Onthou jy dat die Israeliete, na hulle uit Egipte getrek het, gekla het dat hulle nog in die woestyn gaan doodgaan van die honger? Die Bybel sê dit was maar twee maande na hulle uit Egipte weg is. Die hele volk het by Moses en Aäron gekla dat hulle liewer maar in Egipte moes doodgaan, want daar het hulle ten minste kos gehad. Volgens hulle het Moses en Aäron hulle die woestyn ingelei sodat hulle almal daar van die honger kon doodgaan.
God hoor hulle gekla en sê in Eksodus 16:4 vir Moses: “Kyk, Ek gaan vir julle brood uit die hemel laat reën; dan moet die volk uitgaan en genoeg vir elke dag bymekaarmaak, sodat Ek hulle kan toets of hulle my wet sal volg of nie.”
Daar is sommer baie wat ons uit hierdie gedeelte kan leer, maar vandag wil ek fokus op die volgende vyf dinge.

DIE BRON.
God sê vir Moses dat Hy brood uit die hemel gaan laat reën.
Die manna, want dis wat die Israeliete dit genoem het, was dus geskenk uit God se hand.
Hy het dit op bonatuurlike wyse vir hulle voorsien en was daarom die Bron daarvan.
DIE INSTRUKSIE.
Verder sê God vir Moses dat die volk moet uitgaan en dit bymekaar maak.
Elke oggend het die manna wit op die aarde gelê. God het dit dus elke oggend voorsien.
Maar dit was die mense se verantwoordelikheid om wat God voorsien het, te gaan optel.
DIE HOEVEELHEID.
God sê ook presies hoeveel die mense op ‘n slag bymekaar moes maak.
In verse 16-18 lees ons dat elkeen soveel moes bymekaar maak as wat daar mense in die gesin of familie was, wat moes eet. Die Bybel sê hulle het ‘n omer per kop opgetel.
As hulle probeer het om van dit vir die volgende dag te bêre, het dit wurms in gekry en begin stink.
HOE GEREELD.
Dan sê God ook hoe gereeld hulle die manna moes gaan bymekaar maak.
Vir ses dae van die week het Hy die manna voorsien.
Vyf dae moes hulle genoeg bymekaar maak om almal wat deel is van hulle gesin of familie, vir daardie dag te voed.
Die sesde dag moes hulle egter dubbeld soveel optel, want op die sewende dag, die Sabbatdag, was daar nie manna op die grond nie.
DIE DOEL.
Laastens sê God vir Moses waarom Hy hierdie hemelse brood vir hulle voorsien.
Daar staan dat Hy hulle wou toets om te sien of hulle aan Hom gehoorsaam sou wees.
Ons lees egter ook in Deuteronomium 8:3 dat God dit gedoen het om hulle te wys die mens leef nie net van brood alleen leef nie, maar van elke woord wat uit God se mond kom.
Hy wou die volk dus leer dat hulle van Hom afhanklik is.
GOD SE WOORD IN JOU LEWE.
Net soos God manna voorsien het om die Israeliete fisies te voed, het Hy die Bybel vir ons gegee om ons geestelik te voed. Alles wat daarin geskryf is, is deur Hom geïnspireer, met ander woorde, Hy is die Bron daarvan.
Maar net soos dit die volk se verantwoordelikheid was om die manna te gaan optel, is dit ons verantwoordelikheid om die Bybel oop te maak en dit te lees en te studeer. Wanneer ons dit doen, voed God ons daarmee. Hy versterk, bemoedig, verkwik, ondersteun en troos ons deur die Woord. Hy gebruik dit om ons geloof te versterk, om leuens wat ons glo met waarheid te vervang, om ons te wys waar ons dinge verkeerd doen en om ons op die regte pad te bring.
Daarom is dit só belangrik dat ons elke dag ‘n punt daarvan maak om tyd in die Woord te spandeer. Dis soos brood uit die hemel wat vir ons wag. Ons moet net kom en dit optel en lees.
As ons dít doen, gaan ons ook leer dat ‘n mens nie net van fisiese brood alleen kan leef nie. Nee, ‘n mens het die woorde van God nodig vir jou geestelike lewe.
Het jy al die gewoonte aangeleer om elke dag tyd met God in die Woord te spandeer?