Jou roeping is veel meer as net die werk wat jy elke dag doen. Daar is soveel verskillende aspekte by betrokke, dat dit letterlik jou hele lewe behels.

Baie mense begin Januarie met ‘n een-en-twintig dae vas. Gedurende hierdie jaar se vas het ek ‘n e-boek met die naam, Find Your Calling deur Nicole Kauffman deurgewerk.
Voor ek nog met die boekie begin het, het die Here al met my begin praat oor roeping, en ek was verstom om te besef dat jou roeping veel meer is as net die werk wat jy doen.
Jy sien, die dag toe die Here my geroep het om in hierdie bediening betrokke te raak, het ek geweet dit is ‘n roeping. Ek het geweet dit is wat ek veronderstel was om te doen, wat Hy my voor voorberei het, en wat Sy plan vir my lewe was.
Vir jare was dit wat ek gesien het as my roeping.
Maar die Here het vir my gewys daar is veel meer betrokke by ons roeping as net die werk wat ons doen.
Ons gaan vandag bietjie gesels oor die verskillende aspekte van jou en my roeping.
GODDELIKE ROEPING.
Elke mens is geroep om ‘n kind van God te wees. Nie almal aanvaar egter hierdie roeping nie.
As jy wel die roeping aanvaar het, en Jesus in geloof aanvaar het as Verlosser, dan is jy as kind van God geroep om so te leef dat ander Hom in jou kan sien.
In Johannes 8:12 lees ons dat Jesus sê Hy is die Lig vir die wêreld.
In Mattheus 5:14 gaan Hy ‘n stap verder, en noem ons as God se kinders die lig vir die wêreld: “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Mattheus 5:14-16).
Toe ek en jy weergebore is, het Jesus Sy lig in ons harte ingeskyn.
Nou moet ons so leef, dat ander daardie lig kan sien.
Daardie lig is soos ‘n rigtingwyser wat direk na Jesus toe wys.
Dit maak ander bewus van wie Hy is en wat Hy in Sy kinders se lewens doen.
Om ‘n kind van God te wees en Jesus vir ander te wys, is dus die eerste deel van ons roeping.
IDENTITEITSROEPING.
In 2 Korinthiërs 5:17 skryf Paulus: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”
Met die wedergeboorte het Jesus nie net Sy lig in ons harte kom skyn nie, Hy het ons heeltemal nuut gemaak.
Die ou mens (gees) is saam met Hom gekruisig (Galasiërs 2:20), en in daardie ou mens se plek, het God ‘n nuwe mens (gees) geskep.
Hierdie nuwe mens het nie meer die ou sondige identiteit nie, maar het ook ‘n nuwe identiteit ontvang.
Oral in Paulus se briewe lees ons oor hierdie nuwe identiteit, en leer God vir ons wie ons in Christus is.
Deel van jou roeping is om te leer wie jy in Christus is, en om dan volgens jou nuwe identiteit te leef.
ROEPING OM HEILIG TE LEEF.
In Romeine 12:1-2 lees ons: “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
En in Efesiërs 4:1staan: “Ek druk julle dit op die hart, ek wat ‘n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.”
God se kinders is veronderstel om heilig te leef.
In eenvourdige taal gesê, ons is veronderstel om anders te leef as die res van die wêreld.
Deur die Woord leer God ons hoe dit gedoen word.
Hy leer ons wat die regte manier is om ‘n ding te doen, en wys ons ook soms wat gebeur wanneer ons dit op die verkeerde manier doen.
Dan het ons ‘n keuse – gaan ons die regte ding doen, of aanhou met die verkeerde?
Wanneer ons toelaat dat die Woord ons manier van dink verander, sodat ons dink soos God dink, dan gaan ons ook begin besluite neem volgens die Woord se instruksies, en ons gaan, met die hulp van die Heilige Gees, ‘n heilige lewe leef.
ROEPING OM GOD TE VERHEERLIK.
Deel van ons roeping is ook om God te verheerlik in alles wat ons doen.
