As jy al ‘n rukkie by ons is, sal jy weet dat ek nogal heelwat skryf oor die VOLG-metode, wat jy vir jou stiltetyd en ook vir jou Bybelstudietyd kan gebruik.
Elkeen van die letters van VOLG staan vir ‘n ander stap wat jy neem wanneer jy die metode gebruik.
Vandag wil ek ‘n bietjie met jou gesels oor die V, wat staan vir Vra God Se Leiding.
Saam gaan ons kyk na die redes waarom ‘n mens leiding vra, wanneer jy dit vra, hoe jy dit vra, ensovoorts. So, kom ons val sommer met die eerste vraag weg.
WAAROM IS DIT BELANGRIK OM GOD SE LEIDING TE VRA?
Die Bybel is ‘n groot boek wat deur God geïnspireer is en daarom is dit ook net Hy wat jou kan help om dit regtig te verstaan. Sonder Sy hulp gaan jy maklik dieper betekenisse miskyk. Jy gaan dalk net lees, sonder om raak te sien wat Hy vir jou wil sê.
Maar wanneer jy die Here vra vir leiding, dan raak die Woord vir jou iets wat lewe. Dit raak iets wat direk in jou situasie, jou probleem, jou verwarring, jou vrees, jou vreugde, jou behoefte, ensovoorts inspreek.
Wanneer jy die Here vra om jou te lei in jou tyd in Sy Woord, dan word die Woord iets wat jou help om aan jou verhouding met Hom te bou, want jy lees nie net oor Hom nie, jy ontmoet Hom daar in die bladsye van die Bybel.

WAAR PAS HIERDIE GEBED IN JOU STILTETYD?
‘n Mens begin altyd jou tyd met die Here met gebed. Dit help om jou gedagtes stil te maak en jou fokus te skuif na die Een saam met wie jy tyd gaan spandeer.
Jy kan natuurlik ook bid terwyl jy besig is om te lees of studeer, veral as daar iets is wat jy nie verstaan nie of wat nie vir jou sin maak nie. Jy gaan dalk nie dadelik die insig kry waarna jy soek nie, maar deur te erken dat jy nie verstaan nie, gee jy die Here die geleentheid om op die regte tyd vir jou te help om te verstaan.
En laastens is dit altyd ‘n goeie idee om God se leiding te vra wanneer jy begin nadink oor hoe jy dit wat Hy jou geleer het, in jou lewe moet toepas. Die Here weet baie beter as ons hoe ons iets moet toepas sodat dit ons lewens kan verander, so vra Hom altyd om jou te wys hoe jy dit moet doen.
WAT BETEKEN DIT OM GOD SE LEIDING TE VRA?
Om God se leiding te vra wanneer jy tyd in die Bybel spandeer, beteken eenvoudig dat jy stil word by die Here, op Hom fokus en met Hom gesels.
Dis ‘n manier om jou hart oop te maak sodat jy kan hoor wat Hy vir jou wil sê deur Sy Woord.
Dis die manier waarop ons erken dat ons nie verstaan wat in die Woord staan as ons op ons eie insigte staatmaak nie en dat ons die Heilige Gees nodig het om dit vir ons oop te breek en ons te help verstaan.
Wanneer jy bid vir leiding, dan vra jy vir insig, wysheid, ‘n ontvanklike hart en dat die Heilige Gees jou help om gefokus te bly, sodat jou aandag nie afdwaal nie.
WIE VRA JY EN WIE IS BETROKKE?
‘n Mens lees op verskeie plekke in die Woord hoe die Drie-eenheid betrokke was by ‘n spesifieke geleentheid. Dink aan die dag toe Jesus gedoop is. In Mattheus 3:16-17 lees ons: “Nadat Jesus gedoop is, het Hy dadelik uit die water opgestaan. Meteens het die hemele vir Hom oopgegaan en Hy het die Gees van God soos ‘n duif op Hom sien neerdaal. En meteens het ‘n stem uit die hemele gesê: ‘Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.'”
In hierdie gedeelte sien ons die Vader, wat praat uit die hemel. Ons sien vir Jesus, wat gedoop word. En ons sien die Heilige Gees, wat soos ‘n duif op Hom neerdaal.
Wanneer ons tyd met die Here in Sy Woord spandeer, dan is die Drie-eenheid ook betrokke.
Jy kom na die Vader. Hy is jou liefdevolle Skepper en Voorsiener , maar ook jou “Abba”, jou Pappa-God. Hy ontvang jou met oop arms en luister na jou soos ‘n pa na sy kind sal luister.
Jesus is die Een wat jou verhouding met God moontlik maak. As jou Hoëpriester en Voorspraak staan Hy langs jou en maak dit vir jou moontlik om met vrymoedigheid na die Vader te kom, nie omdat jy dit verdien nie, maar omdat Jesus Sy lewe vir jou afgelê het sodat jy met God in ‘n verhouding kan staan.
