God het in Sy groot genade vir ons ‘n geskenkpak gegee wat gevul is met die wonderlikste dinge. Lees meer daaroor in hierdie artikel.
Ek het vir ‘n hele paar jaar by ‘n geskenkwinkel gewerk.
Buiten vir die geskenke wat ons verkoop het, het ons ook kartonboksies gemaak waarin jou geskenkie verpak kon word, en dit met allerhande interessante goed versier.
Ek het soveel boksies gemaak dat ek nou nog vir jou ‘n boksie vir jou geskenk sal kan maak as jy net vir my die afmetings van die geskenk gee!
Ons het ook gereeld geskenkpakke opgemaak.
Een van ons gewildste geskenkpakke was vir die manne.
Daarin het ons biltong en droë wors, neute en droë vrugte, ‘n drinkding soos brandewyn of whiskey en ‘n tydskrif oor jag of visvang, verpak.
Meer as een kliënt het jaar na jaar vir haar man dieselfde geskenkpak kom koop, want die manne het dit baie geniet en waardeer.
Daar is min dinge wat so lekker is as om ‘n geskenk, wat iemand spesiaal vir jou uitgekies het, te ontvang.
En as die persoon wat die geskenk gee jou baie goed ken, en iets gekies het wat jy regtig baie van hou, dan is dit sommer nog lekkerder.
God die Vader ken ons as mense só goed dat Hy, lank voor die aarde geskape is, reeds ‘n geskenkpak opgemaak het wat alles bevat wat ons ooit mag nodig kry.
Daardie geskenkpak gee Hy vir jou omdat Hy jou liefhet.
Daagliks hou Hy dit na mense uit, en al wat hulle moet doen is om dit in geloof te aanvaar.
Soos ons geskenkpakke vir die mans verskillende dinge soos biltong, droë wors, neute, brandewyn en ‘n tydskrif bevat het, bevat die geskenkpak wat God gee ook verskillende dinge.

JESUS.
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.” (Johannes 3:16-17
“Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.” (Handelinge 4:12)
LEES OOK: SIEN JESUS IN ‘N KERSBOOM
DIE HEILIGE GEES.
“Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ‘ Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.” (Johannes 7:37-39)
“Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.” (Efesiërs 1:13-14)
DIE WOORD.
“Maar Hy antwoord: ‘Daar staan geskrywe: ”n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.'” (Mattheus 4:4)
“Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.” (Johannes 17:17)
‘Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die
onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog
onervare is.
Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod
van die Here is helder: dit gee insig.
Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas. Die bepalings
van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig.
Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels
uit ‘n heuningkoek.
U dienaar laat hom daardeur leer. Wie dit alles onderhou, groot is sy
beloning.” (Psalm 19:8-12)

VERGIFNIS VAN SONDE.
“Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.'” (Lukas 24:46-47)
Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” (1 Korinthiërs 6:9-11)
“Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.” (Efesiërs 1:7-8)
REGVERDIGHEID (RIGHTEOUSNESS)
“Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (2 Korinthiërs 5:21)
VREDE MET GOD.
“God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (Romeine 5:1)
“God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.” (Kolossense 1:19-20)
Bogenoemde is slegs ‘n paar van die items wat deel vorm van God se hemelse geskenkpak wat Hy na jou toe uithou. Jy moet dit slegs in geloof aanvaar. En, as jy besluit dat jy graag hierdie geskenkpak joune wil maak, dan gee God jou boonop die geloof om dit te doen!
Moet dus nie langer wag nie. Maak die hemelse geskenkpak wat God na jou uithou vandag nog in geloof joune.