Daar is ‘n hele paar dinge wat mense pootjie wanneer dit kom by die lees van hulle Bybels. Een daarvan is dat baie nie weet waar om te begin lees nie.
Die Bybel is ‘n dik boek, wat uit 66 verskillende boeke en briewe bestaan. Dit kan dus nogal oorweldigend raak wanneer jy nog nie regtig voorheen Bybel gelees het nie, en nou graag wil begin.
Maar dit hoef nie moeilik te wees nie, want daar is ‘n hele paar maniere wat jy kan gebruik om die taak van Bybellees aan te pak.
Een van dié maniere is om ‘n Bybelleesplan te gebruik.
VERSKILLENDE BYBELLEESPLANNE.
As jy vir Google vra vir leesplanne vir die Bybel, gaan jy sommer baie verskillendes kry.
Sommige leesplanne gaan oor ‘n spesifieke onderwerp soos liefde, vergifnis, God se genade, ensovoorts. So ‘n leesplan is ‘n goeie keuse as jy wil weet wat die Bybel oor daardie onderwerp sê.
Dan is daar leesplanne wat jou help om deur ‘n seker boek of brief van die Bybel te lees. Dis natuurlik ‘n goeie keuse as jy graag die boek wil deurlees om meer daaroor te leer.
En dan is daar ook leesplanne wat jy kan gebruik om deur ‘n spesifieke hoofstuk in die Bybel te lees. Ons het in September op Nader In Eenvoud se FB-groep deur Psalm 119 gelees. Dis die langste psalm in die Bybel en vat nogal ‘n paar dae as jy dit stukkie vir stukkie wil deurlees.
Daar is ook leesplanne wat jou help om die Bybel in een jaar, drie jaar of vyf jaar deur te lees. Sulke leesplanne begin soms by Genesis en werk deur die Bybel tot by Openbaring. So ‘n leesplan gaan jou help om ‘n breë oorsig oor die Bybel te kry, sodat jy weet wat daar staan en waaroor dit gaan.
Ander leesplanne is weer kronologies. Hierdie leesplanne gaan jou help om die historiese en kulturele konteks van dinge wat in die Bybel gebeur, beter te verstaan.
Soos jy kan sien is daar ‘n Bybelleesplan vir amper enige iets waaraan jy kan dink.
HOE ‘N LEESPLAN WERK.
‘n Bybelleesplan word in die verskillende dae van die maand of jaar opgedeel.
Sommige leesplanne het 21 gedeeltes wat jy vir die maand kan lees. Dit gee jou die kans om, as jy iewers ‘n dag gemis het, op te vang op die dae waar daar nie ‘n gedeelte is wat jy veronderstel is om daardie dag te lees nie.
Ander leesplanne het 30 gedeeltes wat jy deur die maand lees. Met so ‘n leesplan is daar natuurlik nie opvang-tyd nie.
Die leesplanne waar jy die Bybel in ‘n jaar, drie jaar of vyf jaar deurlees, asook die kronologiese leesplanne, het gewoonlik ‘n gedeelte vir elke dag van die jaar. Daar is dus ook nie opvang-tyd in so ‘n leesplan nie.
Maar moenie bekommerd raak as jy ‘n leesplan kies waar daar nie opvang-tyd in die plan ingebou is nie. Die idee is nie dat jy die plan slaafs volg en so vinnig as moontlik daardeur probeer werk nie.
As jy iewers ‘n dag of twee mis, gaan dan net aan waar jy laas opgehou het. En as jy ‘n gedeelte lees wat vir jou interessant is en jy wil ‘n paar dae daarby stilstaan om dit te studeer, dan is dit ook goed so.
‘n Bybelleesplan is daar om jou rigting te gee, sodat jy nie wonder waar jy moet lees wanneer jy stiltetyd hou nie. Jy volg eenvoudig die leesplan.
BYBELEESPLANNE OP NADER IN EENVOUD.
Hier by Nader In Eenvoud is daar ook verskillende leesplanne vir die Bybel beskikbaar wat jy in jou stiltetyd kan gebruik.
Daar is ‘n een jaar, drie jaar en ‘n kronologiese leesplan beskikbaar.
As jy daarin belangstel, vul net jou inligting hieronder in en ek stuur vir jou ‘n skakel na die verskillende leesplanne.
Dan is daar ook leesplanne wat oor verskillende onderwerpe gaan.
Daar is byvoorbeeld een oor wysheid in Spreuke en een oor die gelykenisse van Jesus. Daar is ook een oor die Name van Jesus, een oor vroue in die Bybel en een oor gebed, om maar ‘n paar te noem.
Al hierdie leesplanne vir die Bybel is beskikbaar in Nader In Eenvoud se Bybel Biblioteek.
In die Biblioteek is daar nie net leesplanne beskikbaar nie, maar ook allerhande ander hulpmiddele wat jy in jou stiltetyd kan gebruik.
Jy kan gratis toegang tot die Biblioteek kry deur jou inligting hieronder in te vul.
OKTOBER SE LEESPLAN.
Daar is baie mense wat voel dat God ver van hulle af is.
Maar oral in die Bybel lees ons dat Hy belowe om by ons te wees. Keer op keer kry ons die versekering dat Hy ons nooit sal verlaat nie.
Om ons daaraan te herinner dat Hy wel by ons is, selfs al voel dit dalk nie so nie, gaan ons in Oktober ‘n Bybelleesplan volg wat ons help om dit te onthou.
Ons gaan kyk na verse soos Mattheus 1:22-23. Daar staan: “Sy sal geboorte gee aan ‘n seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.” Dit het alles gebeur sodat wat die Here deur die profeet gesê het, vervul kon word: “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem” – wat, as dit vertaal word, beteken ‘God is met ons’.”
Of wat van dié een in Johannes 14:16: “En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees.”
En dan is daar natuurlik Hebreërs 13:5: “Julle leefwyse moet vry wees van geldgierigheid. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, “Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie”, sodat ons met vertroue kan sê: “Die Here is vir my ‘n helper – ek sal nie bang wees nie. Wat sal ‘n mens aan my doen?””
Hierdie verse is nie deel van ons leesplan vir die maand nie, maar hulle gee jou ‘n idee oor God se beloftes dat Hy altyd by ons is.
LAAI DIE NUWE LEESPLAN NOU AF.
So, teken in op ons nuusbrief deur jou inligting hieronder in te vul sodat jy toegang kan kry tot die Bybel Biblioteek. Laai dan sommer dadelik die Bybelleesplan vir Oktober af sodat jy dit in jou stiltetyd kan begin gebruik.