Wanneer laas het jy stilgestaan en gedink oor waarom ons die Here loof en aanbid? Psalm 100 gee vir ons ‘n paar wonderlike redes. Dit wys vir ons dat God nie net waardig is om geprys te word nie, maar ook waarom Hy waardig is om geprys te word. Vandag gaan ons hierdie bekende psalm saam bestudeer deur die VOLG-metode te gebruik.
So, kom ons val weg en…
V – VRA GOD SE LEIDING.
Hemelse Vader, baie dankie vir U Woord. Dankie dat U daardeur met ons praat en ons leer wat U wil hê ons moet weet. Ons bid dat U vir ons ore sal gee wat oop is om U stem te hoor en harte wat ontvanklik is vir wat U ookal vir ons wil sê. Ons bid ook dat U vir ons die wil en die vermoë sal gee om dit wat ons vandag leer, in ons lewens toe te pas. Dit vra ons alles in Jesus se Naam. Amen.
Noudat ons gebid het, kom ons…
O – ONDERSOEK DIE TEKS.
In Psalm 100:1-5 lees ons :
‘n Dankpsalm. Juig tot eer van die Here, almal op aarde!
Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel!
Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde.
Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam,
want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.
In dié psalm sien ons dat dit ‘n voorreg is om die Here, wat so ‘n wonderlike God is, te dien en Hom in Sy huis te kan ontmoet. Daarom moet gelowiges met groot blydskap tot Hom nader en in Sy Teenwoordigheid verskyn.
Noudat ons weet waaroor die teks gaan, kom ons…
L – LET OP DIE LESSE.
Daar is sommer heelwat dinge wat ons uit Psalm 100 kan leer, maar ons gaan vandag net een vraag van hierdie teks vra. Ons gaan vra: Wat leer ons oor God uit die gedeelte?

DIE HERE IS GOD.
Daar is baie gelowe in hierdie ou wêreld en baie dinge wat mense aanbid. Ook ons as kinders van God het dinge wat ons ‘aanbid’ sonder dat ons dit eers besef, want alles wat ons voor God stel, alles waarop ons vertrou eerder as op Hom, is dinge wat ons in effek aanbid.
Maar hierdie psalm sê baie duidelik vir ons die Here is God. Hy is die enigste God. Daar is niemand anders soos Hy nie.
DIE HERE IS DIE SKEPPER.
Die Here God het die hemel en die aarde, die mens en alles wat ons op die aarde kan sien, geskep. Daarom behoort ons, en ook alles in die hemel en hier op aarde, aan Hom.
DIE HERE IS DIE VERLOSSER.
In vers drie sien ons nie net die Here se skeppingswerk nie, maar ook Sy verlossingswerk. Omdat Hy ons, in Christus, verlos het, is ons Sy volk, Sy eie kudde.
DIE HERE IS ONS HERDER.
Die psalm sê dit nie direk nie, maar aangesien ons die Here se kudde is, beteken dit ook dat Hy ons Herder is. Hy sien om na ons, sorg vir ons, beskerm ons, lei ons, soos ons sien in Psalm 23.
LIEFDE, GOEDHEID, GETROUHEID.
In die laaste vers sien ons drie van God se karaktereienskappe.
Hy is goed. Hy doen nie net goed nie, maar is goedheid self. Daarom is alles wat Hy doen goed omdat Hy goed is.
Hy is liefde. Weereens het Hy nie net lief nie, maar is liefde self en daarom is daar geen einde aan Sy liefde nie want daar is nie ‘n einde aan Hom nie.
Hy is getrou en Sy trou teenoor ons duur van geslag tot geslag, met ander woorde, dit hou ook nooit op nie.
Noudat ons gesien het watter lesse ons uit die gedeelte leer, kom ons…
G – GAAN EN WEES ‘N DOENER VAN DIE WOORD.
Ons laaste stap is om saam met die Heilige Gees na te dink oor wat ons oor God geleer het en wat ons elkeen daarmee in ons eie lewens moet doen. Onthou, ‘n mens moet dit wat jy uit die Bybel leer op een of ander manier in jou lewe toepas, anders help dit nie veel dat jy dit geleer het nie.
Elkeen van ons gaan iets anders doen met dit wat ons nou oor God geleer het. Party van ons gaan dalk moet verander wat ons oor Hom glo. Ander van ons het dalk vir die eerste keer iets oor God geleer, wat ons nou kan begin glo. En nog ander is dalk herinner aan wie God is en wat Hy vandag vir jou in jou omstandighede kan en wil wees.
So, omdat ons nie een dit wat ons geleer het dieselfde gaan toepas nie, wil ek jou uitdaag om stil te word by die Here en Hom te vra om deur Sy Gees vir jou te wys hoe jý elkeen van die dinge wat jy oor Hom geleer het, in jou lewe kan toepas.
Skryf neer wat jy hoor of wat jy dink Hy vir jou sê. En onthou om Hom te vra om jou te help om gehoorsaam te wees aan dit wat Hy vir jou sê en wys.
JESUS, DIE BYBEL, EN JY.
Daar is nog ‘n klompie dinge wat ons uit Psalm 100 kan leer, so in die volgende artikel gaan ons daarna kyk.
Maar voor ek jou laat gaan, wil ek jou eers gou vertel van Jesus, Die Bybel, En Jy. Dis die VOLG-metode e-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. Daarin gaan jy alles leer wat jy moet weet sodat jy die VOLG-metode in jou stiltetyd of in jou Bybelstudietyd kan gebruik.
Saam met die gids kry jy ook die VOLG-metode e-studie, Waag Dit Om Anders Te Wees, wat jy dadelik kan begin gebruik om vertroud te raak met die VOLG-metode.
So, as hierdie metode vir jou lyk na iets wat jy graag in jou tyd met Jesus wil gebruik, maak dan sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel en kry Jesus, Die Bybel, En Jy!

