Terwyl ek die een dag hierdie vers lees, is dit asof die laaste sin van die bladsy af spring en in my hart kom lê.
Die lewe is belangriker as kos.
Die liggaam is belangriker as klere.
Terwyl ek bietjie hieroor gedink het, het die volgende verse by my opgekom.
Johannes 14:6, waar Jesus gesê het, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” En Johannes 10:10: “‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”
Ek het aan Paulus se woorde in Galasiërs 2:20 gedink: “…en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat Sy liefde vir my bewys het deur Sy lewe vir my af te lê.”
Ek het eendag iemand hoor sê dat ons, wanneer ons weergebore word, sê ons het ons lewens vir Jesus gegee. Maar dit is nie waar nie. Voor ons wedergeboorte het ons nie lewe gehad nie, ons was geestelik dood. Maar toe ons in Jesus glo en vertrou as Verlosser, het Hy vir ons Sy lewe gegee. Die korrekte manier is dus om te sê dat ons die lewe van Jesus ontvang het toe ons weergebore is.
Is dit nie wonderlik nie?
Elke kind van God het die lewe van Jesus in hom of haar. En, soos hulle in die advertensies sal sê, dit is nie al nie! Jesus het nie net vir ons Sy lewe gegee nie, Hy onderhou ook daardie lewe: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (Johannes 6:35).
Die lewe is belangriker as kos.
Verse aangaande die liggaam het ook by my opgekom.
In 1 Korinthiërs 6:19 lees ons: “Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie…”
En in Romeine 12:1-2 staan daar: “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
My liggaam is ‘n tempel en ek moet dit as ‘n lewende en heilige offer aan God gee.
Die lewe is belangriker as kos.
Die liggaam is belangriker as klere.
Het jy al opgelet hoeveel tyd en moeite word daar gespandeer op kos en klere? Hoeveel tyd per dag spandeer jy daaraan om kos te koop, dit voor te berei en te eet? Hoeveel tyd spandeer jy in klerewinkels sodat jy net die regte nuwe mode kan koop?
As ons eerlik is met onsself, beskou ons die lewe as belangriker as die kos wat ons eet, en die liggaam as belangriker as die klere wat ons aantrek?
Of word ons ook maar gelyk aan die wêreld en fokus net op dinge wat van verbygaande aard is, terwyl ons die belangrike dinge agterweë laat bly?
Waar is jou fokus?