PSALM 100: ‘N BYBELSTUDIE

Hierdie maand gesels ons oor dankbaarheid. Daar is soveel dinge waarvoor ons elke dag dankbaar kan wees. Dink maar net aan wie God in jou lewe is. Ons kan, en moet, dankbaar wees vir Hom en vir wie Hy is.

Dink ook aan alles wat jy uit Sy hand ontvang. Ook daarvoor moet ons dankbaar wees en vir Hom dankie sê.

En die beste manier om dankbaar te wees en dankie te sê is om God te loof en prys.

Vandag gaan ons ‘n bietjie kyk na Psalm 100, ‘n gedeelte in die Bybel wat gaan oor dankbaarheid en lofprysing. Deur ‘n paar vrae van die teks te vra, gaan ons kyk wat ons daaruit kan leer.

Psalm 100: 'n bybelstudie

PSALM 100:1-5.

Psalm 100 is, naas Psalm 23, seker een van die bekendste psalms in die Bybel.

Om jou geheue te verfris, kom ons lees wat daar staan:

‘n Psalm. Vir lofprysing. Juig tot eer van die Here, o ganse aarde!
Dien die Here met blydskap, kom in sy teenwoordigheid met ‘n gejubel.
Erken dat die Here God is; Hy het ons gemaak; aan Hom behoort ons, sy volk, die kleinvee wat Hy laat wei.
Gaan sy poorte binne met lofprysing, sy voorhowe met ‘n loflied; loof Hom, prys sy Naam.
Want die Here is goed, vir ewig duur sy troue liefde, van geslag tot geslag sy trou.

WAT LEER ONS OOR GOD?

God is goed. Hy is altyd goed. Solank ons dít onthou, sal ons altyd iets hê om voor dankbaar te wees.

God is ook liefde. Sy liefde is onvoorwaardelik, met ander woorde, jy hoef niks te doen sodat Hy jou kan liefhê. Hy het jou lief omdat Hy liefde is. Niks wat jy doen kan ooit Sy liefde vir jou meer of minder maak nie.

Sy liefde is ook ewigdurend. Dit hou nooit op nie. Hy het jou liefgehad voor jy gebore is en Hy sal jou liefhê tot in alle ewigheid. Daar is ook niks wat jou van Sy liefde kan skei nie.

Dan leer ons ook dat God die Skepper van alle dinge is. Daar is niks wat op aarde bestaan wat nie deur Hom geskep is nie. En daarom behoort alles hier op aarde ook aan Hom en is ons net rentmeesters daarvan.

WAT LEER ONS OOR ONSSELF?

God het ons gemaak en ons behoort aan Hom. Elkeen van ons bestaan op hierdie aarde omdat Hy dit so gewil het.

Dis belangrik dat ons, as Sy skepsels, Hom aanbid en loof en prys.

Hoekom?

Want ‘n mens word verander na die beeld van dit wat jy aanbid.

God wil hê dat ons daagliks meer en meer soos Hy word. Fokus dus in jou gebedstyd op Hom. Aanbid Hom, loof en prys Hom, en sê vir Hom dankie vir alles in jou lewe. Op dié manier sal jy al meer na Sy beeld verander word.

WAT LEER ONS OOR DANKBAARHEID EN LOFPRYSING UIT DIE GEDEELTE?

Dankbaarheid en lofprysing is iets wat ons altyd in ons lewens moet doen. Dit maak nie saak wat in ons lewens aan die gebeur is nie, daar is altyd iets om voor dankbaar te wees en God voor te loof en prys.

Ons sien ook dat lofprysing die paslike manier is waarop ons in God se Teenwoordigheid verskyn.

Dink daaroor. Wanneer jy jou gebed met lofprysing en danksegging begin, fokus jy op God. Jy fokus op wie Hy is en wat Hy doen.

Dit help jou onthou dat Hy groter is as enige probleem wat jy het.

Dit herinner jou ook aan die vorige kere wat Hy jou gebede geantwoord het.

En dit versterk jou geloof sodat jy altyd bly glo dat Hy is wie Hy sê Hy is en kan en sal doen wat Hy gesê het Hy sal doen.

HOE KAN EK TOEPAS WAT EK GELEER HET?

In Psalms lees jy die een psalm na die ander waarin die psalmdigter God loof en prys.

Maar dis interessant dat daar net in Psalm 100 genoem word dat dit ‘n psalm vir lofprysing is!

Dit is dus vir ons ‘n voorbeeld van wat ons moet doen wanneer ons in God se Teenwoordigheid verskyn.

Voor jy vir Hom vra vir alles wat jy nodig het, aanbid Hom eers. Loof en prys Hom eers.

Onthou wie Hy is en wat Hy al alles vir jou gedoen het.

Juig tot Sy eer.

Dien Hom met blydskap.

Sing lofliedere vir Hom en prys Sy Naam.

Erken Sy grootheid en almag.

Hoekom?

Want Hy is goed en altyd getrou en Sy troue liefde duur vir ewig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *