HOE OM AAN JOU HUWELIK TE WERK

Baie mense besef dit nie, maar die huwelik is ‘n instelling wat God uitgedink het. Onthou jy die eerste mense wat deur God geskep is? Hy het hulle as man en vrou geskep en hulle toe vir mekaar gegee as huweliksmaats.

En, anders as wat romanskrywers en draaiboekskrywers wil hê ons moet glo, is ‘n goeie huwelik nie iets wat maar outomaties gebeur nie. Die twee huweliksmaats moet aan hulle huwelik werk om dit te laat groei en dit te versterk.

Is jy getroud en wil jy graag jou huwelik laat groei? Hier is vir jou sommer agt dinge wat jy kan doen om jou daarmee te help.

Hoe om aan jou huwelik te werk

PLAAS GOD EERSTE.

Niks in die lewe werk reg as ‘n mens God uit dit laat nie. En dit werk ook nie as jy Hom inlaat maar Hy is net iewers op die agtergrond nie.

Die beste plek om te begin om jou huwelik te laat groei en versterk is om te begin by jou verhouding met God.

Alle verhoudings vra dat mens tyd met die ander persoon spandeer. Dis ook nie anders met jou verhouding met God nie. Werk aan jou verhouding met Hom deur tyd met Hom in Sy Woord en in gebed te spandeer. Gaan gereeld kerk toe en sluit aan by ‘n Bybelstudie- of selgroep.

Terwyl jy tyd met Hom spandeer, gaan Hy jou baie dinge leer. Moenie vergeet om wat jy leer dan in jou lewe toe te pas deur gehoorsaam te wees nie.

BID VIR JOU HUWELIK EN JOU HUWELIKSMAAT.

Gebed het groot krag. Dit kan mense en situasies verander.

Maak dus ‘n punt daarvan om elke dag vir jou huweliksmaat en julle huwelik te bid.

Jy kan oor enige iets in julle huwelik bid, maar die belangrikste is om te bid vir jou huweliksmaat se verhouding met God.

Dis ook ‘n goeie idee om ‘n lys te maak van dinge wat jy wil hê God in jou, in jou maat en in julle huwelik moet verander. Bid dan gereeld daaroor en vra Hom om verandering te bring.

LUISTER NA JOU HUWELIKSMAAT.

Het jy al agtergekom dat baie mense wat getroud is nie regtig vreeslik met mekaar kommunikeer nie? Of as hulle kommunikeer, is dit oor die onbelangrike dinge in die lewe.

Leer om met jou maat te praat oor dinge wat belangrik is. En, as julle gesels, luister. Moenie toelaat dat iets jou aandag aftrek van wat jou maat sê nie. Vergeet van die selfoon, die TV en die kinders wat raas. Fokus op jou maat en wat hy of sy vir jou sê.

Vra vrae as jy agterkom dat jy iewers nie so lekker verstaan nie. Laat ook jou maat toe om te praat sonder om hom of haar te onderbreek. Daar is min dinge wat kommunikasie so in die wiele ry soos iemand wat heeltyd onderbreek sonder om regtig te luister.

WEES GEDULDIG.

Dit is nou maar eenmaal so dat dinge nie altyd uitwerk soos jy wil hê nie. Maar as jy kies om geduldig te wees met jou maat, bring jy ‘n gevoel van kalmte in die situasie.

Om geduldig te wees beteken jy neem beheer oor jou emosies. Jy laat nie toe dat hulle met jou weghardloop en jou beheer nie.

Dis nie altyd maklik nie, maar as kind van God het jy die Heilige Gees in jou. Neem jy net die besluit om geduldig te wees en die Heilige Gees sal jou help om dit reg te kry.

WEES ALTYD VRIENDELIK.

‘n Vriendelike persoon doen twee dinge. Hy is altyd op soek na maniere waarop hy tot seën vir ander kan wees. En hy is ook altyd op die uitkyk vir geleenthede waar hy in ander se behoeftes kan voorsien.

