BYBELSTUDIEVRAE: DRIE VRAE VIR ENIGE BYBELVERS

As jy net drie vrae oor enige Bybelvers kon vra, watter vrae sou dit wees? Vandag wil ek met jou gesels oor drie Bybelstudievrae wat jy elke dag kan gebruik.

Of jy nou ‘n mini-Bybelstudie doen of stiltetyd hou, hierdie eenvoudige vrae gaan jou help om baie meer uit elke Bybelvers te kry as wat jy dalk nou kry. So, kom ons val weg.

Baie van ons dink die Bybel gaan oor ons – oor wat ons moet doen, hoe ons moet optree, wat ons moet glo, ensovoorts. En dis waar dat die Bybel ons help om al hierdie dinge te leer.

Maar die Bybel gaan in die eerste plek oor God. Hy het dit vir ons gegee sodat ons Hom beter kan leer ken.

Daarom is die eerste ding wat ons altyd moet doen wanneer ons tyd in die Woord spandeer, om te kyk wat ons oor God kan leer.

Wanneer jy ‘n vers lees, vra:

Wat wys hierdie vers vir my oor wie God is?
Leer dit my iets oor Sy karakter?
Sien ek iets raak oor Sy hart?
Is daar ‘n eienskap van God wat ek raaksien?
Hoe hanteer God hierdie situasie en wat leer die my oor Hom?
Hoe tree God op teenoor die mense in hierdie gedeelte en wat leer dit my oor Hom?

Daar is sommer nog baie ander vrae wat jy kan vra om jou te help om raak te sien wat ‘n vers jou oor God leer. Begin met die waaroor ons nou gesels het en vul hulle aan met jou eie vrae om jou te help om God beter te leer ken deur die Woord.

Met vraag twee maak jy dinge so ‘n bietjie meer persoonlik deur die fokus te skuif na jouself.

Jy het dit dalk nie geweet nie, maar omtrent elke vers in die Bybel het ‘n moontlike aksie.

Soms wys ‘n vers jou jy glo ‘n leuen. Ander kere leer jy iets wat jy veronderstel is om te doen.

‘n Vers kan jy wys dat daar sonde in jou lewe is. Of ‘n vers kan jou wys dat jy op ‘n manier dink wat nie ooreenstem met die Woord nie.

Om jou te help om raak te sien wat ‘n vers jou oor jouself of oor jou lewe wil leer, kan jy vra:

Is daar iets wat ek doen, wat ek moet verander?
Is daar iets wat ek moet glo, wat ‘n leuen is?
Tree ek op ‘n manier op, wat volgens hierdie vers teen God se wil is?
Wat sê hierdie vers oor hoe ek oor mense, probleme, situasies, ensovoorts moet dink?

Leer die vers my iets oor my woorde?
Sien ek ‘n sonde raak, wat ook deel is van my lewe, waarvan ek moet ontslae raak?

Net soos met die vrae in vraag 1 oor God, is hierdie vrae bedoel om jou te help om te begin om te kyk wat ‘n vers jou oor jouself of jou lewe leer. Jy kan weereens jou eie vrae byvoeg om jou nog verder te help.

Hierdie is ‘n belangrike vraag, want om te weet wat die Bybel sê is een ding, maar om dit te gaan uitleef is iets heel anders.

Jakobus leer ons dan ook in sy brief aan die kerk dat ‘n mens nie net ‘n hoorder van die Woord moet wees nie, maar ‘n doener. Dis wanneer ons begin om te doen wat die Woord sê wat ons verander sodat ons meer soos die Here word.

Hou dit eenvoudig, want as jy te ‘n groot aksiestap wil neem, of te veel aksiestappe op ‘n slag, gaan jy iewers langs die pad moedeloos raak en opgee.

Vra jouself dus net hierdie vraag:

Wat is een ding, wat ek vandag kan doen, om dit wat ek uit hierdie vers geleer het, uit te leef?

Onthou om te bid voor jy besluit wat jou aksiestap gaan wees, want die Heilige Gees weet baie beter as jy wat jy moet doen om dit wat jy geleer het, uit te leef.

Skryf ook sommer jou aksiestap in jou dagboek neer, sodat jy dit die hele dag kan raaksien en nie daarvan vergeet nie.

En moenie vergeet om die Heilige Gees te vra om jou te help om jou aksiestap uit te voer nie. Sonder Sy hulp gaan jy dit in elk geval nie behoorlik regkry nie, onthou dus om te vra.

So, die volgende keer wat jy tyd in die Woord spaneer, onthou net hierdie drie Bybelstudievrae:

  1. Wat leer dit my oor God?
  2. Wat wys dit vir my oor my lewe?
  3. Hoe kan ek vandag hiervolgens leef?

Deur net hierdie drie vrae te vra kan jy al baie uit die Woord leer.

As jy nog so ‘n bietjie meer hulp wil hê, kyk dan gerus na Jesus, Die Bybel En Jy, die VOLG-metode gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. Elke letter van die woord VOLG staan vir ‘n stap wat jy neem wanneer jy dié metode gebruik. In die VOLG-gids gaan jy meer leer oor hoe jy die metode kan gebruik in jou stiltetyd en ook in jou Bybelstudietyd.

Saam met die gids kry jy ook die VOLG-studie, Waag dit om anders te wees, wat jou gaan help om sommer dadelik die metode te begin gebruik sodat jy vertroud kan raak daarmee.

Baie seën vir jou en mag die Bybelstudievrae waaroor ons vandag gesels het jou help om die Here beter te leer ken, jou eie blinde kolle raak te sien en die nodige aksiestappe saam met die Heilige Gees te neem om te verander sodat jy meer soos Jesus word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *