Die Bybel praat nie net met ons oor ons gees en liggaam nie, maar ook oor ons emosies. Vandag deel ek ‘n paar verse met jou wat handel oor ons emosies.

VERSE OOR EMOSIES IN PSALMS.
Psalm 30:6b: Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.
Psalm 34:19: Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.
Psalm 51:10 en 14: Laat my weer blydskap en vreugde belewe. U het my verbrysel; laat my weer jubel. Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.
Psalm 147:3: Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.
VERTROU OP GOD.

In die Ou Vertaling staan die volgende in vers 12: “Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof — die verlossing van my aangesig en my God!” God gee in hierdie vers vir ons die oplossing van wat ons moet doen wanneer ons onrustig voel en lus is om sommer net in ‘n hoekie te gaan sit en huil. Hy sê ons moet op Hom hoop en vertrou.
Hy is en het die oplossing op enige probleem waarmee ons kan worstel.
Wanneer jy dus weer voel asof jy die hele wêreld op jou skouers dra, word stil by Hom. Fokus jou gedagtes op Hom deur tyd in die Woord en gebed. En laat Hom toe om jou te vul met Sy vreugde, want Hy is jou helper en jou God!
‘N PAAR VERSE UIT SPREUKE.
Spreuke 4:23: Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.
Spreuke 12:16: ‘n Dwaas wys dadelik dat hy beledig voel; ‘n verstandige mens laat nie blyk dat hy gekrenk is nie.
Spreuke 16:32: ‘n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ‘n stad inneem.
Spreuke 26:28: ‘n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm, so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersing het nie.
Spreuke 29:11: ‘n Dwaas gee vrye teuels aan sy woede; ‘n wyse mens kry die dwaas naderhand gekalmeer.
VERSE UIT DIE NUWE TESTAMENT.
Romeine 8:8: Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.
Filippense 4:11: Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp.
Hebreërs 4:15-16: Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
1 Johannes 2:16: Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld.
Lukas 6:45: Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.
Maak seker dat jy elke dag tyd in die Woord spandeer sodat jy jou hart daarmee kan vul. Dan sal jy goeie dinge te voorskyn bring uit die oorvloed Woord wat in jou hart is.
WANNEER JY KWAAD WORD.
Efesiërs 4:26: As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.
Die Bybel sê nie dat ons nie mag kwaad word nie, maar dat ons nie moet sondig wanneer ons kwaad is nie.
Dit is maklik om om iets wat jy glad nie bedoel nie te sê in ‘n oomblik van woede. En, as dit eers gesê is, kan jy dit nie weer terugvat nie. ‘n Mens vang ook maklike ‘n onbesonne ding aan wanneer jy kwaad is.
Wees versigtig om die onmiddellik te reageer wanneer jy kwaad is nie. Onthou wat Spreuke 16:32 sê. ‘n Mens met selfbeheersing is meer as iemand wat ‘n stad inneem. En Spreuke 26:28 sê ‘n mens is weerloos as hy nie selfbeheersing het nie.
Selfbeheersing is ‘n vrug van die Gees.
Wanneer jy kwaad word, vertrou op die Heilige Gees om jou te help om jou emosies te beheer sodat jy nie iets sê of doen waaroor jy later spyt is nie. Moenie sondig wanneer jy kwaad is en so vir die duiwel ‘n vatkans gee nie.
LEES OOK: HOE OM VRUG TE DRA IN CHRISTUS
MOENIE JOU EMOSIES VOLG NIE.

Dit is nie ‘n goeie idee om jou emosies te volg nie. Hulle is wisselvallig. Iets kan nou vir jou na ‘n goeie plan lyk omdat dit jou emosioneel stimuleer en bevredig. Maar ‘n paar dae later het jou emosies bedaar, en kom jy agter jy het ‘n fout gemaak.
Die Here het nooit bedoel dat ons emosies ons deur die lewe moet lei nie. Hy wil ons deur Sy Gees lei. Daarom sê Spreuke 3:5-6 dat ons Hom in alles moet ken sodat Hy vir ons kan wys wat die regte pad is om te loop.
Die pad wat Hy aandui gaan dalk nie jou emosies roer nie, maar Sy pad is altyd die regte pad. Volg Hom.
Mag die Here ons help om ons emosies in toom te hou en te beheer. Mag ons Sý leiding volg en nooit agter ons emosies aanhardloop nie, want dit gaan ons net in die moeilikheid laat beland!