Die Heilige Gees leef in jou en lei jou van binne af. Hy help jou om te bid, om die Woord te verstaan en om God se wil raak te sien.
WANNEER MOET JY LEIDING VRA?
Ek het nethou genoem ons vra leiding reg aan die begin van ons tyd met die Here. Ons vra ook leiding wanneer ons iets nie verstaan nie en wanneer ons nadink oor hoe om dit wat die Here vir ons gesê het, in ons lewens toe te pas.
Maar daar is ook ander kere wanneer ‘n mens leiding kan vra.
Jy kan leiding vra wanneer jy moeg is en dit vir jou voel of jou aandag die hele tyd dwaal. Dis dan wanneer jy vra dat die Heilige Gees jou help om te fokus. Dis ook dan ‘n goeie tyd om te vra dat die rus wat Jesus ons in Mattheus 11:28 belowe het, op daardie oomblik joune sal wees.
Vra ook leiding wanneer jy deur ‘n moeilike tyd gaan. Dis dan wanneer ‘n mens gewoonlik wysheid nodig het om die situasie te hanteer. Praat spesifiek met die Here oor jou situasie of probleem en vra Hom om vir jou leiding te gee terwyl jy met Sy Woord besig is.
Jy sal verbaas wees hoeveel keer die stukkie wat jy na jou gebed lees, presies is wat jy nodig het om te hoor. Soms gaan jy ‘n antwoord kry. Ander kere gaan jy bemoedig word. Die Here kan die Woord ook gebruik om jou te herinner aan ‘n belofte van Hom, wat direk verband hou met jou probleem.
Of dalk is jy in ‘n seisoen waar jy ‘n groot besluit moet neem. Bring daardie besluit voor die Here wanneer jy tyd met Hom spandeer en vra Hom om deur Sy Woord vir jou leiding te gee in wat Hy wil hê jy moet doen.
HOE DOEN JY DIT PRAKTIES?
Sit vir ‘n rukkie stil voordat jy begin. Sê vir jouself iets soos: “Ek gaan nou tyd spandeer met my hemelse Vader. Hy wag vir my en sien uit daarna om met my te praat en na my te luister.” Wees nog ‘n rukkie stil en sien in jou verbeelding hoe jy, soos ‘n klein kindjie, op die Vader se skoot klouter en by Hom sit. Begin dan met Hom gesels in gebed.
Hierdie kan ‘n lang gebed wees, waar jy jou hart voor Hom leegmaak sodat daar niks is wat tussen jou en Hom kan staan of wat jou aandag kan aftrek wanneer jy na Hom in die Woord luister nie. Maar dit kan ook ‘n kort gebed wees, waar jy net vra vir leiding. Jy kan dan iets bid soos:
- Here, help my om te verstaan wat U vir my wil sê.
- Heilige Gees, maak my hart oop vir die Woord.
- Here, wys my wat ek vandag in U Woord moet raaksien.
- Heilige Gees, lei my terwyl ek lees.
- Here, help my om nie net te hoor wat U vir my wil sê nie, maar ook te verstaan hoe ek dit in my lewe moet gaan uitleef.
IN OPSOMMING.
Onthou, om God se leiding te vra gaan nie oor hoe mooi jy dit doen of oor hoe lank jy bid voordat jy jou Bybel oopmaak nie. Dit gaan oor ‘n hart wat erken dat jy Hom nodig het.
Wanneer jy God se leiding vra, verander jou stiltetyd van iets wat jy net doen om dit van jou doen-lysie af te merk na ‘n ware ontmoeting met Hom. Jy begin nie net lees om meer oor die Bybel te leer nie, maar om Hom beter te leer ken en Sy stem in jou lewe te hoor.
So, hou dit eenvoudig. Wees opreg. En maak dit ’n gewoonte om elke keer wanneer jy die Woord oopmaak, eers stil te word en Hom te vra om jou te lei.
JOU AKSIESTAP VIR DIE WEEK.
Maak ‘n punt daarvan om elke keer voor jy jou Bybel oopmaak, eers by die Here stil te word.
Gebruik een van die een-sin gebede hierbo om Hom te vra om jou te lei in jou tyd in die Woord. Vertrou Hom dan dat Hy vir jou sal wys presies wat jy moet sien en dat Hy jou sal help verstaan wat Hy vir jou wil sê.
En as jy meer wil weet oor die VOLG-metode, maak dan gerus ‘n draai in ons aanlyn-winkel waar ons VOLG-gids beskikbaar is. In Jesus, Die Bybel, En Jy gesels ons oor hoe die metode werk, hoe jy dit kan gebruik in jou stiltetyd en ook hoe jy dit kan gebruik in jou Bybelstudietyd.
Saam met die e-gids kry jy ook die VOLG-studie, Waag Dit Om Anders Te Wees. Gebruik die e-studie om jou te help om vertroud te raak met die VOLG-metode sodat jy dit met vertroue kan gebruik wanneer jy tyd in die Woord spandeer.

