Ontwikkel jou geloof deur die volgende ses stappe, sodat jy alles kan ontvang wat Jesus vir jou verkry het deur Sy kruisdood en opstanding.
Sukkel jy om te glo en God te vertrou?
Dan is jy op die regte plek, want vandag gaan jy die ses stappe leer wat jy kan gebruik om jou geloof te ontwikkel, sodat jy God in alle omstanghede ten volle kan vertrou en ontvang wat Hy vir jou in Sy Woord belowe het.
JY HET GELOOF!
Voor ons egter by die ses stappe kom, is daar een waarheid wat jy moet weet: Jy het reeds geloof!
As Jesus jou Verlosser is, dan leer die Bybel dat jy klaar geloof in jou hart het. God het dit vir jou as geskenk gegee die dag toe jy gekies het om Jesus jou Verlosser te maak (Efesiërs 2:8).
Jy het ook nie net ‘n handvol geloof gekry terwyl jou predikant ‘n hele vragmotor vol gekry het nie!
Nee, elkeen van ons het presies dieselfde hoeveelheid geloof uit God se hand ontvang (Romeine 12:3).
Die verskil lê in wat ons met die geloof wat God gegee het, gaan doen.
ONTWIKKEL JOU GELOOF.
Jy sien, dit mag lyk asof party mense meer geloof het as ander, maar die waarheid is dat hulle net geleer het dat geloof iets is wat ontwikkel moet word.
Geloof is soos ‘n saadjie, en net soos ‘n saadjie maar klein begin, en tog kan groei dat dit ‘n reuse boom word, kan geloof ook onwikkel word en groei.
Daar is ook geen beperking aan hoe groot jou geloof kan ontwikkel en groei nie. Jý kies hoe groot dit word.
As jy die keuse gemaak het dat jy geloof wil hê wat alles ontvang wat Jesus vir jou wil gee, doen dan die volgende en ontwikkel jou geloof.
STAP 1: ERKEN JESUS AS DIE EEN WAT JOU GELOOF ONTWIKKEL.
In Hebreërs 12:2 lees ons dat Jesus die Begin en Voleinder van ons geloof is. Dit beteken maar net dat ons geloof se oorsprong in Hom is, en dat Hy ook die Een is wat dit ontwikkel.
Net soos ‘n persoonlik afrigter jou help om die spiere in jou liggaam te ontwikkel en bou, help Jesus jou om jou geloof te ontwikkel en groet.
Wanneer jy God enige iets in gebed gevra het, moet jy ook die verwagtig hê dat Jesus jou geloof gaan ontwikkel sodat jy God ten volle kan vertrou om jou gebed te beantwoord.
Soos jou geloof groei en ontwikkel, sal jy begin agterkom dat die duiwel se invloed wat hy rondom jou uitoefen, al hoe kleiner word. Omstandighede gaan die knie buig voor God se krag en dinge gaan verander.
STAP 2: DIE WOORD EERSTE PLEK EN HOOGSTE GESAG.
In die Bybel leer God ons wat Sy wil is en ook hoe Hy dinge doen. Wat die Woord dus oor enige iets sê, is wat Gód daaroor sê.
Jy ontwikkel jou geloof deur die Woord die eerste plek in jou lewe te gee. Moenie probeer om stiltetyd en Bybelstudie iewers in jou besige skedule in te pas nie. Bou jou skedule liewer rondom tyd in die Woord.
Staan vroeër op sodat jy die eerste deel van jou dag saam met God in die Woord en in gebed kan deurbring. Of gebruik jou etensuur om die Bybel te lees en te bestudeer en luister na die oudio Bybel terwyl jy in jou motor ry. Neem die besluit dat jy tyd in die Woord gaan spandeer.
Die Woord moet nie net die eerste plek in jou lewens hê nie, maar jy moet dit ook jou hoogste gesag maak.
Vind uit wat God in die Bybel sê oor die probleem of behoefte wat jy het. Dít is wat God daaroor sê. En wat Hy sê is die enigste ding wat belangrik is, want dit is die waarheid.
Spreuke 4:20-23 sê: “My seun, hoor wat ek vir jou sê, luister goed na my woorde! Moet dit nie vergeet nie, hou dit altyd in gedagte, want dit beteken lewe vir dié wat daarna luister, ‘n volle lewe vir hom wat dit besit. Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”
Gee aandag aan die Woord. Plant dit in jou hart. Dit is soos ‘n saadjie wat wortelskiet, groei en ‘n goeie oes oplewer.
STAP 3: VOED JOU GEES MET DIE WOORD.
In Mattheus 4:4 sê Jesus: “‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom. “
God se Woord is kos vir jou gees. Wanneer jy die Bybel lees, hoor of studeer, voed jy jou gees en versterk en ontwikkel jou geloof.
In Job 23:12 staan daar: “Sy bevel verontagsaam ek nie, ek heg meer waarde aan sy woorde as aan my eie begeertes.” In die Engelse vertalings staan dat God se Woord vir Job belangriker was as die kos wat hy elke dag geëet het.
Ons voed ons liggame met drie maaltye ‘n dag. Waarom dink ons dat ons gees op minder voedsel kan leef?
Die Woord van God bevat alles wat jy nodig het om te groei en jou geloof te ontwikkel.
LEES OOK: ‘N MAKLIKE MANIER OM TYD IN DIE BYBEL TE SPANDEER.
STAP 4 – OORDINK DIE WOORD.
Die vierde stap is om elke dag die Woord te oordink.
Dit beteken jy lees nie net in jou stiltetyd ‘n paar verse uit die Bybel en gaan dan aan met jou dag nie. Nee, jy neem tyd om te dink oor wat jy gelees of studeer het. Wanneer jy dít doen, gee jy die Heilige Gees geleentheid om vir jou nuwe insig te gee en jou te help om die teks beter te verstaan.
Om die Woord te oordink is soos om elke laaste bietjie voedingstof uit dit te haal. Dit bou jou kapasiteit om te glo en fokus jou gedagtes op wat God sê.
As jy sukkel met hierdie stap, doen die volgende:
Wanneer jy ‘n probleem of behoefte het, vind uit wat die Woord daaroor sê.
Vra die Heilige Gees om jou te wys hoe jy die waarheid uit die Woord daarop moet toepas.
Dink gedurig oor die waarheid wat jy in die Bybel gekry het, nie die probleem of behoefte wat jou in die gesig staar nie.
Sê elke dag hardop dat jy die waarheid uit die Woord glo en sê ook wat die waarheid is wat jy glo.
Wat God oor jou probleem of behoefte sê, is wat Hy vir jou wil hê. Dink daaroor en dank Hom daarvoor.
Om jou te help om God se Woord te oordink, laai die gratis Bybellees Joernaal hieronder af. Jy kan dit saam met een van die gratis Bybelleesplanne gebruik, maar jy kan dit ook gebruik om enige gedeelte wat jy gelees het, te oordink.
STAP 5: DOEN WAT DIE WOORD Sê.
Jy weet nou wat God oor jou behoefte of probleem sê in Sy Woord en jy dink elke dag oor Sy woorde.
Maar daar is meer!
Stap 5 is om te doen wat die Here in Sy Woord vir jou sê om te doen.
In Jakobus 1:22 staan daar: “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.”
Ons moet doen wat die Woord sê. Die waarheid wat ons ken en doen, is die waarheid wat ons vry maak.
Om te doen wat die Woord sê is ‘n manier om ons geloof uit te oefen. Fisiese oefening bou natuurlike spiere. Wanneer jy jou geloof uitoefen, bou jy geloofspiere en gee jy Jesus die geleentheid om jou geloof te ontwikkel.
As jy besluit om te doen wat die Woord sê en jy sê wat God sê oor jou situasie, kan jy maar verseker weet dat die duiwel jou gaan probeer pootjie. Hy gaan probeer om jou te oortuig dat die Woord nie die waarheid is.
Moenie moed opgee as dit lyk of dinge slegter raak in plaas van beter nie. Dit is ‘n ou laai van die duiwel daardie.
Hou aan om te glo wat God sê eerder as wat jy om jou sien gebeur. Bly doen wat die Woord sê selfs al is dit moeilik. Moenie na die duiwel se leuens luister nie. Tree op asof die Woord absoluut waar is – want dit is!
STAP 6: PRYS EN DANK GOD.
In Psalm 34:2 sê Dawid: “Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees.” Die laaste ding wat jy moet doen om jou geloof te ontwikkel, is om God te alle tye te prys en te dank.
Kweek ‘n lewensstyl van lofprysing en danksegging aan. God het reeds soveel vir ons gedoen, en Hy doen daagliks nóg meer. Dit is belangrik dat ons dit raaksien en vir Hom dankie sê daarvoor.
Lofprysing en danksegging is ook ‘n kragtige manier om jou geloof te bevestig. Dank God vir wat Hy doen en vir Sy beloftes wat waar is in jou lewe. Doen dit al sien jy nog nie die uiteinde daarvan met jou oë nie. Só oefen jy ook jou geloof uit. Jy stel dit as’t ware vry.
Dit is baie belangrik om God gedurende die wagperiode elke dag te loof en prys vir die waarheid van Sy Woord. Loof Hom ook vir Sy getrouheid om Sy beloftes na te kom.
DIE SES STAPPE.
Die Vader het reeds alles wat ons ooit mag nodig kry vir ons voorsien in Jesus ons Verlosser. Al wat ons moet doen, is om dit te glo en te ontvang.
Ontwikkel jou geloof om te ontvang wat reeds joune is as Sy kind:
Erken Jesus as die Een wat jou geloof ontwikkel.
Gee die Woord die eerste plek en maak dit die hoogste gesag in jou lewe.
Voed jou gees met die Woord.
Oordink die Woord.
Doen wat die Woord sê.
Prys en dank God.
My gebed vir jou is dat hierdie ses stappe jou gaan help om saam met Jesus te werk om jou geloof te ontwikkel. Dan sal jy alles kan ontvang wat Hy vir jou verkry het met Sy dood en opstanding.
Baie Dankie , Mag die Here julle seen