Gebruik jou gesin ‘n Adventskrans? Gebruik hierdie Bybelverse tydens Advent wanneer julle die verskillende kerse in die krans aansteek.
Volgens die Kerkkalender begin Advent op die Sondag naaste aan die 30ste November. Dit dek die vier weke voor Kersfees en is ‘n tyd waartydens gelowiges hulle harte voorberei om Jesus se koms te vier. In sommige gemeentes word daar tydens hierdie vier weke elke Sondag ‘n ander kers aangesteek om ons te herinner aan dinge soos hoop, vrede, vreugde, liefde en Christus Self. Soms is dié kerse deel van ‘n Adventskrans. Daar word gewoonlik ook Bybelverse gelees wanneer die verskillende kerse aangesteek word.
Hierdie is nie ‘n gebruik wat ons in die Bybel kry nie, maar dit is ‘n goeie manier om ons harte voor te berei om Kersfees om die regte rede te vier. As jy in ‘n gemeente is wat nie hierdie gebruik volg nie, kan jy dit sommer saam met jou gesin daar by die huis steeds doen. In hierdie week se video gesels ons ‘n bietjie oor die Adventskrans en ook oor die verskillende kerse en wat hulle simboliseer. So, kyk gerus daarna as jy meer wil weet. Hieronder is dan ook die Bybelverse wat jy kan gebruik as jy en jou gesin tydens Advent hierdie gebruik wil volg.
HOOP.
Die eerste week van Advent word die Hoopkers, ook bekend as Profesie-kers, aangesteek. Hierdie kers herinner ons daaraan dat ons ons harte moet voorberei vir Jesus se koms. Dit simboliseer die hoop en verwagting vir die koms van die Messias. Dit herinner ons ook aan die profesieë oor Jesus se geboorte en hoe God se mense daarop gewag het.
GENESIS 3:14-15.
En die Here God sê vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die diere. Op jou maag sal jy seil en stof sal jy eet, jou lewe lank. Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”
JESAJA 7:14.
Daarom sal die Here self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem.
JESAJA 9:2.
U het dié wat nie meer ‘n nasie was nie, baie gemaak, hulle blydskap groot gemaak. Hulle het hulle in u teenwoordigheid verbly soos mense bly is in die oestyd, soos hulle juig wanneer hulle die buit verdeel.
JESAJA 11:1-10.
‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here. Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie en nie oordeel volgens hoorsê nie. Hy sal die armes billik verhoor en die ootmoediges in die land regverdig oordeel. Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel, met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring. Hy sal regverdig en betroubaar regeer. Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg. Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange. Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is. In dié tyd sal iemand uit die geslag van Isai ‘n vaandel wees vir die volke. Die nasies sal na hom vra, en sy woonplek sal hoë aansien geniet.

VREDE.
Die tweede week van Advent word die Vredekers, ook bekend as Betlehemkers, aangesteek. Dié kers simboliseer die vrede wat Jesus in ons harte gebring het. Dit herinner ons aan die alles wat God gedoen het om te sorg dat Josef en Maria op die regte tyd in Betlehem is. Dit herinner ons ook aan die eenvoudige en nederige omstandighede van Jesus se geboorte.
JESAJA 9:5-6.
Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.
LUKAS 1:5-2:52.
In daardie tyd het keiser Augustus ‘n bevel uitgevaardig dat ‘n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe. Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
(Ek haal net Lukas 2:1-7 aan.)
VREUGDE.
Die derde week van Advent word die Vreugdekers, ook bekend as Herderskers, aangesteek. Hierdie kers is gewoonlik pienk en simboliseer die fokus wat skuif van belydenis na die vreugde van die Messias wat aan die kom was. Dit herinner ons aan die vreugde wat die herders se harte gevul het toe die engele hulle van Jesus se geboorte vertel het.
JESAJA 65:18.
Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep: Ek gaan ‘n Jerusalem skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal vreugde hê.
KOLOSSENSE 1:19-20.
God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.
JOHANNES 3:16-17.
God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.
LIEFDE.
Die vierde week van Advent word die Liefdeskers, ook bekend as Engelkers, aangesteek. Dié kers verteenwoordig die liefde wat God aan ons bewys het toe Hy Sy Seun na die wêreld toe gestuur het. Dit herinner ons aan die pragtige boodskap wat die engele vir die herders gebring het.
JOHANNES 13:34-35.
Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
1 JOHANNES 4:9-16.
Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God. En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.
CHRISTUS.
Op Oukersaand word die Christuskers aangesteek. Hierdie kers, ‘n witte, is gewoonlik in die middel van die Adentskrans. Die kers verteenwoordig Jesus, die Lig van die wêreld. Die Christuskers herinner ons daaraan dat die hoop, vrede, vreugde en liefde, wat die ander kerse in die Adverntskrans verteenwoordig, in Jesus vervul is.
JOHANNES 1:1-5.
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
JOHANNES 9-14.
Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.
MATTHEUS 2:22-23.
Toe hy egter verneem dat Argelaos in die plek van sy vader Herodes oor Judea regeer, was Josef bang om daarheen te gaan. Nadat God hom in ‘n droom ‘n aanwysing gegee het, is hy na die landstreek Galilea toe. Daar aangekom, het hy gaan woon in ‘n dorp met die naam Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is: Hy sal Nasarener genoem word.
Ek hoop dat hierdie verse jou gaan help om jou hart voor te berei vir Kersfees. Onthou dat jy dit kan gebruik saam met die verskillende kerse wat elke Sondag aangesteek word. Maar jy kan ook net die verse gebruik en die kerse ignoreer as jy nie gemaklik is daarmee nie. Dis in elk geval die Woord van God wat ons harte voorberei. Kom ons laat Hom dus toe om ons te herinner aan die hoop, vrede, vreugde en liefde wat ons het in ons Here Jesus Christus!