Die Bybel is vol verhale oor mense by wie ons geloofslesse kan leer. In Mattheus 9 lees ons van ‘n paar mense wat deur Jesus genees is.
Vandag gaan ons na drie van hulle kyk, want by elkeen leer ons iets anders oor geloof.

DIE VERLAMDE MAN.
Sommer aan die begin van die hoofstuk lees ons van die eerste man wat Jesus gesond maak. Hy is verlam, dus bring sy vriende hom op ‘n draagbaar of slaapmat na Jesus toe.
In vers 2 lees ons: “En kyk, hulle het ‘n verlamde man wat op ‘n slaapmat lê, na Hom gebring. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: ‘Hou moed, kind, jou sondes word vergewe.'”
Sien jy wat gebeur net voor Jesus met die verlamde praat?
Hy sien hulle geloof.
Geloof kan altyd op een of ander manier gesien word.
Ons sê woorde of doen dinge wat wys wat ons glo.
In Jakobus 2:17 staan daar: “So is geloof alleen, as dit nie op dade uitloop nie, dood.”
Dit beteken eenvoudig dat geloof nooit alleen is nie. Dit word altyd uitgedruk in woorde of dade, wat ‘n bewys is van wat ons glo.
Die eerste ding wat ons dus leer, is dat geloof altyd gesien kan word.
‘N VROU MET BLOEDVLOEIING.
Die tweede persoon wat deur Jesus genees word, is ‘n vrou wat al vir 12 jaar aan bloedvloeiing ly.
Terwyl Jesus op pad is na ‘n siek dogtertjie, kom die vrou deur die skare en raak van agter af aan Jesus se bokleed. Ons lees waarom sy dit doen in vers 21: “As ek tog net sy bokleed kan aanraak, sal ek gesond word.” (Haar geloof kon gesien en gehoor word!)
Dan draai Jesus om, sien haar en sê vir haar: “Hou moed, dogter, jou geloof het jou gered.” En van daardie oomblik af was sy gesond.
Die tweede ding wat ons leer, is dat ons, wat ons ookal nodig het, deur geloof uit God se hand ontvang.
As die vrou nie geglo het sy sou gesond word as sy net Jesus se bokleed aanraak nie, sou sy nie gesond geword het toe sy dit gedoen het nie.
En let ‘n bietjie op: Jesus sê nie dis omdat sy aan Hom geraak het dat sy genees is nie. Nee, Hy sê dis haar geloof wat haar gered het. Die aanraking van Sy bokleed was bloot ‘n uitdrukking van wat sy geglo het.
TWEE BLINDE MANS.
Die laaste verhaal waarna ons gaan kyk, kry ons in Mattheus 9:27-31.
Hier lees ons van twee blinde mans wat agter Jesus aangeloop het en geroep het: “Ontferm U oor ons, Seun van Dawid!”
Jesus gaan egter by ‘n huis in, maar dit keer nie die twee mans nie. Hulle stap agter Hom aan en gaan ook die huis binne.
Dan vra Jesus vir hulle: “Glo julle dat Ek dit kan doen?” Hulle antwoord: “Ja, Here.” Toe raak Jesus aan hulle oë en gesê: “Laat met julle gebeur soos julle glo.” Of, soos die 1983-Vertaling dit uitdruk: “Wat julle glo, sal gebeur.” En hulle kon sien.
Uit hierdie gedeelte leer ons dat wat ons glo, met ons gebeur.
Dit kan ‘n baie positiewe ervaring wees.
As ons God se Woord glo, sal ons van Hom ontvang wat Hy in die Woord belowe het.
Dit kan egter ook ‘n baie negatiewe ervaring wees.
As ons negatiewe dinge glo en in vrees leef dat sommige dinge met ons kan gebeur, is die kans goed dat ons gaan kry wat ons geglo het.
GELOOFSLESSE UIT MATTHEUS 9.
Kom ons kyk gou weer wat ons oor geloof geleer het uit hierdie drie vertellinge:
- Geloof kan altyd op een of ander manier gesien word.
- Alles wat ons uit God se hand ontvang, word ontvang deur geloof.
- Wat ons glo, goed of sleg, gaan met ons gebeur.
Ek wil jou aanmoedig om so ‘n bietjie na te dink oor hierdie drie geloofslesse.
Vra die Here om jou te help om elkeen regtig met jou hart te verstaan.
En vra Hom ook om jou te wys hoe jy elkeen van hierdie geloofslesse in jou lewe moet toepas.