As jy die woorde, idees vir Kersfees, in Google intik, gaan jy ‘n hele klomp artikels kry.
En as jy die woorde in Engels tik, gaan jy nóg meer kry.
Die een artikel vertel vir jou watter geskenk dié geskenk is om hierdie jaar vir jou kind te koop.
Ander gee raad oor wat se geskenke jy vir die ander mense in jou lewe kan koop.
Daar is artikels met resepte vir Kersdag of Oukersaand.
Daar is idees oor hoe om jou huis en kersboom te versier.
Hier en daar loop jy selfs ‘n artikel of twee raak wat jou raad gee oor hoe om die familie, wat jy nie altyd oor die weg mee kom nie, te onthaal sonder dat daar onenigheid ontstaan wat in ‘n kosgeveg of jarelange vete kan ontaard.
Dit is maklik om so vasgevang te word in die koop van geskenke, die regte versierings en liggies en al die kos wat voorberei moet word, dat ‘n mens maklik vergeet waaroor Kersfees eintik gaan.
Ja, dit is lekker om geskenke te kry en al die lekker kos op Kersdag op te eet.
Maar ons moet nooit uit die oog verloor dat Kersfees in die eerste plek gaan oor Jesus en in die tweede plek om tyd saam met ons geliefdes te spandeer nie.
So kom ons doen dinge hierdie jaar anders.
Hier is ‘n paar idees om te probeer.
LEES OOK: GOD SE HEMELSE GESKENKPAK
LEES DIE KERSVERHAAL.
Jy gaan die Kersverhaal tien teen een op Kersdag in die kerk hoor, maar waarom nie sommer nou al begin om dit een maal ‘n week te lees nie?
Lees dit een keer uit die Ou Vertaling. Die volgende keer lees jy uit die Nuwe Vertaling. Lees dit ook ‘n keer of wat uit een van die verskillende parafrases wat beskikbaar is.
As jy ‘n Studiebybel het, kan jy selfs die kommentaar wat onderaan die bladsy is, ook ‘n keer lees.
Dit is ook ‘n goeie idee om dit een keer uit die Kinderbybel te lees.
Maak ‘n punt daarvan om die Kersverhaal ook vir jou kinders te leeS.
Herinner hulle, en jouself, daaraan dat ons Jesus se geboorte vier wanneer ons Kersfees vier en vir mekaar geskenke gee.
GEE VIR ANDER.
Soos ek reeds genoem het, is die gee van geskenke ‘n baie groot deel van wat tydens Kersfees gebeur.
Vir sommige is dit ‘n groot lekkerte om vir ander te gee.
Daar is egter ander van ons, veral klein kindertjies wat nog nie van beter weet nie, wat meer fokus op wat hulle ontvang.
Om hierdie jaar se Kersfees meer betekenisvol te maak, kom ons fokus meer op wat ons vir ander kan gee om hulle te seën, as op die geskenke wat ons gaan kry.
Dalk is daar ‘n familie in julle omgewing, of selfs in julle familie- of vriendekring, wat sukkel met finansies. Seën hulle ‘n paar dae voor Kersdag met ‘n sak of twee vol kruideniersware. Maak seker daar is die nodige wat hulle kan gebruik om ‘n paar geregte vir die kersete voor te berei.
Pak ‘n klomp bruikbare items in ‘n kartonhouer en gee dit aan een van die hawelose mense wat julle op straat sien.
Bak ‘n paar baksels kolwyntjies of soetkoekies en verpak dit in kartonhouertjies of mooi geskenksakkies. Gee dit af by die ouetehuis of deel dit uit aan die bure. Of neem dit saam op die volgende inkopietog en deel dit uit aan mense wat julle by die winkel raakloop.
Laat die kinders kerskaartjies maak en deel dit uit aan almal wat jou huis besoek.
As daar ‘n tehuis vir haweloses naby julle is, oorweeg dit om hulle gedurende die Kersgety as vrywilliger te gaan help.
Kinders het gewoonlik baie speelgoed waarmee hulle nie juis meer speel nie. Laat hulle kies watter van die speelgoed wil hulle weggee vir ‘n kind wat minder bevoorreg is. Maak net seker dat die speelding nie stukkend of vuil is nie, en dat die nuwe eienaartjie nog ure se genot daaruit kan put.
SKEP NUWE HERINNERINGE.
Kan jy ‘n lys maak van al die kersgeskenke wat jy al in jou lewe ontvang het?
Dalk kan jy een of twee onthou, veral dié wat jy graag as kind wou hê en wat jy toe wel gekry het. Meeste geskenke is egter iets wat ‘n mens nie regtig onthou nie.
Wat ‘n mens wél onthou, is die kerstradisies wat jou gesin gehad het toe jy ‘n kind was.
Jy onthou die familiekuiers, en al die pret wat jy saam met jou boeties, sussies, niggies en nefies gehad het.
Wat kan julle as gesin of familie doen, wat eie is aan julle, maar wat die kinders vir die res van hulle lewens gaan onthou?
Maak die beste gebruik van Kerstyd om nuwe herinneringe te skep wat almal teenwoordig vir altyd gaan bybly.
En moenie vergeet om baie foto’s te neem nie! Dit is mos ook ‘n manier om herinneringe te bewaar.
Een van hierdie foto’s kan dalk volgende jaar op die buitekant van die kerskaartjies wat die kinders maak, gebruik word.
HERFOKUS.
Vra jouself die vraag: hoe kan ek seker maak my eie hart is hierdie Kersfees op Jesus gefokus?
Elkeen van ons gaan met ‘n ander antwoord vorendag kom, maar hier is ‘n paar idees:
Spandeer ekstra tyd in die weke voor Kersfees met die Here. Maak ‘n punt daarvan om die Heilige Gees te vra om jou te help om jou hart op Jesus te fokus.
Lees die verskillende profesieë oor die koms van Jesus en oordink dit in jou stiltetyd. Let op hoe Jesus elkeen van hierdie profesieë vervul het.
Woon elke Erediens tydens Adventstyd by, sodat jy jou hart nog meer kan vul met woorde oor Jesus se koms.
Onthou, dit gaan baie makliker wees om die harte van jou kinders op Hom te fokus as jou eie hart totaal op Hom gefokus is.
Ek is seker jy kan, as jy ‘n bietjie daaroor dink, met nóg idees vorendag kom om hierdie Kersfees meer betekenisvol te maak.
Wat jy en jou gesin ookal besluit om te doen, onthou om jou oë en hart op Jesus gefokus te hou.
Vergeet die selfoon vir ‘n rukkie, en wees regtig teenwoordig wanneer julle as familie saam kuier.
En geniet elke oomblik van hierdie Kers- en kuiertyd wat voorlê!