5 MANIERE OM GOD TE VERHEERLIK

Wonder jy wat om te doen om God te verheerlik? Hier is vyf maniere wat jy kan gebruik om Hom al die eer en heerlikheid te gee.

5 Maniere om God te verheerlik

Was jy as kind in die Sondagskool?

Dan het jy seker ook baie keer gehoor dat jy veronderstel is om jou lewe te gebruik om God te verheerlik.

Dit is nie iets wat die Sondagskool-tannie sommer uitgedink het nie, maar staan ‘n hele paar keer in die Bybel geskryf, so ons weet God is ernstig daaroor.

Hy vra nie dat ons Hom verheerlik sodat Hy beter kan voel oor Homself nie. Dit is ook nie omdat Hy dit nodig het om te besef Hy het waarde nie. Nee, Hy is dit waardig dat ons Hom verheerlik bloot oor wie Hy is.

VERHEERLIK GOD VIR WIE HY IS.

God is die Skepper van alle dinge en verhewe bo alle gode (Psalm 135:5). Hy die Verlosser, Here en Koning, en ons moet Hom aanbid en Hom prys.

Van Sy karaktertrekke is dat Hy goed, getrou, en genadig is. Hy is liefde, en Hy het simpatie, empatie en geduld met ons as mense.

Hy is die bron van alle dinge, die Gewer van alle goeie gawes.

Dan is Hy ook ons Helper, Wysheid, Rots en Skild.

Op Hom bou ons ons lewens, en deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.

Hy is ons Vader, en die Bron van ons lewe.

Hy is alles wat ons ooit mag nodig kry, en daarom moet ons Hom verheerlik.

LEES OOK: AANBIDDING, LOFPRYSING EN DANKSEGGING

VERHEERLIK GOD DEUR JOU GELOOF.

In Romeine 4:20 staan daar: “Hy [Abraham] het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee.

Nog ‘n manier wat ons kan gebruik om God te verheerlik is om Hom te bly vertrou en te glo wat Hy sê. Soms lyk dit asof daar geensins ‘n verandering of ‘n uitkom is nie, maar ons moet bly glo. Dit is nie altyd maklik nie, maar ons kan by Abraham gaan leer hoe om dit te doen.

Hy het sy oë op God en die belofte wat Hy aan hom gemaak het, gehou. Dít is dan presies wat ons ook moet doen.

God kan nie jok nie en Hy sal ons nooit bedrieg nie. Ons kan, en moet, Hom altyd vertrou en glo wat Hy vir ons sê.

As ons dít doen, dan verheerlik ons Hom.

JY VERHEERLIK GOD DEUR DIE VRUG WAT JY DRA.

In Johannes 15 leer Jesus ons hoe om vrug te dra. Hy is die Wingerdstok, ons die lote. As ons in Hom bly, en Hy in ons, sal ons baie vrug dra.

In vers 8 sê Jesus: “My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

Dit verheerlik die Vader wanneer jy Jesus toelaat om deur jou vrug te dra. Die vrug wat Hý deur jou dra, is vrug wat sal hou (Johannes 15:16).

VERHEERLIK GOD DEUR GOEIE WERKE.

Efesiërs 2:10 leer ons dat God ons gemaak het wat ons nou is.

Hy het sekere goeie dade vir elkeen ons beplan en het ons in Christus Jesus geskep om ons lewens te wy aan hierdie dade.

Elkeen van ons moet ons lig voor mense laat skyn sodat hulle die goeie werke wat God vir ons beplan het, kan sien.

As ons dít doen, verheerlik ons die Vader en die mense rondom ons, wat ons goeie werke sien, sal Hom ook verheerlik (Mattheus 5:16).

GEBRUIK JOU LIGGAAM OM GOD TE VERHEERLIK.

Jy weet dit dalk nog nie, maar jou liggaam behoort nie meer aan jou.

Jesus het dit met Sy kosbare bloed gekoop, so jou liggaam behoort nou aan Hom (1 Korinthiërs 6:20).

Hy het egter jou liggaam vir jou gegee om in te woon, en Hy verwag dat jy daarna kyk en dit oppas.

Hy verwag ook dat jy dit gebruik om God te verheerlik.

Jou goeie werke is een manier hoe jy jou liggaam gebruik om dit te doen. ‘n Ander manier is om sover as moontlik van enige iets af weg te vlug wat jou liggaam kan skade doen – veral van seksuele sonde.

Jou liggaam is die tempel van die Heilige Gees. Behandel dit soos die kosbare woning van God!

VERHEERLIK GOD IN ALLES WAT JY DOEN.

Paulus skryf aan die gelowiges in Korinte: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God” (1 Korinthiërs 10:31).

Jy is elke dag besig om besluite te neem en keuses te maak. Dit is nou maar net hoe die lewe werk.

Leer om jouself die volgende vraag te vra voor jy ‘n keuse maak of besluit neem: “Gaan my keuse/besluit God verheerlik?”

Dink twee keer oor jou besluit as jy nie “ja” op daardie vraag kan antwoord nie!

Maak seker dat jy altyd alles tot eer van God doen. Jy sal sommer die verskil in jou lewe agterkom as jy besluit om ernstig te wees daaroor om God in alles te verheerlik.

Jy sal sien dat dit die gewone dinge na buitengewone dinge verander. Selfs dinge soos wasgoed was en vloere vee kan in iets buitengewoon verander as jy besluit om dit tot die eer van God te doen.

Besluit om jou werk tot eer van God te doen, en jy sal sien dat jy dit sommer baie beter en met groter vreugde gaan begin doen.

God is dit waardig dat ons Hom verheerlik en Hom eer. Daar is niemand wat wonderliker is as Hy nie. Hy het alles gegee om vir ons die geleentheid te gee om weer in ‘n verhouding met Hom te staan en Sy kinders te wees.

Neem vandag nog die besluit om God te verheerlik op elke moontlike manier waaraan jy kan dink!

2 thoughts on “5 MANIERE OM GOD TE VERHEERLIK

  1. Hennie Coetzer

    Kan ‘n sondige mense regtig God blymaak met woorde

    • Risa Cronje

      Hallo Hennie. God sien Sy kinders nie meer as sondaars nie. In Christus het Hy ons uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees (Efesiërs 1:4) en daarom kan ons Hom met enige iets wat ons vir Hom, deur Hom en tot Hom doen, blymaak en verheerlik.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *