodat ons weet wanneer die regte tyd is om te praat. Dan moet ons ook vra vir die regte woorde om te sê.

En ons moet dit nie net vir onsself bid nie, maar ook vir ander gelowiges. Ons moet veral ook bid vir diegene wat op ‘n Sondag op ‘n preekstoel staan om die Woord te verkondig. Hierdie mense het God se hulp nodig om die regte boodskap vir die week te hê. So, wanneer jy vir jouself bid vir vrymoedigheid om te getuig, bid ook sommer vir jou predikant vir die regte boodskap vir Sondag se erediens!

HART TOT HART – ‘N GEBEDSGIDS:

As jy nog nie voorheen baie gebid het nie en daarmee sukkel, dan is hierdie gids spesiaal vir jou geskep om jou te help om die basiese beginsels van gebed te verstaan en te begin toepas.

Besoek ons aanlyn-winkel en kry dit sommer vandag nog!

Hierdie is maar net 7 van die dinge waarvoor die Bybel sê ons moet bid. Maar daar is sommer nog baie ander dinge ook. Dinge soos:

Werkers Vir Die Oes – Mattheus 9:37-38: “Hy sê toe vir sy dissipels: ‘Die oes is groot, maar die arbeiders min. 38Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.'”

Alle Mense – 1 Timotheus 2:1: “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense…”

Vir Diegene In Gesagsposisies – 1 Timotheus 2:1-2: “Ek dring daarop aan dat daar… met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word… vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.”

Vir Ons Eie Behoeftes – Mattheus 6:11: “Gee ons vandag ons daaglikse brood…”

Met Dankbaarheid – 1 Thessalonisense 5:18: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Gebed is een van die grootste voorregte wat ons as kinders van God het. Daardeur nooi ons Hom om deel te word van elke aspek van ons lewens – ons besluite, drome, tekortkoming, dankbaarheid, ensovoorts. Dis deur gebed wat ons Sy hart leer ken en waar ons leer om Sy wil te soek bo ons eie.

Wanneer ons bid vir die dinge waarvoor die Bybel sê ons moet bid, groei ons nader aan die Here en begin ons sien hoe Sy hand in ons lewens werk. En hoewel gebed nie altyd ons omstandighede verander nie, gebruik God dit altyd om óns te verander.

Kom ons wees dus mense wat nie net weet ons moet bid nie, maar wat regtig bid. Kom ons bid vir God se wil, vir wysheid, vergifnis, geloof, groei, die vrymoedigheid om te getuig en vir ander mense. Want die gebed van ‘n gelowige het groot krag, soos Jakobus 5:16 vir ons sê!

2 thoughts on “WAARVOOR MOET EK BID?”

  1. Herony Swart

    Shalum Risa, en welkom terug.

    Ek wil asb vra: ek het ‘n hele paar maande terug, ‘n paar e-boeke by jou gekoop, wat ek ontvang en afgelaai het.

    My voorneme was om dit die boeke te ‘edit’ om papier en ink te probeer spaar voordat ek dit print en bêre in my leêr, en dit het ek gedoen met die boek oor ‘Vas’.

    Die rekenaar waarop ek die boeke afgelaai het, Gerhard se laptop, het egter intussen ‘gekalf’. Ons het dit ingeneem vir herstelwerk en dit so pas teruggerky. Jou boeke is egter weg, saam met klomp ander dokumente wat ons gedink het veilig geberg is.

    Moet ek die boeke weer by jou koop, of kan jy dalk sien wat ek gekoop het en dit weer stuur? Ek wil jou regtig nie in ‘n moeilike situasie plaas nie, en het heeltemal begrip vir wat jy ookal besluit.

    Laat weet asb – dis veral die 3 boeke saam in ‘n pakket, waarvan die Hart tot Hart 1 van die 3 boeke is, en die VOLG Jesus studiemetodie, wat ek graag wil bekom.

    • Risa Cronje

      Hallo Herony. Ek gaan kyk watter boeke jy aangekoop het en hulle dan weer vir jou stuur.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *