VANDAG IS GISTER SE MÔRE – ‘N OORDENKING

As ek dieselfde gedagte twee of drie keer deur die dag of in ‘n paar dae se tyd sien of lees, dan moet ek weet die Here is besig om iets vir my te probeer sê.

Ek het verlede week so ‘n ervaring gehad.

Eers lees ek die volgende in ‘n leesplan op die YouVersion app: “Your life is now. Don’t miss it by waiting, or even hoping for then. Today is the future you longed for and worked toward. Reward yourself by honoring the value of now.”

Later lees ek die volgende in die oordenking wat ek in ons daaglikse gebedsbrief plaas: “Baie mense sê die toekoms lyk donker. Is hierdie toekoms oor ‘n week of oor ‘n jaar? Ons beleef tans die toekoms waaroor ons vyf jaar gelede bekommerd was.”

Vandag is gister se môre

Ons leef in ‘n tyd waar daar heeltyd vir ons gesê word dat ons op die toekoms moet fokus.

Ons moet dink oor die toekoms en spaar en belê en so seker maak ons het genoeg geld vir ‘eendag’.

Dan moet ons dink oor die toekoms en seker maak ons is besig om die suksesleer by die werk te klim sodat ons darem eendag ‘iewers’ kan kom.

Ons moet ook dink oor die toekoms en beplan wat ons alles wil doen en bereik en dan daaraan begin werk.

Ons moet dink aan die toekoms en besluit wat ons gaan doen om ons kinders se toekoms te verseker.

Oor en oor hoor ons wat ons vandag moet doen sodat die toekoms beter gaan wees as wat vandag is.

En in sekere gevalle is dit glad nie ‘n slegte idee nie.

Maar ‘n mens kan so gefokus raak op die toekoms, dat die ‘nou’ heeltemal by jou verby gaan.

‘n Pa wat gefokus is op die toekoms van sy kinders, kan so baie ure by die werk spandeer, dat hy hulle kinderlewe heeltemal misloop.

Ons kan so besig wees om geld te spaar vir die toekoms, dat ons nooit iets lekkers as gesin doen nie, want ons moet ‘geld spaar’.

Ons kan besig wees om die suksesleer te klim net om op ‘n dag agter te kom die leer staan teen die verkeerde gebou.

In die Bybel sien ‘n mens die wysheid daarvan om aan die toekoms te dink. God sê byvoorbeeld vir ons dat ons onsself gereed moet maak vir die dag wat Jesus weer gaan terugkeer. Dis iets wat nog in die toekoms lê, so wat dit aan betref, is ons fokus op die toekoms.

Maar ons sien ook die wysheid daarvan om in die hier en nou te leef. Jesus het gesê dat ons as God se kinders mekaar moet liefhê. Dis iets wat ons nou doen. Dis nie ‘n ‘eendag’-ding nie. Maar ons kan die geleentheid om ander lief te hê by ons laat verby gaan as ons te veel fokus op die toekoms.

Daarom moet ons ‘n balans hê tussen ons fokus op die toekoms en ons fokus op nou.

Onthou, vandag is gister se môre.

Doen wat jy moet doen vir jou toekoms – wat dit ookal behels – maar moenie so daarop fokus dat jy die hier en nou misloop nie.

Jou lewe is nou. Waardeer die waarde van nou. Maak die meeste daarvan, want as jou nou verby is, kan jy dit nie weer terug kry nie!

2 thoughts on “VANDAG IS GISTER SE MÔRE – ‘N OORDENKING

  1. Tina Kachelhoffer

    Goeie dag Risa, my naam is Tina ek wil net vir begin deur dankie te sê vir al jou mooi boodskappe elke dag per epos aan my gestuur, en dan wil ek net vir jou ook se hierdie “hier en nou waar van jy praat is so die waarheid ek en my verloofde het net die ander dag daar oor gepraat dat ons teveel stress oor die toekoms maar wat van vandag? wat van nou? ek bedoel ja ons het baie goed om voor te beplan maar as jy nie elke dag ten volle geniet nie wat help dit jy staan in die oggend op? Wie van ons weet of ons môre vir ons bedoel is? Wie van ons weet of ons Kersdag gaan sien so hoekom spaar daarvoor as jy nie weet of jy daar gaan wees nie? So ja ek stem 100% saam met jou op die stuk.

    • Risa Cronje

      Hallo Tina. Ek is bly die boodskappe beteken iets vir jou. Ja, ons kan so bekommerd wees oor die toekoms dat ons heeltemal vergeet van vandag en, soos jy sê, dit glad nie geniet nie. Ek het iemand geken wat altyd gesê het, when you know better, do better. ‘n Mens moet regtig, as jy besef dat die hier en nou net so belangrik, of dalk selfs belangriker is, as die toekoms, begin om elke dag so te leef dat jy die dag geniet en die meeste van elke geleentheid wat daardie dag jou pad kruis, maak. Baie seën vir jou!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *