Die Israeliete het God nie geglo toe hulle in die woestyn was nie, en dit het hulle duur te staan gekom. Vandag, as jy Sy stem hoor, moenie so hardkoppig soos hulle wees nie!
“Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie…”
Drie keer lees ‘n mens hierdie woorde in die derde en vierde hoofstukke van Hebreërs.
Lees jy dit in konteks, sal jy sien dit gaan oor die Israeliete en hoe hulle nie wou glo wat God vir hulle gesê het nie.
As gevolg van hulle ongeloof, het die generasie wat uit Egipte getrek het nooit die Beloofde Land binne gegaan nie, maar in die woestyn gesterf. Dit was die volgende generasie wat die Beloofde Land binne gegaan het.
VERTROU JY GOD?
Jy sien, God is baie ernstig daaroor dat ons Hom vertrou.
Hy praat gedurig met ons deur Sy Woord, in gebed, deur preke en boeke, en selfs deur die natuur.
Maar wat doen ons met die woorde wat Hy vir ons sê?
Glo ons Hom en neem dan die nodige stappe in geloof?
Of wantrou ons Hom maar so ‘n bietjie? Of, nog erger, dalk glo ons Hom glad nie!
Daar is slegs Een wat ons met ons volle wese kan vertrou – die Here.
Mense kan misluk en ons teleurstel. Hulle neem verkeerde besluite en doen dinge wat ons seermaak of skade berokken.
Maar dit is nie wat gebeur wanneer ons God vertrou nie. Hy sal ons nooit teleurstel nie.
Wanneer Hy sê Hy gaan iets doen, bedoel Hy dit. Hy verander nie van plan of kom agter Hy het ‘n fout gemaak toe Hy iets belowe het nie, want Hy maak nie foute nie. Hy doen altyd wat reg is.
Wat het God vir jou gesê?
Glo jy Hom? Vertrou jy Hom?
Jy kan maar!
Hy is ten volle betroubaar, so jy kan Hom vertrou.
Jy kan Hom glo, want Hy vertel nooit ‘n leuen nie, maar praat altyd die waarheid.
Vandag, as jy Sy stem hoor, moenie hardkoppig wees nie.
Glo Hom.
Vertrou Hom.
Hy is jou geloof en vertrou waardig!
LEES OOK: GELOOF EN GEHOORSAAMHEID