50 VERSE OOR GELOOF IN DIE BYBEL

Ons het die afgelope paar weke hier op Nader In Eenvoud gesels oor geloof. Ons het gesels oor die dinge wat ons oor geloof moet weet, drie geloofslesse wat ons uit Mattheus 9 kon leer, en ook oor geloof in aksie. Vandag deel ek 50 verse oor geloof met jou.

Elkeen van die verse leer ons iets anders oor geloof.

50 Verse oor geloof in die Bybel

ALGEMENE VERSE OOR GELOOF.

Die volgende 10 verse oor geloof leer ons onder andere wat geloof is en hoe ons dit kry. Dit leer ons dat geloof soms ‘n stryd is, maar as ons aanhou glo, sal ons oorwinning behaal.

Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.
Hebreërs 11:1

Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus.
Romeine 10:17

…want ons leef deur geloof, nie deur aanskoue nie.
2 Korinthiërs 5:7

…want elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin – ons geloof.
1 Johannes 5:4

Stry die goeie stryd van die geloof; gryp die ewige lewe aan, waartoe jy geroep is en waarvan jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.
1 Timotheus 6:12

Wie anders oorwin die wêreld as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?
1 Johannes 5:5

Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manhaftig, wees sterk.
1 Korinthiërs 16:13

Jesus het egter in die verbygaan gehoor toe die berig oorgedra word, en sê toe vir die leier van die sinagoge: “Moenie ontsteld wees nie – glo net!”
Markus 5:36

Maar julle moet, geliefdes, deur julleself op te bou in julle allerheiligste geloof, en deur in die Heilige Gees te bid, julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus, met die oog op die ewige lewe, verwag.
Judas 1:20-21

Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat jy My gesien het? Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie, en tog tot geloof gekom het.”
Johannes 20:29

GELOOF MAAK ALLES MOONTLIK.

‘n Mens kan amper enige plek in die Bybel lees en sien hoe geloof dinge moontlik maak. Selfs dinge wat lyk of dit heeltemal onmoontlik is, word moontlik deur geloof. Hoekom? Want ons geloof is in die een vir wie niks onmoontlik is nie!

Jesus vra hom toe: “‘As U kan?’ Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo.”
Markus 9:23

Hy het hulle geantwoord: “Vanweë julle kleingeloof. Amen, Ek sê vir julle: As julle geloof het soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê, ‘Verplaas jou hiervandaan daarheen,’ en hy sal soontoe verskuif. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”
Mattheus 17:20

GELOOF IN WIE JESUS IS.

Jesus het verskeie kere gepraat van wie Hy is. Hy is die opstandig en die lewe, die brood van die lewe, die goeie herder en nog meer. Ons moet glo in wie Hy is, sodat dit wat Hy is, ‘n werklikheid vir ons en in ons kan word.

Daarom het Ek vir julle gesê dat julle in julle sondes sal sterf; want as julle nie glo dat Ek Is nie, sal julle in julle sondes sterf.
Johannes 8:24

Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit?”
Johannes 11:25-26

Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie.”
Johannes 6:35

GELOOF IN JESUS.

Die volgende 7 verse oor geloof leer ons wonderlike waarhede oor wat ons s’n is omdat ons glo in Jesus as die Seun van God.

Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’
Johannes 7:38

Wie anders oorwin die wêreld as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?
1 Johannes 5:5

Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom, en jubel julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele.
1 Petrus 1:8-9

Die Skrif sê tog: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.”
Romeine 10:11

En Jesus het hulle geantwoord: “Dít is die werk van God: Dat julle glo in die Een wat Hy gestuur het.”
Johannes 6:29

Dit is immers ter wille van Christus aan julle as gawe gegee om nie net in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly.
Filippense 1:29

Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – hulle wat in sy Naam glo.
Johannes 1:12

CHRISTUS IN ONS DEUR GELOOF.

Deur geloof in Jesus is ons saam met Hom gekruisig. Nou leef Hy in ons harte deur geloof.

Met Christus is ek gekruisig; ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof, die geloof in die Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het.
Galasiërs 2:19b-20

Ek bid dat Hy vir julle na die rykdom van sy heerlikheid dít sal skenk: om deur sy Gees met krag na die innerlike mens versterk te word, sodat Christus deur die geloof
in julle harte mag woon, terwyl julle in die liefde gewortel en gegrond is…
Efesiërs 3:16-17

Daarom, terwyl ons ook so ‘n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof…
Hebreërs 12:1-2a

GELOOF EN VERLOSSING.

Hierdie vier verse oor geloof leer jou wat die verband tussen geloof en verlossing is.

Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.
Romeine 10:9

Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek.
Romeine 1:16

Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos.
Romeine 10:10

Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie.
Efesiërs 2:8-9

GELOOF EN REGVERDIGHEID.

Die mens word regverdig verklaar voor God op grond van sy of haar geloof in Jesus.

…en tog weet ons dat ‘n mens nie op grond van die uitvoering van die wet geregverdig kon word nie, maar slegs deur die geloof in Jesus Christus. Ook ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons regverdig verklaar kon word op grond van geloof in Christus, en nie op grond van die uitvoering van die wet nie; omdat geen mens op grond van die uitvoering van die wet geregverdig sal word nie.
Galasiërs 2:16

Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God.
Romeine 5:1-2

Is Abraham, ons vader, nie op grond van sy dade regverdig verklaar, omdat hy sy seun Isak op die altaar geplaas het nie? Kan jy sien dat die geloof meegewerk het met sy dade, en dat vanuit die dade die geloof volkome geword het? En die Skrif is vervul wat sê: “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem.” Julle sien dus dat ‘n mens op grond van dade regverdig verklaar word, en nie deur geloof alleen nie.
Jakobus 2:21-24

Maar nou word die geregtigheid van God, waarvan die Wet en die Profete getuig, sonder die wet bekend gemaak. Hierdie geregtigheid gee God deur die geloof in Jesus Christus aan almal wat glo. Want daar is geen onderskeid nie…
Romeine 3:21-22

GOD EN GELOOF.

Wat sê die Bybel oor God en geloof?

Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek.
Hebreërs 11:6

Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
Johannes 3:16

Jesus antwoord hulle toe: “Julle moet geloof in God hê.”
Markus 11:22

In Hom het ons, deur ons geloof in Hom, ‘n seker en vrymoedige toegang tot God.
Efesiërs 3:12

…wat deur Hom glo in God, wat Hom uit die dood opgewek, en heerlikheid aan Hom gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.
1 Petrus 1:21

GELOOF EN GEBED.

Die volgende vier verse oor geloof leer ons wat se verband daar is tussen geloof en gebed.

Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.
Mattheus 21:22

As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. 7Want so ‘n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie.
Jakobus 1:5-6

Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n regverdige is baie kragtig in sy uitwerking.
Jakobus 5:16

Jesus antwoord hulle toe: “Julle moet geloof in God hê. Amen, Ek sê vir julle: Wie vir hierdie berg sê, ‘Lig jouself op en gooi jouself in die see,’ en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gaan gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle, alles waarvoor julle bid en vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so gebeur.
Markus 11:22-24

GELOOF WORD GETOETS.

‘n Mens wil dit nie altyd hoor nie, maar geloof word getoets. Dis ‘n goeie ding, waaroor ons eintlik bly moet wees.

Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring.
Jakobus 1:2-3

Jubel hieroor, al moes julle onlangs vir ‘n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word. Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – ‘n egtheid wat baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word.
1 Petrus 1:6-7

GELOOF EN GENESING.

Die laaste ses verse oor geloof waarna ons gaan kyk, handel die verband wat daar is tussen geloof en genesing.

Jesus sê toe vir hom: “Gaan! Jou geloof het jou gered.” En dadelik kon hy sien, en hy het Hom op sy pad gevolg.
Markus 10:52

Hy sê toe vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees genees van jou kwaal.”
Markus 5:34

Toe het Jesus haar geantwoord: “O vrou, groot is jou geloof! Laat dit vir jou wees soos jy wil hê.” En haar dogter was van daardie oomblik af genees.
Mattheus 15:28

Dit was op grond van geloof in die Naam van Jesus dat sy Naam hierdie man wat julle sien en ken, sterk gemaak het. En die geloof wat deur Jesus kom, het in julle almal se teenwoordigheid hierdie volkome genesing aan hom gegee.
Handelinge 3:16

Nadat Jesus die huis binnegegaan het, het die blindes na Hom gekom, en Jesus het vir hulle gesê: “Glo julle dat Ek dit kan doen?” Hulle antwoord Hom: “Ja, Here.” Toe het Jesus hulle oë aangeraak en gesê: “Laat met julle gebeur soos julle glo.” En hulle oë is geopen.
Mattheus 9:28-30a

As iemand van julle siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente roep, sodat hulle vir hom kan bid, nadat hulle hom in die Naam van die Here met olyfolie gesalf het. Die gelowige gebed sal die sieke gesond laat word, en die Here sal hom weer oprig. En as hy sonde gedoen het, sal hy vergewe word.
Jakobus 5:14-15

JOU BEURT – STUDEER DIE VERSE.

Hierdie is hoegenaamd nie al die verse oor geloof wat daar in die Bybel is nie, maar dit gee jou ‘n goeie idee van wat daar oor sekere aspekte van geloof gesê word.

Noudat ek vir jou die verse gegee het, is dit jou beurt om iets daarmee te doen. Soek elke vers in jou Bybel en lees dit in konteks. Skryf dan neer wat jy uit daardie vers oor geloof leer.

En mag die Here jou seën met meer kennis en insig wanneer jy hierdie verse oor geloof saam met Hom in Sy Woord bestudeer!

One thought on “50 VERSE OOR GELOOF IN DIE BYBEL

  1. Colette Barnard

    Baie insiggewend. Mens wonder waarom is dit nog steeds moeilik om vas te glo op so manier dat jy alles in God se hande plaas.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *