Het jy al jou geestelike doelwitte vir die jaar gestel?
Party mense stel nie regtig jaarlikse doelwitte nie.
Ander stel doelwitte, maar doen deur die jaar nie veel daaraan nie. Aan die einde van die jaar besef hulle dan dat niks verander het nie en stel maar weer dieselfde doelwitte vir die volgende jaar.
Doelwitte is egter belangriker as wat meeste mense besef.
Jy sien, as jy nooit ‘n doelwit het nie, is die kans goed dat daar dinge is wat jy nooit in jou lewe gaan bereik nie.
Jy gaan byvoorbeeld nie groei in jou geestelike lewe as jy nie geestelike doelwitte het nie.
Vandag gaan ons dus gesels oor geestelike doelwitte en hoe jy dit moet stel.

VRA VIR LEIDING.
Dit maak nie saak wat jy in die lewe wil aanpak nie, jou eerste stap moet altyd wees om daaroor te bid.
God weet presies wat jy moet doen en ook hoe jy dit moet doen.
Begin dus deur eers by Hom stil te word en te vra vir Sy leiding.
Vertrou Hom dan dat Hy jou sal help en jou sal lei terwyl jy jou geestelike doelwitte vir die jaar stel.
HOE LYK JOU GEESTELIKE LEWE?
‘n Mens kan nie geestelike doelwitte, of enige ander doelwitte, stel as jy nie weet waar jy tans in jou lewe is nie.
Dink mooi daaroor. ‘n Doelwit is veronderstel om jou te help om te groei of om iets in jou lewe te verander.
Maar as jy nie weet waar jy groei of verandering nodig het nie, hoe gaan jy besluit wat om vorentoe te doen sodat jy wel groei of verander?
Na jy God gevra het om jou in hierdie proses te lei, is jou volgende stap om te bepaal hoe jou geestelike lewe op dié stadium lyk.
Verlede week het ons gesels oor 8 geestelike dissiplines, wat jy hierdie jaar kan gebruik om geestelik te groei. Gaan lees weer daardie artikel. Gee jouself ‘n punt uit 10 vir elkeen. As jy goed vaar in daardie dissipline, gee jouself ‘n punt tussen 5 en 10. As jy nie so goed vaar nie, gee jouself ‘n punt tussen 1 en 5.
Dit sal jou help om te sien waar jy groei nodig het. Dit sal jou ook help om te bepaal watter tipe doelwit jy vir daardie deel van jou geestelike lewe, moet stel.
VERSKILLENDE DOELWITTE.
Voor ons kom by jou geestelike doelwitte vir die jaar, kom ons kyk eers gou na die twee tipes doelwitte wat jy kan stel.
Die eerste tipe doelwit is ‘n instandhoudingsdoelwit (maintenance goal).
Het jy jouself ‘n punt tussen 5 en 10 vir sommige geestelike dissiplines gegee? Dit beteken jy is tevrede met daardie dissipline in jou lewe. Jy wil nie noodwendig iets daaraan verander nie. Vir hierdie afdeling kan jy ‘n instandhoudingsdoelwit stel, want jy wil dit wat jy reeds doen, net in stand hou.
As jy egter vir jouself ‘n punt tussen 1 en 5 gegee het, dan beteken dit jy is nie tevrede nie. Jy wil graag groei of verander in daardie geestelike dissipline.
Hier het jy dan die tweede tipe doelwit nodig – ‘n gewoonte-doelwit (habit goal). Dit beteken eenvoudig dat jy die gewoonte wil aanleer om daardie geestelike dissipline op ‘n gereelde basis te beoefen. Dit gaan jou help om geestelik te groei.
JOU DOELWITTE VIR DIE JAAR.
Jy het jouself nou ‘n punt uit 10 vir elke geestelike dissipline gegee. Jy behoort ook te weet watter tipe doelwit jy vir elke dissipline moet stel.
Die volgende stap is om jou geestelike doelwitte vir die jaar te stel.
Daar is ‘n paar dinge wat jy omtrent jou doelwitte moet onthou.
In die eerste plek is dit baie belangrik om jou doelwitte neer te skryf. Navorsing het gewys dat mense wat hulle doelwitte neerskryf, ‘n baie groter kans het om dit te behaal. Dit gaan jou ook sommer help om te onthou wat jou doelwit nou eintlik was!
Tweedens moet jy onthou dat jy ‘n goeie rede moet hê waarom jy graag daardie doelwit wil bereik. Wanneer jy die dag nie lus voel om aan jou doelwit te werk nie, gaan jou ‘waarom ek hierdie doelwit wil bereik’ jou aanmoedig om tog daaraan te werk.
In die derde plek is dit ‘n goeie idee om jou doelwit soms tydgebonde te maak. Kom ons veronderstel jy wil graag elke dag jou Bybel lees. Maak jou doelwit tydgebonde deur te sê: Ek gaan 7 uur in die oggend, voor ek werk toe gaan, eers my Bybel lees.
As jy ‘n gewoonte-doelwit stel, is dit ook ‘n goeie idee om dit te koppel aan ‘n ander gewoonte wat jy reeds het. Drink jy koffie voor jou huismense wakker word? Koppel dan jou Bybelleesgewoonte daaraan deur te sê: Ek gaan my Bybel lees terwyl ek my oggend-koffie in die sitkamer drink.
JOU AKSIEPLAN.
Die rede waarom baie mense nie hulle geestelike doelwitte (of enige ander doelwitte) bereik nie, is omdat hulle ‘n plan van aksie daarvoor het nie.
Na jy jou doelwitte vir die jaar neerskryf het, is die volgende stap om te bepaal hoe jy dit gaan doen. Dis jou aksieplan.
Kom ons veronderstel jy wil elke dag tyd in die Bybel spandeer. Jou aksieplan daarvoor kan só lyk:
Sluit aan by ‘n Bybelstudiegroep.
Soek Bybelverse om te memoriseer. Begin dit memoriseer.
Koop ‘n Bybelstudie en werk daardeur.
Kies ‘n Bybelleesplan en gebruik dit elke dag in my stiltetyd.
Laai die oudio-Bybel op my foon af en luister daarna wanneer ek werk toe ry.
Lees my Bybel voor ek werk toe gaan.
Laai die YouVersion-app op my foon af en doen die dag se gedeelte in die aand voor ek gaan slaap.
Jy sal sien die plan hierbo is so ‘n bietjie deurmekaar. Na jy jou aksie-stappe bymekaar het, sit dit in ‘n volgorde wat vir jou sin maak. Sommige stappe gaan jy net een keer doen, soos om by ‘n Bybelstudiegroep aan te sluit. Ander stappe gaan jy elke maand, week of dag doen.

JOU AKSIEPLAN IN KLEINER STAPPE.
‘n Mens se aksieplan bestaan gewoonlik uit groot stappe. Volgende gaan jy, waar nodig, jou stappe kleiner maak. Dit gaan jou help om nie oorweldig te voel en op te gee nog voor jy begin het nie.
Kom ons neem die ‘Skryf die Woord’-stap uit die aksieplan hierbo.
As jy daardie stap in kleiner stappe wil opdeel, kan dit só lyk:
Koop ‘n notaboek of joernaal om in te skryf.
Soek op die internet na ‘skryf die Woord’-planne.
Laai ‘n plan af en druk dit uit.
Skryf in my dagboek wanneer ek elke dag die Woord gaan skryf.
Sit ‘n ‘reminder’ op my selfoon om my te herinner om die Woord te skryf.
Sien jy dat dit baie makliker is om hierdie stappe te volg? Jy hoef nie al die stappe op een slag te volg nie. Jy kan byvoorbeeld die eerste dag net die notaboek of joernaal koop. Die volgende dag soek jy ‘n ‘skryf die Woord’-plan, laai dit af en druk dit uit. Die dag daarna kan jy besluit watter dae jy die Woord gaan skryf en dit so in jou dagboek aanteken.
Op dié manier beweeg jy vorentoe met jou doelwit sonder om oorweldig te raak met alles wat jy moet doen.
BELOON JOUSELF.
Party van jou geestelike doelwitte gaan mylpale hê wat jy deur die jaar bereik. Veronderstel jou doelwit is om elke kwartaal deur ‘n Bybelstudie te werk. Wanneer jy so ‘n studie klaargemaak het, het jy ‘n mylpaal bereik.
Meeste mense dink nie daaraan om hulleself te beloon vir hierdie mylpale nie. Maar dis ‘n goeie idee om dit te doen, want dit motiveer jou om aan te hou.
Na jy jou doelwitte gestel het en ook jou aksieplan uitgewerk het, is dit tyd om te besluit hoe jy jouself gaan beloon wanneer jy ‘n mylpaal bereik.
Jy kan byvoorbeeld vir ‘n uur na jou gunsteling koffiewinkel toe gaan terwyl jou man (of vriendin) na die kinders kyk.
Of jy kan vir jouself ‘n bos blomme, die Bybel wat jy graag wil hê of ‘n nuwe Bybelstudie koop.
As daar ‘n park naby jou is, waar dit veilig is, kan jy vir ‘n rukkie park toe gaan en daar sit en lees.
Dink aan dinge wat vir jou lekker is om te doen en beloon jouself daarmee. Onthou, dit hoef nie iets te wees wat geld kos nie, solank dit net vir jou lekker is en soos ‘n beloning voel.
SIT DIT IN JOU DAGBOEK.
Die laaste stap is om jou aksieplanne in jou dagboek neer te skryf.
As jy nie ‘n plan het vir wanneer jy aan jou geestelike doelwitte gaan werk nie, gaan jy nooit daarby uitkom nie.
Besluit dus wanneer jy aan jou doelwitte gaan werk en skryf dit in jou dagboek.
Maak dan ‘n punt daarvan om by jou plan te hou en regtig elke dag op daardie tyd aan jou doelwit te werk.
Dit maak nie saak of jy hierdie jaar vir die eerste keer geestelike doelwitte stel, en of jy dit al jare lank doen nie. As jy hierdie stappe volg, gaan jy aan die einde van die jaar ‘n merkbare verskil in jou lewe sien.
So, moenie langer wag nie. Spring sommer dadelik weg en stel jou geestelike doelwitte vir die jaar. Jy sal beslis nie spyt wees nie!