Wees vriendelik teenoor jou huweliksmaat deur die twee dinge hierbo te doen. Soek na maniere waarop jy haar kan seën en in haar behoeftes kan voorsien. Vergeet so ‘n bietjie van jouself.

Moenie wag dat sy jou vra om te help nie, bied aan om te help.

Moet ook nie verwag dat sy iets vir jou terug doen nie. ‘n Mens is so geneig om te redeneer, “Maar ek het jou nou gehelp, nou moet jy my help.” Moet dit nie doen nie.

Wees tot seën vir jou huweliksmaat en voorsien in sy of haar behoeftes sonder om iets terug te verwag.

WEES DANKBAAR.

Ek weet nie van jou nie, maar ek ontdek elke kort-kort nog iets in my man waarvoor ek dankbaar is. Soms is dit iets wat deel is van sy persoonlikheid. Ander kere is dit iets wat hy vir my sê of vir my doen wat ek waardeer.

Dis belangrik dat ‘n mens, wanneer jy hierdie dinge raaksien, vir jou maat dankie sê daarvoor.

So maak ‘n lysie van dinge wat jy waardeer in jou huweliksmaat en sê vir hom of haar dankie daarvoor. Kies elke dag ‘n ander een en stuur ‘n Whatsapp of skryf ‘n briefie of e-pos waarin jy dankie sê. Op dié manier kan jou maat dit weer en weer lees.

Fokus op die dinge wat jou huweliksmaat reg doen in plaas van op die dinge wat jou vies maak en irriteer.

MOENIE KWAAD GAAN SLAAP NIE.

Dis menslik om kwaad te word, maar om kwaad te wees verander nooit regtig dinge nie. Om die waarheid te sê, in baie gevalle kan dit dinge erger maak.

As jy kwaad word, moenie toelaat dat jou woede jou gedrag of jou woorde beheer nie. Dis beter om liewer niks te sê nie as om agterna spyt te wees oor wat jy gesê of gedoen het. Jy kan dit in elk geval nie ongedaan maak nie, so wees versigtig met wat jy sê en doen wanneer jy kwaad is.

Moet ook nie kwaad bly nie. Om kwaad te bly gee vir die duiwel ‘n gaping om in te kom in jou lewe en huwelik. Die Here waarsku ons dan ook daarteen in Efesiërs 4:26-27: “Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie. Moenie vir die Duiwel plek gee nie.”

Wanneer jy dus kwaad word, laat dit gou gaan en doen punt nommer 8 hieronder.

WEES ALTYD BEREID OM TE VERGEWE.

Ons maak almal foute. Wanneer jou huweliksmaat iets doen wat nie reg is nie, vergewe hom of haar. Laat dit dan gaan en moet nooit weer daaroor praat nie.

As jy sukkel hiermee, onthou wat God vir jou gedoen het. Hy vergewe jou elke keer wat jy iets verkeer doen. En Hy herinner jou nie aanhoudend aan jou foute nie.

As jou huweliksmaat ‘n fout gemaak het wat julle huwelik kan vernietig, bring dit na God. Vra Hom om jou te help om dit te verwerk en jou te wys wat jy aan die saak moet doen. Wees dan gehoorsaam en doen wat Hy vir jou sê.

En selfs al gebeur dit dat julle om een of ander rede skei, wees steeds bereid om te vergewe. Vertrou ook die Here om jou daarmee te help.

BOU JOU HUWELIK OP DIE WOORD.

Jy kan hierdie seker as die negende wenk sien, hoewel ek net beplan het om oor agt te skryf.

God het vir ons Sy Woord gegee om ons, onder andere, te leer hoe ons die lewe op Sý manier te leef.

Maak dus ‘n punt daarvan om dit wat jy in die Woord leer oor die huwelik in joune toe te pas. Pas ook toe wat jy leer oor hoe jy ander mense moet behandel.

En as jy met ‘n spesifieke huweliksprobleem sit wat opgelos moet word, vra die Here om jou te wys wat jy moet doen.

Pas toe wat die Here jou leer uit Sy Woord en jy sal sien hoe jou huwelik verander van swak of middelmagtig tot ‘n sterk huwelik wat God verheerlik.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *