DANKBAARHEID IN MOEILIKE TYE

Dit is nou maar eenmaal so dat swaarkry deel van die lewe is. ‘n Mens kan jou bes probeer om alles ‘reg’ te doen om probleme te probeer verhinder of te verminder. Maar ongelukkig ‘gebeur’ die lewe eenvoudig en dit kan selfs jou beste probeerslae in die wiele ry. Almal kry een of ander tyd met probleme, hartseer en swaarkry te doene. En wanneer dinge swaar gaan, raak ‘n mens se uitkyk op die lewe donker en sien jy nie meer al die goeie dinge, wat steeds in jou lewe is, raak nie. Dit raak dan ook moeilik om dankbaar te wees.

En tog vra God van ons om, te alle tye, dankbaar te wees. Maar hoe doen ‘n mens dit? Kom ons kyk hoe ‘n mens te werk kan gaan om dankbaarheid in moeilike tye uit te leef.

Dankbaarheid in moeilike tye

Soos ek hierbo genoem het, vra God van ons om altyd dankbaar te wees. Ons kry dié opdrag in 1 Tessalonisense 5:18. Daar staan: “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.”

Let ‘n bietjie op die eerste vier woorde in die teksvers. Daar staan dat ons in alles dankbaar moet wees, nie vir alles nie.

Dit beteken God vra nie van ons om dankbaar te wees vir die swaarkry, probleme en hartseer wat ons in die lewe ervaar nie. Nee, Hy vra vir ons om dankbaar te wees, om ‘n houding van dankbaarheid te bly hê, ten spyte van die swaar wat ons ervaar.

Nou wonder jy dalk waarom God dit vir ons sê? Twee redes.

In die eerste plek bring dankbaarheid ons altyd, in goeie en slegte tye, nader aan God.

In die tweede plek gee dit ons perspektief. Ons gaan later ‘n bietjie meer hieroor gesels.

Daar is karakters in die Bybel, wat God uit die oog verloor het, en net op hulle probleme gefokus het. Maar daar is ook ander wat, ten spyte van moeilike tye, dankbaarheid bly uitleef het.

Die bekendste een is seker Job.

Die arme man het in ‘n kort rukkie se tyd alles verloor. Baie van ons het al besittings, geliefdes en ons gesondheid verloor. Maar daar is min met wie dit gebeur dat hulle sommer al hierdie dinge so amper gelyktydig verloor.

En tog is dit wat met Job gebeur het. As jy nie sy verhaal ken nie, dan dink jy seker nou dat hy iewers in sak en as gaan sit en homself bejammer het. Jy dink dalk ook dat hy verseker sy rug op God gedraai het. En in ‘n sin is jy reg, maar jy is ook verkeerd!

Ja, Job het in sak en as gaan sit – letterlik! – en hy het homself jammer gekry. Maar hy het nié sy rug op God gedraai nie.

In Job 2:9 sê sy vrou vir hom dat hy tog nou maar net vir God moet vervloek en sterf. Dit sou ten minste vir die hier en nou ontslae raak van al sy probleme.

Maar dis nie wat Job doen nie. Hy spreek sy vrou aan oor haar verkeerde houding en in Job 2:10b lees ons dat hy onder alles met geen woord gesondig het nie. Hy bly aan God getrou selfs al sit hy met vrae.

Uit sy verhaal leer ons dat ons ‘n keuse het wanneer die swaarkry van die lewe ons tref. Ons kan soos Job se vrou maak en ons rug op die Here draai. Of ons kan kies om ons vertroue te plaas in God se karakter en planne, selfs al verstaan ons dit nie.

Nog ‘n karakter in die Bybel, wat vir ons ‘n voorbeeld is van iemand wat dankbaarheid in moeilike tye bly uitleef het, is Paulus.

In 2 Korinthiërs 11 lees ons van al die dinge wat hy deurgemaak het. Hy was ‘n hele paar keer in die tronk. Vyf keer het die Jode hom die gebruiklike straf van nege-en-dertig houe gegee. Hy is een keer met klippe gegooi. Drie keer het hy skipbreuk gely en op ‘n stadium ‘n dag en ‘n nag in die oop see deurgebring. En dis maar net ‘n paar van die swaar dinge wat sy pad gekruis het.

Maar, net soos Job, verloor Paulus nie geloof in die Here nie. Inteendeel, hy skryf in Filippense 4:11 dat hy geleer het om in alle omstandighede tevrede te wees. Toe hy hierdie brief aan die gemeente in Filippi geskryf het, was hy in die tronk. ‘n Mens sou dink dat iemand wat in die tronk is, nie rede het om dankbaar te wees nie. Hy het verseker ook nie veel rede om oor te loop van vreugde nie! Maar hierdie brief van Paulus wemel van verwysings na blydskap of verblyding.

Jy sien, dit was nie Paulus se omstandighede wat hom vreugde verskaf het nie. Sy omstandighede het ook nie bepaal of hy dankbaar was of nie. Nee, hy het sy vreugde in die Here gevind en daarom kon hy altyd vol blydskap wees. Omdat sy vertrou op God en Sy teenwoordigheid in en by hom was, kon hy dankbaarheid ook in die moeilike tye in sy lewe, uitleef.

Ek en jy kan dus by Paulus leer om ook ons vertrou op God alleen te plaas. As ons dít doen, sal ons altyd dankbaar wees, ongeag ons omstandighede.

Ek het vroeër genoem dat dankbaarheid ons nader aan God bring en ons perspektief gee.

Probleme is geneig om ‘n mens se fokus te steel. Dis al waaraan jy dink en wat jy raaksien. Al die ander goeie dinge in jou lewe, vervaag sommer so ‘n bietjie.

Maar wanneer ons kies om dankbaar te wees, dan verander ons perspektief. Ons sien raak dat die probleem nie al is wat daar in ons lewens is nie. Ons raak weer bewus van die goeie dinge wat steeds deel is van ons lewens.

Deur ons dankbaarheid verskuif ons die fokus van die probleem na God. Hy is al wat ons nodig het in hierdie lewe. Hy het die oplossing vir elke probleem. By Hom kry ons vertroosting, bemoediging en wysheid. En die probleem, wat so groot gelyk het toe dit al was waarop ons gefokus het, word in perspektief gesien en raak kleiner in vergelyking met die groot God wat ons dien.

Daar is sommer heelwat dinge wat ‘n mens kan doen om jou te help om dankbaarheid in moeilike tye uit te leef. Hier is drie idees wat jy kan probeer wanneer jy weer ‘n situasie beleef wat vir jou moeilik is.

Maak ‘n punt daarvan om elke dag iets neer te skryf waarvoor jy dankbaar is. Jy kan dit in ‘n ou notaboek doen. Of jy kan ‘n ‘app’ op jou foon aflaai, wat jy daarvoor gebruik. Ek gebruik tans Presently, beskikbaar in Google Playstore, om elke dag drie dinge waarvoor ek dankbaar is, neer te skryf. Jy kan ook hierdie gratis Dankbaarheidsjoernaalbladsy aflaai en gebruik om elke dag dié dinge waarvoor jy dankbaar is, neer te skryf.

Die Bybel is vol beloftes van God. Sommige van dié beloftes was vir spesifieke mense, vir spesifieke tye. Maar daar is baie beloftes wat vir alle mense van alle tye bedoel is.

Maak vir jou ‘n lysie van hierdie beloftes. Sit dan elke dag ‘n tydjie opsy om na te dink oor die beloftes.

Wat belowe die Here? Het jy al voorheen in jou lewe gesien hoe Hy hierdie belofte nakom? As jy nie het nie, vra Hom om daardie belofte ‘n werklikheid in jou lewe te maak. Herinner jouself ook aan al die kere in verlede waar jy gesien het hoe getrou die Here is, en waar Hy van die beloftes in Sy Woord, in jou lewe nagekom het.

Wanneer iemand iets vir jou gedoen het, dan sê jy dankie daarvoor. Wanneer iemand iets vir jou gee, sê jy dankie daarvoor. Dis dan ook presies wat ons teenoor God moet doen om dankbaarheid in moeilike tye uit te leef.

Sit weereens ‘n paar minute per dag opsy en gebruik dit om vir die Here dankie te sê. Sê vir Hom dankie vir Sy liefde, genade en goedheid. Sê vir Hom dankie dat Hy jou Vader is en dat jy aan Hom behoort. Dank Hom vir Sy troue sorg en dat Hy jou elke dag op een of ander manier beskerm. Vat ook sommer jou dankbaarheidslysie, wat jy opgestel het, en sê vir die Here dankie vir al die dinge daarop.

Dis nie maklik om dankbaar te wees wanneer jy swaarkry nie. Maar vir ons as gelowiges is dit moontlik omdat ons ‘n geloofsbesluit kan neem om dankbaar te wees ten spyte van wat om ons aangaan.

Ons dien ‘n groot God, vir wie alles moontlik is. Hy kan die probleme wat ons ervaar in ‘n oogwink oplos. Soms doen Hy dit, soms nie. Maar al los Hy nie die probleem vinnig op nie, kan ons verseker weet daar is ‘n rede daarvoor. Ons verstaan dalk nie die rede nie, maar ons kan Hom vertrou dat Hy besig is met een of ander werk in ons lewens.

Daarom kan ons dankbaarheid ook in moeilike tye bly uitleef omdat ons fokus op God en Sy karakter en getrouheid.

Vandag wil ek jou dus aanmoedig om dankbaar te bly, selfs al raak dinge in die lewe moeilik. Sien dankbaarheid as ‘n manier om God se teenwoordigheid en vrede te ervaar, ongeag jou omstandighede.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *