HOE OM JOU LEWE TE BOU OP DIE WOORD

Het jy geweet God wil hê dat jou lewe ‘n sukses moet wees? Ja, dis waar! Juis daarom het Hy vir ons die Bybel, wat vol beloftes, beginsels, opdragte, ensovoorts is, om ons daarmee te help. Want as ons ons lewens bou op die Woord, dan kan dit nie anders as om suksesvol te wees nie!

In die vorige artikel het ons gekyk na verse waarop ons ons verhouding met God kan bou. Ons het ook gekyk na verse wat ons kan gebruik om ons huwelik op te bou. En dan het ons gekyk na verse wat ons wys hoe ons onsself moet sien.

In hierdie artikel gaan ons kyk na nog areas in ons lewens waar ons moet bou op die Woord.

Hoe om jou lewe te bou op die Woord

BOU OP DIE WOORD WANNEER JY KINDERS GROOTMAAK.

God is die beste Vader wat enige mens kan hê. En daarom kan ons Hom vertrou dat Hy weet hoe om kinders reg groot te maak! Bou op die Woord wanneer jy jou kinders grootmaak, sodat hulle lewens ook suksesvol kan wees.

Deuteronomium 6:6-7: “En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.”

Spreuke 13:24: “Wie sy lat terughou, haat sy seun, maar wie hom liefhet, hou hom in die oog vir straf.”

Spreuke 22:6: “Rig die jongmens af ooreenkomstig die pad wat hy moet loop; selfs wanneer hy oud geword het, sal hy nie daarvan afwyk nie.”

Efesiërs 6:4: “En vaders: Moenie julle kinders uittart nie, maar voed hulle op deur die dissipline en teregwysing van die Here.”

Kolossense 3:20-21: “Kinders, julle moet julle ouers in alle opsigte gehoorsaam, omdat dit vir die Here aanneemlik is. Vaders, julle moenie julle kinders treiter, sodat hulle moedeloos word nie.”

1 Timotheus 3:4-5: “Hy moet met volkome waardigheid sy eie huishouding goed bestuur en sy kinders onderdanig hou. Maar as iemand sy eie huishouding nie behoorlik kan bestuur nie, hoe sal hy na die gemeente van God kan omsien?”

Nie alle verse in die Bybel lyk of dit te doen het met kinders grootmaak nie, maar die hele Skrif het waarde om ons te leer en te onderrig. Daarom is dit belangrik om ons kinders te leer wat in die Bybel staan. Ons moet hulle ook aanmoedig om hulle eie lewens te bou op die Woord.

WAT GOD Sê OOR ONS FINANSIES.

God het nogal heelwat te sê oor finansies. Hier is ‘n paar verse wat jy kan gebruik om jou finansies te bou op die Woord.

Maleagi 3:10: “‘Bring die volle tiende na die voorraadkamer sodat daar voedsel in my huis kan wees. Toets My hierin,’ sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak en oorvloedige seën oor julle sal uitstort nie.'”

Romeine 13:8: “Wees aan niemand iets verskuldig nie, behalwe die verpligting om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, het die wet vervul.”

1 Timotheus 6:6-10: “Wat wel ‘n groot wins is, is godvresendheid wat met tevredenheid gepaardgaan. Ons het immers niks in die wêreld ingebring nie, en ons kan niks
daaruit wegneem nie; maar as ons kos en klere het, laat ons daarmee tevrede wees. Wie ryk wil wees, val in versoeking en ‘n strik, en baie dwase en skadelike begeertes wat mense meesleur na ondergang en vernietiging. Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof, en hulle het hulleself met baie smarte deurboor.”

1 Timotheus 6:17-19: “Beveel die rykes in die huidige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie, en nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom te vestig nie, maar op God, wat alle dinge in oorvloed aan ons gee om te geniet. Beveel hulle om eerder goed te doen, ryk aan goeie dade, vrygewig en mededeelsaam te wees, om sodoende vir hulleself ‘n skat op te bou as goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe kan verkry.”

As ons ons finansies bou op die Woord, gaan ons altyd genoeg hê om in ons eie behoeftes te voorsien, om God se Koninkryk te ondersteun en ander te help.

GOD SE WOORD OOR WERK.

Die volgende area van ons lewens waarna ons gaan kyk, is wat God se Woord sê oor werk.

Kolossense 3:23: “Wat julle ook al doen, werk met geesdrif, soos vir die Here, en nie soos vir mense nie…”

Spreuke 14:23: “In alle harde werk is daar voordeel, maar ‘n blote gepraat lei net tot gebrek.”

1 Timotheus 5:8: “Maar as iemand nie na sy eie mense omsien nie, en veral nie na sy huisgenote nie, het hy die geloof verloën, en is hy slegter as ‘n ongelowige.”

1 Thessalonisense 4:10b-12: “Maar ons moedig julle aan, broers, om dit nog meer te doen, en dit vir julle ‘n saak van eer te maak om rustig te wees, julle met julle eie sake te bemoei, en met julle eie hande te werk, soos ons julle opdrag gegee het. Sodoende sal julle eerbaar kan leef in die oë van die buitestanders en van niemand afhanklik wees nie.”

2 Thessalonisense 3:10-12: “Want juis toe ons by julle was, het ons julle steeds beveel dat iemand wat nie wil werk nie, ook nie behoort te eet nie. Want ons het gehoor dat sommige van julle onordelik optree, en nie wil werk nie, maar oral inmeng. Ons raai sulke mense aan, ja, deur die Here Jesus Christus spoor ons hulle aan, om hulle dagtaak kalm te verrig, en so hulle eie brood te verdien.”

Spreuke 18:9: “Ook hy wat sloer in sy dagtaak is die broer van ‘n opperste verwoester.”

God verwag van Sy kinders om hard te werk en dit met geesdrif te doen. Ons moenie lui wees en heeldag sit en niks doen nie.

JOU VERHOUDING MET ANDERE.

Die laaste area wat ‘n mens verseker moet bou op die Woord, is ons verhoudinge met ander mense.

Mattheus 7:12: “Alles wat julle dan wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook julle net so aan hulle; want dit is die kern van die Wet en die Profete.”

Johannes 13:34-35: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.”

Efesiërs 4:31-32: “Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad. Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het.”

Filippense 2:3-4: “…deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself; deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.”

Romeine 12:17-20: “Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: ‘Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld,’ sê die Here. Maar: ‘As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink. Deur dit te doen, stapel jy vurige kole op sy hoof.'”

Wanneer ons ons verhoudinge met ander bou op die Woord, en hulle liefhet en eerste stel, dan weet almal ons is Jesus se dissipels.

BOU OP DIE WOORD.

God se Woord het iets te sê oor elke gedeelte van ons lewens. Wanneer ons weet wat die Woord sê, kan ons dit in ons lewens toepas en so bou op die Woord.

Watter gedeelte van jou lewe is op dié stadium vir jou ‘n probleem? Dink ‘n bietjie daaroor na en kyk of jy nagelaat het om God se Woord te gehoorsaam. Gaan dan terug na die Woord en kyk wat God oor daardie deel van jou lewe sê. En, as jy uitgevind het, vra Hom om jou te help om wat jy geleer het in jou lewe toe te pas. Want as jy bou op die Woord, sal jy voorspoedig wees op jou pad en jy sal sukses behaal (Joshua 1:8)!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *