GLASBALLE: GEE AANDAG HIERAAN IN 2022

Daar is sekere aspekte van ‘n mens se lewe wat belangriker is as ander. Hierdie dinge is soos glasballe wat, as jy dit laat val, gaan breek. Daarom is dit belangrik om seker te maak jy gee genoeg, en die regte, aandag daaraan.

Hier is iets wat jy nie van my geweet het nie. Ek het, net na ek studeer het, vir ‘n hele paar jaar kindervermaak gedoen.

Ek en my pa het as narre opgetree by skoue, skole, kinderpartytjies, ensovoorts. En as jy my mooi vra, kan ek vir jou sê wat die geheim is van ‘n hele paar van die kulkunsies wat kunstenaars gewoonlik doen.

Daar is egter een toertjie wat ek nie kan doen nie. En dit is om te ‘juggle’. Dis nou waar ‘n kunstenaar ‘n klompie balle in die lug hou sonder om een te laat val.

Ek moet erken dat ek nooit regtig probeer het om die toertjie baas te raak nie. So geen wonder ek kan dit nie doen nie!

Maar het jy geweet dat ons almal, ongeag wie ons, almal elke dag besig is om daardie einste toertjie in ons lewens te doen?

Die glasballe in jou lewe

DIE GLASBALLE IN JOU LEWE.

Jy sien, ons het almal ‘n verskeidenheid balle wat ons in die lug moet hou. Dis nou die verskillende gebiede in die lewe waaraan ons moet aandag gee.

Sommige van dié balle is glasballe, waaraan jy elke dag moet aandag gee. As jy dit nié doen nie, kan die bal val. En as dit eers geval het, kan jy dit baie keer nie regmaak of terugkry nie.

Ander balle is rubberballe. Hoewel hulle ook belangrik is, is dit nie so ‘n groot probleem as jy een laat val nie. Jy kan dit weer terugkry of regmaak.

Daar is ses areas in ‘n mens se lewe wat beskou kan word as glasballe. In hierdie video kyk ons na daardie ses balle.

AKSIESTAPPE VIR ELKE GLASBAL.

Jy weet nou aan watter dele van jou lewe jy elke dag moet aandag gee. Nou is dit belangrik om te beplan hoe jy dit gaan regkry.

Elkeen van ons se aksiestappe gaan anders wees omdat ons almal in ander situasies is. As jy nie getroud is nie, hoef jy nie te werk aan ‘n huwelik nie. Of dalk het jy nie kinders nie en hoef dus ook nie aan ‘n verhouding met kinders te werk nie.

Dink ‘n bietjie oor die ses glasballe waaroor ons gepraat het. Skryf neer watter van daardie balle op jou van toepassing is. En skryf dan neer watter aksiestappe jy gaan neem om te sorg dat jy elke dag aan elke bal aandag gee.

Om jou so ‘n bietjie te help, gaan ons vir die volgende paar weke kyk na twee van hierdie balle – jou geloof en jou verhoudings.

Ons gaan kyk wat jy kan doen om ‘n plan van aksie uit te werk om elke dag tyd aan jou geloof te spandeer. En dan gaan ons kyk na verskillende aksiestappe wat jy in jou verhoudings kan neem.

Maar tot ons daarby kom, dink so ‘n bietjie oor die ander glasballe en wat jy kan doen om elke dag tyd daaraan te spandeer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *