Die bloed van Christus reinig ons van alle sonde. Deur geloof in Hom kan ons nou met God in ‘n verhouding staan en as verloste mense leef.

NET DEUR JESUS.
Jesaja 53:5: “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.”
Goeie Nuus: Jesus het alles gedoen wat ons nie kon doen nie. Hy het ons straf gedra en deur Hom het ons nou vrede met God.
Johannes 1:29: “Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”
Goeie Nuus: Daar is net Een wat ons sonde kan wegneem. Jesus is die perfekte Lam van God. Sy offer aan die kruis het die sonde van die hele wêreld weggeneem. Verlossing is nou beskikbaar vir elkeen wat dit in geloof aanneem.
LEES OOK: 21 VERSE VIR GOEIE VRYDAG
MET GOD VERSOEN.
Romeine 5:6,8: “Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe… Maar God bewys Sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
Goeie Nuus: Jesus het vir goddeloses gesterf en hulle met God versoen. Nou is daar nie meer skeiding tussen God en ons nie.
Kolossense 1:19-20: “God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.”
Goeie Nuus: Jesus bring versoening tussen God en mens.
Efesiërs 2:13: “Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus.”
Goeie Nuus: Ons is een met Christus Jesus!
VERGEWE EN GEREINIG.
1 Johannes 1:7: “Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.”
Goeie Nuus: Onder die Ou Verbond het die bloed van skape en bokke die mense se sonde bedek, en God het hulle vergewe. Jesus se bloed bedek nie ons sonde nie – dit vat dit heeltemal weg. Ons is nou volkome vergewe en gereinig van alle sonde en ongeregtigheid.
Hebreërs 9:14: “Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.”
Goeie Nuus: Jesus se bloed bevry ons nie net van sonde nie, maar ook van ‘n skuldige gewete. Ons kan God nou dien met vrymoedigheid.
Hebreërs 9:22: “Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.”
Goeie Nuus: Die bloed van Jesus reinig ons en bring volkome vergifnis.
DOOD VIR SONDE.
1 Petrus 1:18-19: “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.”
Goeie Nuus: Die bloed van Jesus is kosbaar, en het ons losgekoop van ‘n sinlose bestaan.
1 Petrus 2:24: “Hy het self ons sondes in Sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur Sy wonde is julle genees.”
Goeie Nuus: As kinders van God, is ons dood vir die sonde. Dit het nie meer ‘n houvas op ons nie. Ons kan nou, met die hulp van die Heilige Gees, in gehoorsaamheid aan Hom lewe.
Efesiërs 1:7: “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God…”
Goeie Nuus: Omdat ons glo in Jesus, kan ons nou as verloste mense leef.
VERBOND VIR ALTYD.
Mattheus 26:28: “…want dit is My bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.”
Goeie Nuus: Die Nuwe Verbond is beseël deur die bloed van Jesus. Niks kan daardie verbond ooit breek nie. Ons sondes is vergewe. God dink nie meer daaraan nie.
Hebreërs 9:12: “Met Sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ‘n ewige verlossing tot stand gebring.”
Goeie Nuus: Verlossing deur Jesus Christus is ewigdurend. Niemand kan dit van ons af wegvat nie.
Openbaring 1:5: “…en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur Sy bloed van ons sondes verlos…”
Goeie Nuus: Alles wat God die Vader, Jesus en die Heilige Gees doen, word gedoen uit ‘n hart van liefde. Dit is Sy liefde vir ons wat Hom daartoe gedring het om in ons plek te sterf, sodat ons verlos kan word van sonde.
Genesing van sonde skuld . Deur dat Sy bloed onskuldig gestort is , daarin lê die krag . Jesus was waarlik mens en waarlik God .Sy fisiese bloed het nie towerkrag gehad . Word nie fisies gewas in Sy bloed .