Verlede week het ons gesels oor die beginsels van Bybelstudie. Noudat jy weet jy moet vrae vra van die teks, neerskryf wat jy leer, en ook toepas wat jy leer, is dit tyd om meer te leer oor die verskillende metodes wat jy kan gebruik om Bybelstudie te doen.
Bybelstudie en stiltetyd is nie dieselfde ding nie. Jou stiltetyd met die Here is iets wat jy elke dag doen. In jou stiltetyd bid jy, jy lees ‘n stukkie uit die Bybel, en jy oordink wat jy gelees het. Dit is tyd wat jy in God se teenwoordigheid spandeer; waar jy vir tien minute of ‘n halfuur of langer sommer net rustig saam met Hom kuier.
Bybelstudie het bietjie meer om die lyf. Tydens jou studie gaan jy dieper delf in die Woord. Jy gaan meer tyd opsy sit om dit te doen, en jy gaan dit ook nie noodwendig elke dag doen nie.
Voor ons by die studiemetodes kom, eers ‘n paar gedagtes omtrent voorbereiding.
Besluit op ‘n dag en plek waar jy jou studies wil doen. Sit genoeg tyd opsy – verkieslik twee tot vier ure – en teken dit so in jou dagboek aan. Hanteer dit soos jy ‘n afspraak met ‘n belangrike kliënt sou hanteer. Onthou om ‘n tyd te kies waar jy op-en-wakker en gefokus is. Moenie probeer om jou studies in te pas wanneer jy moeg is nie, want dan gaan jy nie veel daaruit kry nie.
Die regte hulpmiddels is belangrik. ‘n Notaboek om neer te skryf wat jy leer is een van die eerste dinge wat jy moet aanskaf. Meeste van die volgende hulpmiddels kan jy aanlyn kry, so jy hoef nie eens geld op boeke uit te gee nie!
Kry ‘n goeie studie Bybel. Kry ook vir jou ‘n paar moderner vertalings, wat maklik lees. ‘n Konkordansie (Strong’s en Young’s is goeie opsies), ‘n Bybelwoordeboek of ensiklopedie en ‘n kommentaar of twee sal ook van groot hulp wees. As jy nie ‘n probleem het om Engelse boeke te gebruik nie, is baie van die hulpmiddels aanlyn beskikbaar: biblehub.com, www.studylight.org, www.biblestudytools.com
Voor jy met jou studies begin, bid en vra die Here om jou te reinig van enige sonde waarvan jy bewus is. Vra Hom om jou te vul met Sy Gees, en vra die Heilige Gees om jou te lei in jou studies. Jy gaan Sy hulp nodig hê om waarhede vir jou uit te wys, dinge vir jou duidelik te maak, en jou te wys hoe jy dit wat jy leer, in jou lewe moet toepas. Sommige mense bid Psalm 119:18: “Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van U wet ervaar.”
En nou kom ons uiteindelik by die verskillende Bybelstudie metodes. In sy boek, Rick Warren’s Bible Study Methods, gee Rick Warren 12 verskillende metodes waarop ‘n mens Bybelstudie kan doen. Soos met meeste ander dinge in die lewe, gaan elke metode dalk nie vir jou werk nie. Jy sal dus elkeen moet beproef om te sien watter vir jou die beste werk.
Ek gaan al twaalf metodes in kort vir jou verduidelik. Dan gaan ons die volgende paar weke gebruik om in diepte na ‘n paar metodes te kyk.
Oordenkingsmetode.
Hierdie is die maklikste van al die metodes en kan met sukses in jou stiltetyd ook gebruik word. Kies ‘n kort stuk om te lees. Oordink wat jy gelees het tot die Heilige Gees jou wys hoe om dit in jou lewe toe te pas. Skryf neer hoe jy dit gaan toepas.
Karakterstudie.
Kies ‘n karakterkwaliteit wat jy wil ontwikkel. Studeer wat die Bybel daaroor sê. Onthou om neer te skryf wat jy leer!
Biografie-metode.
Is daar ‘n karakter in die Bybel wat jou nog altyd gefasineer het? Dan is dit nou die tyd om meer oor hom of haar te leer. Studeer al die verse oor hom/haar. Maak notas oor karaktereienskappe asook oor sterk en swak punte. Hoe kan jy wat jy geleer het, in jou eie lewe toepas?
Hoofstukopsomming.
Kies ‘n hoofstuk. Lees dit ten minste vyf keer deur. Skryf ‘n opsomming van die sentrale gedagtes.
Tema-metode.
Kies ‘n Bybeltema wat jy wil studeer. Dink aan drie tot vyf vrae wat jy oor tema wil antwoord. Studeer al die verwysings wat jy oor tema kan vind. Skryf neer wat jy leer. Skryf ook die antwoorde op jou vrae neer.
Onderwerpmetode.
Kies ‘n onderwerp waaroor jy meer wil leer. Vergelyk al die verse wat jy oor die onderwerp kan kry. Skryf neer wat jy leer en, as dit moontlik is, deel dit met iemand anders.
Woordstudiemetode.
Studeer die belangrike woorde in die Bybel. Vind uit hoeveel keer die woord in die Bybel gebruik word asook hoe dit gebruik word. Vind ook uit wat die woord se oorspronklike betekenis is.
Boekagtergrondmetode.
Studeer hoe geskiedenis, geografie, kultuur, wetenskap en politiek die gebeure in die Bybel geaffekteer het.
Boekoorsigmetode.
Kies ‘n boek van die Bybel en lees dit ‘n paar keer deur om ‘n oorsig te kry van die onderwerpe wat in die boek behandel word. Studeer die agtergrond van die boek en maak notas oor die inhoud.
Hoofstukontledingsmetode.
Bestudeer ‘n hoofstuk van ‘n boek van die Bybel deur in diepte na elke vers te kyk. Bekyk die verse woord vir woord en maak notas oor die details wat jy raaksien.
Boeksintese metode.
Lees ‘n boek van die Bybel ‘n paar keer deur. Maak ‘n opsomming van die inhoud en hooftemas van die boek. Hierdie metode kan met sukses gebruik word nadat jy die Boekoorsig- en Hoofstukontledingsmetodes gebruik het om elke hoofstuk van die boek te bestudeer.
Vers-vir-vers-ontledingsmetode.
Kies ‘n gedeelte uit die Bybel en ondersoek dit in detail deur vrae te vra, kruisverwysings na te gaan, en deur elke vers in jou eie woorde neer te skryf. Onthou om ‘n moontlike toepassing vir elke vers neer te skryf.
Sommige van bogenoemde metodes is makliker as ander, maar elkeen kan jou waarhede leer aangaande God en die manier waarop Hy dinge doen. Dit kan jou ook dinge omtrent jouself leer – dinge wat jy dalk in jou lewe moet verander, waarhede wat jy moet glo, en wie jy in Christus is.
Om die Bybel te bestudeer gaan tyd neem, maar dit is die moeite werd.
Volgende week kyk ons in meer detail na ‘n metode of twee. Kry dus solank jou studiehulpmiddels bymekaar, sodat jy reg is om ‘n metode te kies en jou Bybel te begin studeer!
vers vir vers ontleding metodes