Kolossense 3:23 sê: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie…”
En kyk weer na Mattheus 5:16: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
In Efesiërs 2:10 lees ons: “Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”
God het vir elkeen van ons ‘n plan vir ons lewens. Daardie plan sluit in dat Hy ons wil gebruik om sekere goeie werke te doen en op dié manier ander rondom ons te beïnvloed en Hom daardeur te verheerlik.
ROEPING AS LID VAN DIE LIGGAAM VAN
CHRISTUS.
As kind van God is jy deel van die Liggaam van Christus, die Kerk, en dit is dus ook deel van jou roeping.
Romeine 12:5: “Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.”
God het vir jou, as lid van die Liggaam van Christus, sekere gawes en talente gegee wat jy in die gemeente moet gebruik tot opbou van die res van die Liggaam.
In 1 Korinthiërs 12 vergelyk Paulus die Liggaam van Christus met die liggaam van ‘n mens.
Sommige van ons is ore, ander is oë, terwyl daar ander is wat hande of voete is.
Elkeen van die liggaamsdele is belangrik vir die liggaam sodat dit kan funksioneer.
As een van die liggaamsdele ontbreek, sukkel die liggaam.
Op dieselfde manier het elkeen van ons in die Kerk ‘n ander taak of funksie, en elkeen s’n is belangrik vir die Liggaam om reg te funksioneer.
Om deel van ‘n gemeente te wees en jou gawes en talente daar te gebruik, is dus ook deel van jou roeping.
ROEPING IN VERHOUDINGS.
God het elkeen van ons ook geroep om iets vir iemand anders te wees.
As jy getroud is, is jy geroep om ‘n man of vrou vir jou huweliksmaat te wees.
Jy is geroep om ‘n kind vir jou ouers te wees, en, as jy self kinders het, is jy geroep om ‘n ouer vir jou kinders te wees.
Jy is geroep om ‘n familielid, ‘n vriend, en ‘n kollega te wees.
Jy is geroep om in verskillende verhoudings met verskillende mense te staan, en, as deel van daardie roeping, hulle op te bou, te ondersteun, te bemoedig, te help en te dien.
WERKSROEPING.
Laastens kom ons by dit wat mééste van ons sien as ‘n roeping.
Soos ek reeds genoem het, het ek geweet dit is my roeping om by hierdie bediening betrokke te raak.
Daar is ander wat ook deel is van een of ander bediening, en dit sien as húlle roeping.
Dokters en onderwysers noem ook baie keer dat hulle werk vir hulle ‘n roeping is.
As God egter die werk wat jy doen vir jou beplan het, maak nie saak wat dit is wat jy doen nie, en jy weet dat jy daar is omdat Hy jou daar geplaas het, dan is jy besig om deel van jou roeping uit te leef.
God het vir elkeen van ons ‘n roeping, of doel, in hierdie lewe.
Daardie roeping is veel meer as net die werk wat jy doen.
Dit sluit in om kind van God te wees en só te leef dat ander Hom in jou kan sien.
Deel van jou roeping is om jou nuwe identiteit in Christus uit te leef, om heilig te leef en om in alles wat jy doen, God te verheerlik.
Jou roeping sluit ook in om deel te wees van die Liggaam van Christus en om die gawes en talente wat Hy jou gegee het, te gebruik tot opbou en seën van die gemeente.
Om met verskillende mense in verhoudings te staan en mekaar te dien, te help, op te bou en te ondersteun is ook deel van jou roeping.
En laastens is die werk wat die Here jou gegee het om te doen, deel van jou roeping.
Is jy besig om elke aspek van jou roeping uit te leef?
Of het jy, soos ek, gedink jou roeping is slegs die werk wat jy doen?
Ons predikant is lief daarvoor om te sê, “When you know better, do better!”
Noudat jy weet jou roeping is veel meer as die werk wat jy doen, bekyk jou lewe so ‘n bietjie.
Is daar balans tussen die verskillende dele van jou roeping?
Of gee jy meer aandag aan een aspek terwyl jy ‘n ander heeltemal verwaarloos?
Gaan uit in die wêreld en, met die hulp van die Heilige Gees, leef elke aspek van jou roeping met vreugde uit!