Dit maak nie saak of jy op die berge of in die valleie is nie, Jesus is altyd by jou. Vertrou op Hom om jou deur die valleie te bring.
In ons kleintyd het ons ‘n gesang gesing: Op berge en in dale, en oral is my God!
Onthou jy dit nog?
Dit het vertel hoe God oral en altyd by ons is, maak nie saak waar ons ons bevind nie.
BERGE EN VALLEIE.
Ons weet almal dat die lewe besaai is met berge en dale, of valleie.
Die berge is die ervaringe in die lewe wat ons geniet. Dit is die tye wat ons God baie naby ons ervaar en Sy hand baie duidelik in ons lewens sien. Kruinervaringe is wonderlik, maar ons hou nie so baie van die valleie nie.
Ons bevind ons in die vallei wanneer dinge swaar gaan en die duiwel jou van alle kante aanval. In die vallei maak hy jou wys dat God jou nie liefhet nie en nie by jou is nie.
In die vallei sien jy ook nie die hand van God so maklik raak nie, wat dit nóg makliker maak om die leuens van die vyand te glo.
ELKE VALLEI IS ANDERS.
Jy sien, dit is maklik om God te vertrou wanneer jy op die kruin is, maar in die vallei is dit ‘n ander saak.
Deel van die probleem is dat elke vallei anders lyk. As jy op die kruin van ‘n berg staan, en jy kan afkyk na al die kante, sal jy sien die valleie lyk nie dieselfde nie.
Aan die een kant is daar dalk ‘n bos met donker bome wat lyk of die sonlig nie eers deur die blare kan skyn nie. Aan die ander kant is daar dalk ‘n rivier, en nog ‘n kant het nie veel meer as grasvelde nie.
VALLEIE VAN DIE LEWE.
In die lewe lyk ons valleie ook nooit dieselfde nie.
Vandag gaan jy deur ‘n finansiële vallei. Die bome is dreigend om jou en waar jy nog ‘n klein bietjie sonlig kan sien, maak dit skaduwees wat jou hare laat rys. Jy weet nie hoe jy deur die vallei gaan kom nie, maar op ‘n dag sien jy dat jy veilig aan die anderkant uitstap.
Jy besef God was al die tyd by jou en het jou deur die vallei gehelp en jy het veilig anderkant uitgekom. En jy sien ook nou die skaduwees wat daar was, is net dít – skaduwees. Hulle kon jou niks maak nie.
En sou dit gebeur dat jy ooit weer deur so ‘n vallei moet gaan, het jy nou geleer dat jy God kan vertrou, en die vallei met sy skaduwees is die volgende keer nie naastenby so skrikwekkend soos die eerste keer nie.
DIE DUIWEL SE STRATEGIE.
Maar jou volgende vallei is toe nie ‘n finansiële een nie, maar een waar jou gesondheid aangeval word.
Nou kom die duiwel en fluister in jou oor dat jy dalk nie hierdie keer vir God kan vertrou nie. Hy was nou wel by jou in die finansiële vallei, en Hy het jou ook gehelp om veilig aan die ander kant uit te kom, maar dalk is Hy nie saam met jou in hiérdie vallei nie.
Dalk het Hy aan die voet van die berg, of selfs op die kruin agtergebly en nou is jy alleen in die vallei. En net dalk is dit wat jy sien nie net skaduwees, soos die vorige keer nie, maar regte goed wat jou kan seermaak.
Dit is wanneer die vallei onbekend en dreigend is, en jy nie die pad vorentoe kan sien nie, wat jy moet jy vashou aan die Here. Dit is wanneer jy moet vertrou dat Hy by jou is selfs al sien en voel jy Hom nie.
HOU VAS AAN SY BELOFTES.
In die onbekende vallei moet jy styf vashou aan Sy beloftes. Jy moet elke dag tyd in die Woord spandeer om jou geloof daarmee te versterk.
Ook moet jy alles in die stryd werp om die goeie stryd van die geloof te stry en te bly glo dat Hy jou ook deur hierdie vallei sal help.
Jy moet oortuig wees daarvan dat niks jou van Sy liefde kan skei nie, en dat Hy belowe het om jou nooit te verlaat nie. Jy moet glo dat Hy jou hand vashou en jou deur die vallei lei.
En as jy jou weer kom kry, stap jy uit aan die ander kant, en is jy weer aan die voet van nog ‘n berg, gereed om op te klim na die kruin waar dinge weer heel anders lyk as in die valleie.
LEES OOK: 15 BELOFTES VIR MOEILIKE DAE
VERTROU GOD IN ELKE VALLEI.
Elke vallei wat oor ons pad kom, lyk anders. En in elke vallei moet ons leer dat God ook daar vertrou kan word. Ons moet leer dat Hy oral dieselfde is – of ons nou op die kruin of in die vallei is.
Ons moet leer om ons oë op Hom gerig te hou, en tree vir tree die pad saam met Hom stap, wetend dat Hy ons veilig deur die vallei sal bring.
Met vertrou dal ons aan die ankerkant kan sê: “Die Here was by my. Hy is getrou. Ek weet nou dat hierdie vallei nie so skrikwekkend is as wat ek gedink het nie, want God is by my. En as ek ooit weer deur ‘n soortgelyke vallei moet gaan, weet ek dat ek Hom kan vertrou om my veilig deur te bring.”
Daar is aanhoudend nuwe valleie op jou pad, wat jy nog nie voorheen deur moes loop nie. Maar God is by jou in elkeen.
Jy hoef nie bang te wees vir die vreemde vallei nie, want jy het Sy getrouheid in die vorige valleie ervaar, en Hy sal jou nooit in die steek laat nie.
Hy is by jou in elke vallei wat jou pad kruis.
Bid asb dat my seun , Peter, eendag n goeie christening vrou sal vind..