BYBELLEESPLAN IN PSALMS

Wil jy meer tyd in die Woord van God spandeer? Dan is hierdie Bybelleesplan in Psalms net vir jou. Reis vir 21 dae deur die ryk boek van Psalms.

Bybelleesplan in Psalms

Dit is weer daardie tyd van die maand – tyd vir ‘n nuwe Bybelleesplan!

Hierdie maand is die Bybelleesplan in Psalms.

Daar is 150 Psalms, maar moenie kommer nie, ons gaan hulle nie almal lees nie.

Ek het ‘n paar gekies wat jou oë op die Here gaan rig en jou gaan bemoedig.

Ons gaan, soos gewoonlik, 21 Psalms lees. Dit beteken as jy iewers langs die pad agter raak, dan het jy tyd om op te vang.

Daar is ook weer ‘n paar vrae wat jy kan gebruik om jou te help om bietjie oor die stuk wat jy gelees het, na te dink.

Een van die Psalms wat ons in die Bybelleesplan in Psalms gaan lees, is Psalm 1.

En, net om jou lus te maak en jou te wys hoeveel ‘n mens uit so ‘n kort Psalm kan leer, deel ek graag die volgende gedagtes met jou.

‘N REIS DEUR PSALMS.

Psalms is ‘n baie interessante en nuttige boek; ons kan so baie daaruit leer.

Die boek leer ons oor God en wat Hy in die lewens van ander gedoen het, en skielik kom ons agter dat Hy presies dieselfde dinge ook in óns lewens doen.

Dit leer ons ook oor mense en hulle gewoontes en optrede, en hoe ons moet leef om God se beste uit die lewe te kry.

Psalms kan gebruik word om God te aanbid en te verheerlik.

Dit kan gebruik word om ons geloof te versterk, ons te bemoedig en op te bou.

Psalm 1 is een van my gunsteling psalms.

Kom ons kyk vandag so ‘n bietjie daarna, en kyk wat God vir ons daardeur wil sê.

PSALM 1.

Maar voor ons kom by wat ons alles uit hierdie Psalm kan leer, laat ons dit eers lees.

1
Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie,
2
maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.
3
Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.
4
So is die goddeloses nie. Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.
5
Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie en sondaars nie ‘n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.
6
Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad, maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.

OP GOD SE MANIER.

Die eerste waarheid wat ek raaksien, is dat die Here sê ‘n mens is geseënd wanneer hy dinge op God se manier doen.

Goddelose mense en die wêreld kan nie raad te gee wat God behaag nie. As God se kinders, moet ons nie hulle raad volg nie, maar die waarheid wat ons leer in die Woord.

Ons moet luister na wat die Heilige Gees vir ons sê.

Die sondaar is op die breë pad, wat na die verderf lei. God se kinders moenie agter hom aanloop nie, maar moet vir Jesus volg. Hy lei ons op die regte pad.

‘n Ligsinnige mens is heeltyd besig om die spot te dryf. Hy kan selfs die spot dryf met die Vader en met Jesus.

Kinders van God moet liewer uit die pad bly van só ‘n mens. Ons wil tog nie saam met hom ons God en Verlosser spot nie! Ons moet liewer eerbied hê vir die Here en Hom respekteer.

VREUDGE IN DIE WOORD.

Die mens wat die Woord ter harte neem, Jesus volg en God respekteer, vind vreugde in Sy Woord.

Sy Woord is soos ‘n lig op ons pad.

Wanneer ons doen wat die Woord sê, vind ons die lewe wat God vir ons bedoel het.

Daarom is dit belangrik om tyd in die Woord te spandeer. Dit is ook belangrik om gereeld die Woord te oordink (meditate).

Die Hebreeuse woord wat in Engels met ‘meditate’ vertaal word, beteken ‘om te prewel’.

Iemand het gesê dis waarom dit ‘n goeie idee is om die Woord te memoriseer. Terwyl jy die vers memoriseer, kan jy dit die hele dag by jouself prewel. Die Heilige Gees kan dan ook vir jou nuwe insig gee oor daardie vers.

In vers 3 van Psalm 1 lees ons hoe die mens is wat sy vreugde vind in die Woord.

Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is. Die Engelse vertalings sê die boom is ‘firmly planted’. ‘n Boom wat stewig geanker is, is ‘n boom wat diep wortels

het. Om ons wortels diep te anker in God se Woord, moet ons dit gereeld oordink of by onsself prewel.

Hierdie boom dra vrug op die regte tyd, en sy blare verdroog nooit. Die mens wat deur dié boom voorgestel word, is ‘n mens wat vrug dra om God te eer. Dis ‘n mens wat voorspoedig is in al die dinge wat hy aanpak. Hy is suksesvol in alles wat hy doen.

DIE UITEINDE VAN DIE GODDELOSE.

Die laaste verse werp meer lig op die goddelose.

Wat waar is van die regverdige, die kind van God, is nie waar van hierdie mens nie.

Die goddelose sal homself nie kan handhaaf wanneer die Here oor hom oordeel nie.

Jesus het gesterf om die sondes van die wêreld weg te neem. Die enigste manier om vry te wees van veroordeeling, is om te glo in Jesus en in geloof te ontvang wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het.

Dit is ongelukkig nie wat die goddelose doen nie. Daar kom ‘n dag wanneer die Vader ‘n oordeel gaan vel oor almal wat nie Jesus se offer aangeneem het nie. Die goddelose sal dan nie ‘n voet hê om op te staan nie, as gevolg van sy ongeloof.

DIE KEUSE.

Hierdie Psalm stel ons voor ‘n keuse.

Aan die een kant is die goddelose wat hom nie aan God steur nie. Sy uiteinde is die verderf.

Aan die ander kant is die kind van God. Hy vind sy vreugde in die Woord en oordink dit dag en nag. Hy volg vir Jesus en en eer God.

Wat is jou keuse?

BYBELLEESPLAN IN PSALMS.

Uit die stuk wat ek met jou gedeel het, kan jy sien daar is regtig baie te leer uit die Psalms.

Wil jy nie die maand wat voorlê saam met my ‘n paar Psalms lees, en kyk wat die Here jou daardeur wil leer nie?

Die Bybelleesplan in Psalms is gratis, maar die rykdom wat jy uit die Woord kan kry, van onskatbare waarde!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *