HOE OM JOU EIE BYBELLEESPLAN SAAM TE STEL

As jy al van die artikels van Nader In Eenvoud gelees het, sal jy weet dat ek gereeld skryf dat ‘n Bybelleesplan jou baie in jou stiltetyd kan help.

Hoekom? Daar is meer as een rede.

Die eerste rede is dat jy met ‘n leesplan nie hoef te wonder waar jy moet lees nie. Jy kyk net wat op jou plan vir die dag staan, en jy lees.

Nog ‘n rede is dat ‘n leesplan jou help om vir ‘n tyd lank te fokus op een spesifieke onderwerp. Jy leer dan soveel meer oor daardie onderwerp omdat jy dit vanuit verskillende hoeke bekyk.

As jy ingeteken is op ons weeklikse nuusbrief, dan kry jy aan die einde van elke maand ‘n Bybelleesplan vir die volgende maand. Jy kan ook die vorige leesplanne, wat jy dalk misgeloop het, in die Bybel Biblioteek gaan soek.

Maar wat nou gemaak as jy iets meer oor ‘n onderwerp wil weet, maar daar is nie ‘n leesplan in die Bybel Biblioteek daaroor beskikbaar nie?

Dan stel jy jou eie Bybelleesplan saam!

Dis glad nie so moeilik as wat jy dink nie. Daar is net drie stappe wat jy hoef te volg.

Hoe om jou eie Bybelleesplan saam te stel

Die eerste stap is om te besluit waaroor jou Bybelleesplan moet gaan.

Is daar iets waarmee jy sukkel? Dalk sukkel jy om vir ander lief te wees. Of dalk is geduld vir jou ‘n probleem. Waarmee jy ookal sukkel, dis ‘n onderwerp wat jy kan gebruik vir jou leesplan.

Miskien is daar iets of iemand waaroor jy meer wil weet. Dalk is die profesieë oor die eindtyd iets waaroor jy meer wil leer. Of dalk was Abraham of Josef of Dawid of Ester nog altyd vir jou ‘n interessante karakter. Dit waaroor jy meer wil weet kan ook ‘n goeie onderwerp vir ‘n leesplan wees.

Maak sommer ‘n lysie van dinge waarmee jy sukkel of waaroor jy meer wil weet. Dan het jy dit later byderhand wanneer jy weer soek na ‘n onderwerp vir ‘n leesplan.

Die volgende stap is om Bybelverse, waarin daar oor jou onderwerp gepraat word, te kry.

Daar is baie webtuistes op die internet beskikbaar, waar jy maklik Bybelverse oor ‘n onderwerp kan naslaan. Biblesa.org, Studylight.org, BibleGateway.com of Biblehub.com is ‘n paar wat jy kan oorweeg. As jy besluit om een van dié webtuistes te gebruik kan jy een van twee dinge doen.

Jy kan die konkordansies, wat beskikbaar is, gebruik en soek na die onderwerp wat jy wil studeer. As jy op die onderwerp kliek, gaan dit vir jou ‘n hele lys verse gee waar daardie woord in voorkom.

Of jy kan in die soek-boksie, wat gewoonlik heel bo-aan die bladsy is, jou onderwerp intik. Dit sal dan ook vir jou ‘n lys van verse waarin die woord voorkom, gee.

Dan is daar natuurlik ‘n derde opsie. Sommige Bybels het ‘n konkordansie agterin, wat jy ook kan gebruik. Ongelukkig bevat hierdie konkordansies gewoonlik nie baie verse waarin ‘n woord voorkom nie, so dis dalk ‘n beter idee om liewer ‘n aanlyn-hulpmiddel te gebruik.

Al wat nou oorbly om te doen, is om ‘n lys te maak van die verse wat jy in jou leesplan wil gebruik.

Jy kan die lysie in jou joernaal of in ‘n notaboek neerskryf. Of jy kan dit in ‘n dokument op jou rekenaar sit en dit uitdruk. Jy kan selfs ‘n nota op jou foon gebruik en jou lysie daar maak.

Dit maak nie regtig saak hoe en waar jy die lysie stoor nie, solank jy dit byderhand het wanneer jy jou Bybel lees.

Die Bybelleesplanne hier op Nader In Eenvoud is gewoonlik 21 dae lank. Jy kan joune ook 21 dae maak. Of jy kan dit 30 of 15 of 40 dae maak. Jy kan selfs, as daar genoeg verse in die Bybel oor ‘n onderwerp is, ‘n hele jaar lank besig bly met dieselfde onderwerp! Kies soveel verse as wat jy voor kans sien en maak jou leesplan dan so lank.

Ek het gesê daar is net drie stappe wat jy moet volg om jou eie Bybelleesplan saam te stel.

En dis waar, maar noudat jy die leesplan het, is daar ‘n vierde stap wat jy moet volg.

Nou moet jy die leesplan wat jy saamgestel het, in jou stiltetyd gebruik!

Onthou dat dit beter is om altyd ‘n vers in konteks te lees, so moenie net die vers waarin jou onderwerp voorkom, lees nie. Lees ook die verse voor en na die vers wat jy op jou lysie neergeskryf het.

Dis ook ‘n goeie idee om dit wat jy leer in ‘n joernaal of notaboek neer te skryf. ‘n Mens onthou dit wat jy neerskryf baie beter. En natuurlik het jy dan ook agterna iets wat jy weer en weer kan lees. Jy kan ook, soos jy later meer oor die onderwerp leer, dit wat jy geleer het byvoeg.

Dit is so belangrik om, verkieslik elke dag, tyd in God se Woord te spandeer. En as jy boonop moeite doen om jou eie Bybelleesplan saam te stel, dan kan dit jou Bybeltyd net soveel lekkerder maak.

So, vandag wil ek jou uitdaag om sommer nou ‘n tydjie opsy te sit en jou eie Bybelleesplan saam te stel. Onthou dan ook om die leesplan in jou stiltetyd te gebruik.

Jy sal beslis nie spyt wees nie, want die Bybel het enige antwoord waarna jy op soek is!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *