Advent is ‘n tyd waartydens ons ons harte voorberei vir die viering van die koms van ons Here Jesus. Gebruik die skrifgedeeltes om jou daarmee te help.

‘n Paar jaar gelede het ek besluit om ‘n Adventskrans te maak, en het bietjie navorsing gedoen oor hoe dit gedoen moet word.
Hoewel dit nie iets is wat regtig vreeslik in ons land gesien word nie, het dit tog ‘n mooi betekenis.
Advent begin op die Sondag naaste aan die 30ste November.
Volgens die HAT beteken Advent die ‘naderende koms van Christus’. Dit is ‘n tyd waartydens gelowiges hulle harte voorberei om Jesus se koms te vier.
Goed, terug na die Adventskrans. Die krans word gemaak van ‘n ‘polystyrene’ ring of van dun, buigbare takke, wat gebuig word om ‘n ring te vorm. Dit word dan versier met natuurlike of nagemaakte groen takkies. Bo-op of binne die krans word vyf kerse geplaas – drie perses, een pienke en ‘n witte.

DIE ADVENTSKRANS.
Die krans verteenwoordig God se ewigdurende liefde.
Groen takkies verteenwoordig lewe.
Een pers kers verteenwoordig hoop, die volgende een liefde, en die laaste een verteenwoordig vrede.
Die pienk kers verteenwoordig vreugde.
Laastens kom ons by die wit kers. Dit verteenwoordig Christus.
Die eerste Sondag van Advent word die eerste pers kers aangesteek.
Op die tweede Sondag word die eerste en tweede pers kerse aangesteek.
Die derde Sondag word die eerste en tweede pers kers sowel as die pienke aangesteek.
Op die vierde Sondag word al die gekleurde kerse aangesteek.
Op Oukersaand en Kersdag word al die gekleurde kerse asook die wit kers aangesteek.
Daar is ook ‘n klompie verse uit die Bybel wat gedurende hierdie tyd gelees word. Dit kan of net op Sondae gelees word, of jy kan dit elke dag van die week tot en met Kersfees lees.
Ek het daardie jaar nooit ‘n Adventskrans gemaak nie, maar ek het wel die Skrifgedeeltes gelees.
Om te lees van Jesus se koms en so jou hart voor te berei vir die viering van Kersfees, is baie belangriker as om die krans te hê, want dit is net simbolies.
LEES OOK: SIEN JESUS IN ‘N KERSBOOM
SKRIFGEDEELTES VIR ADVENT.
Ons is reeds in Adventstyd, maar daar is nog oorgenoeg tyd oor om die Skrifgedeeltes te lees en jou hart voor te berei.
Ek deel graag die volgende verse met jou, wat jy daarvoor kan gebruik.
HOOP.

Jesaja 9:5: Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. (2020 Vertaling)
Lees ook: 1 Petrus 1:3-5; Titus 3:4-7; Romeine 8:24-25; Hebreërs 11:1.
LIEFDE.

Johannes 3:16-19: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die unieke Seun van God geglo het nie. En dit is die oordeel: Die lig het in die wêreld gekom, maar die mense het die duisternis liefgehad bo die lig, omdat hulle dade boos was. (2020 Vertaling)
Lees ook: Romeine 5:8; Galasiërs 2:19-20; Efesiërs 2:4-7; 1 Johannes 4:9-11; Romeine 8:35;37-39.
VREUGDE.

Mattheus 2:10-11: Toe hulle die ster sien, het hulle ‘n onbeskryflike groot vreugde ervaar. Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kindjie by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewys. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre. (2020 Vertaling)
Lees ook: Romeine 15:13; Johannes 16:22; Psalm 16:11.
VREDE.

Jesaja 40:3-5: ‘n Stem roep: “Maak in die woestyn die pad van die Here gereed; maak in die Araba ‘n grootpad vir ons God gelyk. Elke dal moet opgevul word, en elke berg en heuwel moet wegsak. Hobbelrige plekke moet gelyke grond word, en rotsagtige terrein moet ‘n vallei word. Die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word; alle mense sal dit gelyktydig sien, want die mond van die Here het gespreek.” (2020 Vertaling)
Lees ook: Jesaja 9:5; Jesaja 54:10; Johannes 16:33; Johannes 14:27; Romeine 14:17-19; 2 Thessalonisense 3:16.
CHRISTUS.

Johannes 1:14: En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid. (2020 Vertaling)
Lees ook: Jesaja 9:5; Jesaja 53:5; Handelinge 4:12; 1 Johannes 4:9; Romeine 10:9; 1 Timotheus 2:5.
Mag hierdie laaste paar weke van Advent vir jou van besondere betekenis wees terwyl jy jou hart voorberei om die koms van Jesus te vier!