DIE BEGINSELS VAN BYBELSTUDIE

Weet jy hoeveel tyd spandeer jy per jaar daaraan om televisie te kyk? En om Bybelstudie te doen? Ek is seker jy moet, soos ek, erken dat jy nie ‘n idee het nie.

Navorsing het op ‘n stadium getoon dat meeste mense omgeveer vier ure per dag televisie kyk. Dit beteken in ‘n jaar kyk ons 61 dae lank televisie! Ongelukkig kan ons nie dieselfde sê van die tyd wat ons spandeer aan Bybelstudie nie.

Tyd in die Woord is van onskatbare waarde. Meeste mense weet egter nie so lekker hoe om Bybelstudie te doen nie. Rick Warren het ‘n boek geskryf met die naam Rick Warren’s Bible Study Methods, waarin hy twaalf verskillende Bybelstudie metodes verduidelik. Ek gaan nie al twaalf met jou deel nie, maar ons gaan na ‘n paar van hulle kyk.

Maar voor ons daarby kom, gaan ons eers bietjie gesels oor die beginsels van Bybelstudie. Dit maak nie saak watter studiemetode jy op die ou end kies nie, hierdie beginsels bly van toepassing.

Vra die regte vrae.

In die lewe vra ‘n mens baie vrae. As jy iets nie verstaan nie, vra jy ‘n verduideliking. As jy iets wil weet, vra jy ‘n vraag. As jy verdwaal het, stop jy en vra dat iemand jou die pad beduie. Wanneer dit by Bybelstudie kom, moet jy ook vrae vra. Die vrae vir elke metode gaan verskil, maar met tyd sal jy leer watter vrae om te vra. Hoe meer vrae jy vra, hoe meer gaan jy leer.

Skryf neer wat jy leer.

Het jy al uit ‘n erediens gestap en gedink, “Ek het met aandag geluister, maar ek kan sowaar nie onthou wat die dominee gesê het nie”? ‘n Mens vergeet so maklik wat jy hoor, selfs al luister jy aandagtig. Dit is een van die redes waarom jy in jou studietyd altyd moet neerskryf wat jy leer. Dit help jou ook om regtig oor die teks te dink. Hierin lê die verskil tussen Bybellees en Bybelstudie. Bybelstudie vereis dat jy baie notas neem. (Jy kan hierdie idee oral in jou geestelike lewe toepas. Kry vir jou ‘n notaboek waarin jy alles wat God jou leer en insig wat Hy jou gee, neerskryf.) Maar wat gebeur nou as niks in die vers vir jou uitstaan nie? Skryf dit ook neer. Jy mag dalk nou nie veel uit ‘n vers kry nie, maar moenie moed verloor nie. Op die regte tyd sal God ook daardie vers gebruik om jou te leer wat Hy wil hê jy moet weet.

Pas toe wat jy leer.

Hoewel dit baie belangrik is om te weet wat in die Bybel staan en dit te verstaan, gaan al die kennis niks help as jy dit nie in jou daaglikse lewe toepas nie. D.L. Moody het gesê: “The Bible was not given to increase our knowledge, but to change our lives.” En in Jakobus 1:22 lees ons: “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.” Een van die redes waarom ons Bybelstudie doen, is sodat ons meer soos Jesus kan word. Dit gebeur alleenlik wanneer jy met die hulp van die Heilige Gees toepas wat jy leer. Wat het jy gesien in die teks wat jou wys op iets wat jy moet begin doen of ophou doen? Is daar dalk iets wat jy moet begin glo of ophou glo? Of dalk het dit jou gewys op ‘n verhouding waaraan jy moet werk, of hoe jy ander moet dien. Moenie net studeer om kennis te verkry nie. Bestudeer die Bybel om Jesus te ken en meer soos Hy te word.

Bestudeer die Bybel sistematies.

Dit maak nie regtig saak waar jy begin as jy sommer net die Bybel lees nie. Maar as jy wil studeer, moet jy meer met ‘n plan te werk gaan. Begin aan die begin van ‘n boek, nie sommer in die helfte nie. Moet ook nie dele van die Bybel uitlaat nie. Ja, sommige van die boeke in die Ou Testament is nie so maklik nie, maar daar loop ‘n goue draad regdeur die hele Bybel, wat al die boeke en briewe met mekaar verbind. Dit is soos ‘n legkaart waar jy al die stukke aanmekaar moet sit voor jy die hele prentjie kan sien. Onthou, “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk” (2 Timotheus 3:16).

In sy boek gebruik Rick Renner die beeld van ‘n speurder. ‘n Goeie speurder soek eers leidrade. Dan begin hy vrae vra op grond van wat hy waargeneem het. Volgende sit hy die bewyse wat gevind is bymekaar en hy interpreteer wat hy het. Dan kyk hy hoe die bewyse en feite met mekaar verband hou. Laastens kom hy tot ‘n gevolgtrekking van wat gebeur het en wie betrokke was op grond van die feite en bewyse. ‘n Bybelstudent doen basies dieselfde. Eers neem jy die basiese feite wat in die teks staan, waar. Dan vra jy vrae oor die teks en vind addisionele feite deur dieper te grawe. Volgende interpreteer jy deur te analiseer wat die teks sê. Daarna verbind jy wat jy vind met ander waarhede wat jy reeds geleer het deur verse met mekaar te vergelyk asook deur kruisverwysings (cross-refences). Laastens kyk jy hoe jy wat jy geleer het, prakties in jou lewe kan toepas.

Die Woord is ‘n onuitputlike bron van rykdom.

Maak nie saak hoeveel keer jy dieselfde teks bestudeer nie, jy kan altyd nog iets daaruit leer. Die Woord is soos ‘n bodemlose put. Daar is net geen einde aan wat jy daaruit kan leer nie: “Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het, net u gebod het geen begrensing nie” (Psalm 119:96).

Ons lewe in ‘n kits-eeu waar mense altyd op soek is na ‘n vinniger en beter manier om iets te doen. Hoewel daar verskeie kortpaaie is vir ander dinge in die lewe, is daar geen kortpaaie vir Bybelstudie nie. Dit is harde werk, maar elke oomblik werd.

Volgende week gaan ons kyk na ‘n studiemetode of twee. Onthou, wat vir een persoon die ideale metode is, is nie noodwendig vir die volgende persoon ideaal nie. Spandeer dus ‘n week of twee aan elke metode wat ons behandel en kyk watter een vir jou die beste is. Jy gaan dalk vind dat daar ‘n paar is wat jy van hou. Gebruik dan ‘n ander een elke keer wat jy Bybelstudie doen. Dit sal keer dat jy verveeld raak en jou help om selfs meer insig in ‘n gedeelte te kry.

Onthou, Bybelstudie vra tyd en werk. Dit is egter die moeite werd, so moenie opgee nie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *