GOD DINK AAN JOU

Het jy geweet God dink aan jou? Nie elke nou en dan nie, maar aanhoudend.

Elke gedagte wat Hy oor jou dink, is ‘n liefdevolle, goeie gedagte.

Ongelukkig is die gedagtes wat ons oor onsself dink, nie altyd sulke goeie en liefdevolle gedagtes nie.

Dit is nou maar so dat ‘n mens geneig is om jouself met ander te vergelyk. En dan dink meeste mense nou nie juis mooi dinge oor hulleself nie.

Juis daarom moet ons weet wat God van ons en oor ons dink, sodat ons ons gedagtes kan vernuwe. Ons moet die dinge wat Hy oor en van ons dink vat, en dit ook oor en van onsself begin dink en sê.

God dink aan jou

GOD DINK HEELTYD AAN JOU.

Ek het hierbo geskryf dat God nie net soms aan ons dink nie, maar heeltyd.

In Psalm 40:6 lees ons: “Here my God, U het wonderlike dinge gedoen; U dink altyd aan ons; daar is niemand soos U nie. Ek sou daarvan wou vertel en daaroor praat, maar dit is te veel om op te noem” (1983-vertaling).

Daardie woordjie ‘altyd’ is baie belangrik.

Volgens die HAT-woordeboek beteken dit ‘gedurig, sonder ophou’.

Jy kan dus van vandag af elke dag onthou dat God sonder ophou, gedurig, aanhoudend, altyd aan jou dink!

GOD BEPLAN GOEIE DINGE VIR JOU.

Jeremia 29 is brief wat die profeet Jeremia geskryf het vir die Israeliete wat in Babel in ballingskap was. In vers 11 verduidelik die Here dat Hy net goeie dinge vir hulle beplan.

“Ja, Ek ken die planne wat Ek vir julle het,” is die uitspraak van die Here. “Dit is planne van voorspoed, en nie teenspoed nie, om aan julle ‘n toekoms en hoop te gee” (2020-Vertaling).

Hoewel hierdie vers aanvanklik vir die Israeliete geskryf is, is dit presies wat God vir ons ook beplan. Om die waarheid te sê, in Jesus het ons reeds al hierdie dinge!

In Hom het ons klaar hoop en ook ‘n toekoms.

Dan het God boonop klaar vir ons die goeie werke, wat ons nou moet doen, voorberei.

“Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef” (Efesiërs 2:10. 2020-vertaling).

As ons Sy leiding volg en hierdie goeie werke doen met die krag wat die Heilige Gees vir ons gee, sal dit goed afloop en ons sal sukses behaal.

GOD DINK AAN JOU WANNEER JY SWAAR KRY.

Wanneer dinge moeilik raak in die lewe, begin baie mense dink dat God nie meer vir hulle omgee nie. Hulle dink Hy het van hulle vergeet en dat Hy nie weet hulle kry swaar nie.

Maar in Psalm 40:18 lees ons: “Ek is hulpeloos en arm, maar die Here dink aan my. U is my hulp en my redder, my God, moet tog nie talm nie!” (1983-Vertaling).

Sien jy dit?

Dawid (dis hy wat Psalm 40 geskryf het) kry swaar, maar hy verloor nie moed nie, want hy weet die Here dink aan hom. Dan sê hy dat God Sy hulp en redder is en wys op dié manier dat hy God vertrou om hom uit sy moeilikheid te help.

Net soos God aan Dawid gedink het toe hy probleme gehad het, dink Hy ook aan jou wanneer dinge in jou lewe skeefloop.

En Hy wil vir jou ‘n hulp en ‘n redder wees. Jy kan Hom dus vertrou om jou te help om jou probleme te oorwin.

GOD WEET ALLES VAN JOU AF.

Een van God se karaktertrekke wat vir my absoluut wonderlik is, is dat Hy alwetend is. Dit beteken Hy weet alles.

God ken jou beter as wat jy jouself ken.

Hy weet nou al wat oor 6 of 15 of 48 jaar van nou af in jou lewe gaan gebeur.

Hy weet wat jy dink en hoe jy voel (Psalm 139:2). En Hy weet wat jy gaan sê nog voor jy daaraan dink om jou mond oop te maak (Psalm 139:4).

Hy weet selfs hoeveel hare daar op jou kop is (Lukas 12:7)!

Niks omtrent jou is vir Hom ‘n verrassing nie.

En Hy het jou baie lief.

GOD SE GEDAGTES OOR JOU.

God dink aan jou. Dis iets wat jy nooit moet vergeet nie.

Jy moet dit onthou wanneer dit goed gaan en ook wanneer dinge nie so rooskleurig lyk nie.

Die gedagtes wat Hy oor jou dink is altyd goed, want Hy beplan net goeie dinge vir jou.

Hy het jou lief met ‘n liefde wat nooit gaan ophou nie, en daarom is die gedagtes wat Hy oor jou dink altyd liefdevolle gedagtes.

En, net vir oulaas, nog een vers oor God se gedagtes: “En vir my, hoe kosbaar is u gedagtes, o God – hoe oorweldigend is die volle getal daarvan! As ek dit tel, is dit meer as die sand. Word ek wakker, dan is ek steeds by U” (Psalm 139:17-18. 2020-vertaling).

Onthou, God dink aan jou elke oomblik van elke dag. Hy sal nooit van jou vergeet nie, want jy is altyd in Sy gedagtes!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *