VERSE VRYDAG: 21 VERSE OOR JESUS

Vandag is Goeie Vrydag. Onder normale omstandighede, sou ons almal vanoggend iewers in ‘n kerkgebou saam met ons gesinne en vriende gesit het. Ons sou geluister het na ‘n boodskap oor Jesus, oor Sy kruisiging, en alles wat dit vir ons beteken.

Ongelukkig is omstandighede nie nou normaal nie. Niemand van ons gaan hierdie jaar die geleentheid hê om Paasfees saam met ons uitgebreide fisiese en geestelike families te vier nie.

Maar dit beteken nie dat ons nie kan onthou wat Jesus vir ons kom doen het nie!

Ons kan steeds fokus op die Vader se groot liefde wat Hom gedring het om Sy geliefde Seun te stuur om ‘n verlore mensdom te red.

Ons kan ons oë rig op Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof.

Dit is dan ook net wat ons vandag in Verse Vrydag gaan doen.

Ek deel graag met jou 21 verse om jou te help om op Goeie Vrydag jou oë te vestig op Jesus, wat Sy lewe kom gee het sodat jy ‘n verhouding met God kan hê en Hom kan ken.

Mag hierdie verse jou herinner aan wat Jesus ook vir jóú gedoen het.

21 Verse vir oor Jesus Goeie Vrydag.

DIE LIEFDE VAN GOD GEWYS IN JESUS.

Johannes 3:16: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

1 Johannes 3:16: Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.

1 Johannes 4:9: Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

1 Johannes 4:10: Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

LEES OOK: Verse Vrydag: 16 Bybelverse oor God se liefde

VERGIFNIS VAN SONDE DEUR JESUS.

1 Johannes 3:5: Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie.

Handelinge 13:38-39: Daarom, broers, moet julle goed weet dat wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hóm is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes. Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie.

1 Johannes 2:12: Ek skrywe vir julle, liewe kinders, omdat julle sondes vergewe is in die Naam van Jesus.

‘N NUWE LEWE IN CHRISTUS.

Efesiërs 2:8: Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.

2 Korinthiërs 5:17: Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

Efesiërs 2:10: Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Romeine 6:8: Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe.

Galasiërs 2:19-20: Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.

DIE EWIGE LEWE IN JESUS.

Romeine 6:23: Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

1 Johannes 5:13: Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

Johannes 17:2-3: U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.

Johannes 10:28: Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Johannes 3:36: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.

‘N KONSTANTE METGESEL.

1 Korinthiërs 6:19-20: Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

Johannes 14:16-17a: Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.

Romeine 5:5: …en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

Handelinge 2:38: Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.”

Mag vandag vir jou en jou gesin ‘n besondere geseënde dag wees. Mag julle elke oomblik bewus wees van God se liefde en Sy teenwoordigheid in julle lewens. En mag julle bo alle twyfel weet dat julle kinders van God is omdat julle glo in die Een wat Hy gestuur het!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *