Ek weet nie van jou nie, maar ek hou nogal daarvan om selfhelpboeke en -ariktels te lees. Dis vir my interessant om te sien hoe ander mense sekere dinge doen en wat vir hulle werk. Ek gebruik nie altyd noodwendig hulle idees nie, maar dit bly vir my lekker om sulke tipe boeke en artikels te lees.
Ongelukkig het baie van ons die gewoonte aangeleer om die Bybel ook soos ‘n selfhelpboek te hanteer. Wanneer ons ‘n gedeelte lees, is ons eerste vraag baie keer, “Wat beteken hierdie vir my?” En dis glad nie verkeerd om daardie vraag te vra nie. God gebruik immers Sy Woord om met ons te praat en ons waarhede te leer, verkeerde dinge of dwalinge in ons lewens reg te stel en ‘n regte lewenswyse by ons te kweek.
Maar daar is ‘n baie beter vraag wat ons eerste van elke gedeelte waarna ons in die Bybel kyk, moet vra. Dis die vraag: “Wat leer hierdie gedeelte my oor God?”
Voor ons gesels oor ‘n paar maniere hoe ons hierdie vraag oor ‘n gedeelte kan vra, kom ons gesels eers oor vyf redes waarom hierdie vraag belangrik is.

REDE 1. DIE BYBEL OPENBAAR GOD SE KARAKTER.
Ons besef dit nie altyd nie, maar elke gedeelte in die Bybel wys vir ons iets oor God. Dit kan ons iets leer oor Sy liefde, Sy heiligheid, geduld, genade, geregtigheid, trou, wysheid of Sy mag.
Selfs die verhale, wat ons in die Sondagskool gehoor het en wat vir ons so bekend is, wys vir ons iets omtrent God.
Dink maar aan die verhaal van Dawid en Goliat. Dit wys ons nie net die vertroue wat Dawid in God gehad het nie, maar dat God groter is as enige vyand wat ons pad mag kruis.
Of wat van die gelykenis van die verlore seun? ‘n Mens is geneig om net te fokus op die seun wat teruggekom het na sy pa toe, maar die gelykenis vertel ook van die vader, wat genadig en liefdevol was. En dis presies die karaktereienskappe wat God ook het.
REDE 2. DIT HELP ONS OM GOD PERSOONLIK TE KEN.
In Johannes 17 lees ons die gebed wat Jesus gebid het voor Sy kruisiging. In vers 3 gee Hy vir ons die definisie van die ewige lewe. Dis nie, soos baie van ons dink, om vir altyd te lewe nie, maar dat ons vir God – Vader, Seun en Heilige Gees – ken.
Dit help nie ons weet dinge oor God, sonder dat ons Hom werklik ken nie.
Wanneer ons doelbewus vra:
- Wat wys hierdie vers oor God se hart?
- Hoe tree Hy op?
- Wat is vir Hom belangrik?
…begin ons ‘n dieper verhouding met Hom bou.
REDE 3. ONS VERTROUE GROEI WANNEER ONS GOD BETER KEN.
Ek en jy weet altwee dat ‘n mens nie iemand wat jy nou net ontmoet het, vertrou nie. Jy ken nog nie daardie persoon nie, weet nie veel van hom af nie, en kan hom dus nie vertrou nie.
Maar iemand wat jy baie goed ken, is ‘n ander saak. (Ja, ‘n mens vertrou hulle ook nie altyd nie, juis omdat jy hulle so goed ken, maar jy verstaan wat ek bedoel!)
Ons vertrou iemand wat ons ken.
Wanneer jy in die Bybel sien dat God getrou is, dat Hy Sy beloftes nakom, dat Hy vir Sy kinders sorg en dat Hy nooit verander nie, dan raak dit makliker om Hom te vertrou.
En wanneer ons al hierdie dinge in ons eie lewens ervaar het, raak dit nog makliker om Hom te vertrou wanneer die lewensstorms om jou woed.
REDE 4. DIT HOU ONS BYBELSTUDIE GOD-GESENTREER.
Baie mense lees die Bybel sodat hulle dit van hulle doen-lysie vir die dag kan afmerk. Of hulle lees dit om raad of antwoorde te kry of om beter te voel.
Maar tyd in die Bybel gaan nie net oor wat ons daaruit kan kry nie. Dis eintlik veronderstel om ‘n ontmoeting met die lewende God te wees.
Wanneer ons vra wat ‘n gedeelte ons oor God leer, plaas dit ons fokus terug op Hom.
REDE 5. WAT ONS VAN GOD LEER, VERANDER ONS LEWENS.
Dit is nou maar eenmaal so dat wat ons oor God glo, seker dinge in ons lewens beïnvloed. Dit beïnvloed hoe jy bid en hoe jy leef. Verder beïnvloed dit hoe jy goeie tye en ook moeilike tye hanteer. En dit beïnvloed hoe jy ander mense sien en selfs hoe jy jouself sien, om maar ‘n paar te noem..
As jy byvoorbeeld glo dat God liefdevol is en dat Hy ‘n verhouding met jou wil hê, sal jy moeite doen om aan jou verhouding met Hom te werk sodat jy ‘n dieper verhouding met Hom kan hê.
As jy verstaan Hy is heilig, sal jy sonde ernstiger opneem en saam met die Heilige Gees wil werk om van enige sonde in jou lewe ontslae te raak.
En as jy weet Hy is getrou, sal jy hoop hê selfs wanneer dit lyk asof daar geen hoop meer oor is nie.
HOE OM HIERDIE VRAAG TE VRA.
Noudat jy weet waarom jy die vraag moet vra, kom ons gesels oor ‘n paar maniere hoe jy die vraag kan vra.
Soms leer ‘n gedeelte ons iets oor God se karakter. Ander kere leer dit ons iets oor hoe Hy dinge doen, waarvan Hy hou of nie hou nie, of wat Sy wil is of nie is nie.
Hier is ‘n paar vrae wat jy van enige gedeelte kan vra, om jou te help om raak te sien wat dit oor God leer. Onthou dat jy nie noodwendig ‘n antwoord op elkeen van die vrae uit elke gedeelte gaan kry nie, maar dit gaan jou ten minste ‘n beginpunt gee.
Wanneer jy dus ‘n gedeelte lees, vra:
- Wat leer hierdie vers my oor God se karakter?
- Wat doen God in hierdie gedeelte?
- Hoe reageer God op mense of op wat hulle doen of sê?
- Wat sê hierdie vers oor wat belangrik is vir God?
- Leer ek iets hier oor God se wil? Is dit Sy wil vir spesifieke mense of vir alle gelowiges?
- Is daar ‘n belofte, waarskuwing of waarheid oor God hier?
As jy aan nog vrae kan dink wat jou gaan help om te sien wat jy oor God uit ‘n gedeelte kan leer, skryf hulle in jou notaboek of joernaal neer sodat jy hulle in die toekoms kan gebruik.
JOU AKSIESTAP VIR DIE WEEK.
Onthou, die Bybel gaan in die eerste plek oor God. En tyd in die Bybel, of dit nou stiltetyd of Bybelstudietyd is, gaan oor ‘n verhouding met God.
Hoe meer ons in die Bybel sien wie God is, hoe meer gaan ons Hom liefhê, vertrou en volg.
Daarom is die vraag: “Wat leer hierdie gedeelte my oor God?” nie net nóg ’n Bybelstudie-vraag nie, dit is ‘n vraag wat ons harte nader trek na Hom toe.
Maak dus hierdie week ‘n punt daarvan om, elke keer wat jy ‘n gedeelte lees, te vra: “Wat leer die gedeelte my oor God?”
DIE VOLG-METODE.
Hierdie vraag is een van die vrae wat jy vra wanneer jy die VOLG-metode vir jou stiltetyd of Bybelstudietyd gebruik. Die VOLG-metode is ‘n eenvoudige metode wat jou help om ‘n bietjie dieper na ‘n teksvers of gedeelte in die Bybel te kyk, sodat jy kan raaksien wat die Here daardeur vir jou wil sê.
As jy meer oor dié metode wil weet, kyk dan gerus na Jesus, Die Bybel, En Jy. Dis die VOLG-metode e-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. In dié e-gids gaan jy alles leer wat jy moet weet sodat jy die metode in jou stiltetyd of in jou Bybelstudietyd kan gebruik.
Saam met die e-gids kry jy ook die VOLG-metode e-studie, Waag Dit Om Anders Te Wees. Hierdie studie gaan jou help om vertroud te raak met die VOLG-metode, sodat jy dit self in jou tyd met Jesus kan begin gebruik.
So, maak sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel, kry jou VOLG-metode e-gids en e-studie en begin om Jesus deur Sy Woord te VOLG.

