Om te kla is ‘n gewoonte. Dit is los nie probleme op nie, maar veroorsaak net meer. Hierdie artikel leer jou hoe om die gewoonte te oorwin.
Ek weet nie van jou nie, maar ek kla partykeer oor dinge.
Ek kla wanneer ek iets moet doen waarvan ek nie hou nie of nie nou voor tyd het nie.
Soms kla ek oor mense in my lewe of omstandighede wat ek moet hanteer.
Dan kla ek ook oor mense wat nie die verkeersreëls gehoorsaam nie en mense wat laat is vir afsprake.
Kla, kla, kla.
En dan lees ek verse soos die een in Filippense 2:14 wat sê: “Doen alles sonder kla of teëpraat”, en ek besef dat ek skuldig staan voor God, want ek voer nie Sy opdrag uit nie.
KLA IS ‘N GEWOONTE.
Soos so baie ander dinge in ons lewens, is kla net ‘n gewoonte.
Ons doen dit van kleinsaf en raak by die dag al hoe meer geoefen daarin.
Maar God het altyd ‘n rede vir elke opdrag wat Hy gee, en daarom is dit belangrik dat ons kyk waarom dit sleg is om te kla.
Ons moet ook weet wat ons daaraan kan doen om saam met God te werk om die gewoonte te verander.
WAAROM KLA SLEG IS VIR JOU.
Kom ons kyk eers waarom dit so sleg is om te kla:
Dit veroorsaak dat ek nooit werklik selfondersoek doen nie.
Dit is maklik om die splinter in iemand anders se oog raak te sien en die balk in jou eie heeltemal te mis.
Die ding waaroor ek kla is dalk iets waaraan ek self skuldig is.
Ek sien dit egter nie raak nie omdat ek te gefokus is op wat ander doen.
Dit maak ‘n slegte situasie nog erger.
Om te kla is soos om jou te bekommer.
Dit verander niks aan die situasie nie, maar kan dit met tye net nog slegter maak.
Dit mors energie.
Soos ek reeds genoem het, vermag ons gewoonte om te kla niks.
Dit verander nie persoon of die situasie waaroor jy kla nie.
Al wat dit doen is om jou energie, wat jy kon gebruik het vir iets sinvoller, te mors.
Dit vernietig ons getuienis vir Jesus.
‘n Mens dink nie altyd daaraan nie, maar ons gekla vernietig ons getuienis vir Jesus.
Soms kla ‘n mens oor dinge waarvoor jy eintlik moet dankbaar wees.
Ander kere oor dinge wat jy van God gevra het, en wat Hy vir jou gegee het, en waarmee jy nou nie meer tevrede is nie.
Die Here waarsku ons in Jakobus 3:7-12 dat die tong ‘n rustelose kwaad, vol dodelike gif is.
Ons loof God met ons tong en met dieselfde tong vloek ons ander rondom ons.
Ons kan ook sê dat ons God loof met ons tong maar dit ook gebruik om te kla en so ons getuienis vir Jesus van nul en gener waarde te maak.
Dit is aansteeklik en versprei die donker van negatiwiteit.
Was jy al ooit saam met iemand wat negatief is en die hele tyd net praat oor negatiewe dinge?
Dan weet jy hoe aansteeklik dit is, want as jy lank genoeg na so ‘n persoon luister, dan begin jy ook sommer negatief raak en net die donker kant van alles raak te sien.
‘n Gekla werk dieselfde.
Kla lank genoeg oor ‘n persoon of situasie, en jy sien naderhand niks goeds meer daaromtrent raak nie.
En jy beïnvloed almal om jou om ook negatief te raak.
Om te kla beteken ek bevraagteken God se wysheid, ek twyfel aan Sy sorg en ek vergeet Sy goedheid.
Hierdie een laat ‘n mens nogal dink, want wie van ons dink dat ons God se wysheid bevraagteken?
Ons sal mos nooit aan Sy sorg twyfel of Sy goedheid vergeet nie!
Maar dit is presies wat ons doen wanneer ons kla.
5 MANIERE OM OORWINNING TE BEHAAL.
Noudat ons weet waarom dit so sleg is om te kla, kom ons kyk na vyf maniere hoe ons hierdie gewoonte kan oorwin:
Erken dat dit ‘n probleem is.
As jy, soos ek, die slegte gewoonte het om te kla, dan moet ons vandag erken dat ons ‘n probleem het.
Ons moet dit voor God bely en ‘n definitiewe besluit neem dat ons saam met Hom gaan werk om daarvan ontslae te raak.
Aanvaar verantwoordelikheid vir my eie lewe.
Ons het nou die probleem erken en bely, en die besluit geneem dat ons saam met God gaan werk om te verander.
Een manier om saam met Hom te werk, is om Sy Woord te bestudeer om uit te vind wat Hy sê oor ons woorde en gesindheid.
As ons die regte gesindheid het, sal ons met ander oë na mense en situasies kyk.
Met God se woorde in ons hart, sal ons ook die regte woorde – Sy woorde – begin spreek oor mense en omstandigehede in ons lewens.
God wil ons verander om aan die beeld van Sy Seun gelyk te word, maar Hy doen dit nooit sonder die Heilige Gees en Sy Woord nie.
Ontwikkel ‘n dankbare hart.
Dankbaarheid verander ‘n mens se hele perspektief.
Maak ‘n punt daarvan om elke dag vir die Here dankie te sê vir alles waarmee Hy jou seën.
As dit nodig is, skaf vir jou ‘n notaboek aan en skryf elke dag ‘n lys van dinge neer waarvoor jy God kan dank.
‘n Dankbare hart verskuif jou fokus van dít waaroor jy wil kla, na die dinge waarvoor jy dankbaar kan en moet wees.
Sien God se hand raak in jou omstandighede.
Vriende van ons was verlede jaar betrokke in ‘n gewapende roof.
Hoewel baie van hulle besittings gesteel is, het nie een van die gesin iets oorgekom nie.
Die vrou was besig om te stort toe die rowers toeslaan, en een het haar uit die stort kom haal.
Die gevolg was dat sy gedurende die rooftog net ‘n handdoek om haar gehad het.
Dinge kon so maklik anders verloop het vir hulle, maar die Here was by hulle en het hulle beskerm.
Dit maak nie saak wat die lewe ons kant toe gooi nie, ons moet altyd soek vir God se hand in ons omstandighede.
Hy is altyd by ons, is altyd vir ons, en is altyd besig om in ons belang op te tree.
Ons moet net ons oë oopmaak en kyk, en ons sal elke keer die hand van die Here kan sien ongeag wat om ons gebeur
Spreek positiewe woorde.
‘n Gedagte kan nie ‘n gedagte onderbreek nie.
Woorde moet gebruik word om ‘n gedagte te onderbreek en te vervang.
Negatiewe gedagtes lei dikwels tot ‘n gekla.
Daarom moet ons die negatiewe gedagtes vervang met positiewe woorde, veral woorde uit God se Woord.
As ons, met God se hulp, daarop let om net dinge te sê wat opbouend, bemoedigend, en positief is, sal ons met verloop van tyd ophou om altyd oor alles te kla.
LEES OOK: HOE OM GOD SE BELOFTES TE BID
Die Here het vandag deur hierdie stuk wat ek geskryf het, met my ook gepraat.
Ek erken dat ek ‘n probleem het, want ek kla so maklik oor allerhande dinge.
Maar ek wil saam met God werk om hierdie sondige gewoonte wat ek het, te verander.
Wat van jou?