PREDIKER 12: OUDWORD IS ‘N SEëN VAN GOD

Het jy al ooit gedink oor hoe vinnig die lewe verbygaan? Een oomblik is jy jonk en voor jy jou oë uitvee, het die jare verbygegaan.

Dinge verander. Jou liggaam verander. Jou seisoene verander. En dit laat ons soms wonder of ons regtig nog iets in die lewe beteken wanneer die ouderdom teen ons begin tel.

In Prediker 12 gee Salomo vir ons ’n baie eerlike beskrywing van die lewe en hoe dit agteruitgaan. Maar is dit regtig die hele prentjie?

Vandag wil ek ‘n paar gedagtes met jou oor hierdie gedeelte deel. Jy kan hieronder verder lees, of jy kan na die video op ons YouTube kanaal kyk.

Jy is nooit te oud vir God nie

Voor ons oor die gedeelte gesels, kom ons lees eers wat sê Salomo:

Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: “Ek het daar niks aan nie.”
Dit is die tyd wanneer die son donker sal word en ook die daglig, die maan en die sterre, die tyd wanneer dit weer bewolk word ná die reën.

Dit is die tyd wanneer die wagters van die huis sal bewe, die sterk manne waggel en die malers ophou maal omdat hulle min geword het,
die tyd wanneer dit donker word vir dié wat deur die vensters kyk, wanneer die deure na die straat toe toegemaak word, die geluid van die meul dof word,
die tyd wanneer ‘n mens opstaan as die voëls begin sing al hoor hy geen lied meer nie.

Dit is die tyd wanneer hy bang is vir ‘n hoogte en vir alles op die pad skrik,
die tyd wanneer die amandelboom in bloei staan, die sprinkaan homself moeisaam voortsleep en die kapperkruid nutteloos word,
die tyd wanneer die mens na sy ewige woning gaan en dié wat treur, op die straat rondgaan,
die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en die goue kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend val,
die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.

Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.

As mens so na Salomo luister, dan klink hy darem baie morbied. In hierdie agt verse beskryf hy in detail, al is dit ook in baie poëtiese taal, hoe die liggaam van die mens agteruit gaan.

Dan sluit hy boonop die gedeelte af deur te sê alles kom tot niks!

Maar dit sal dom wees van ons wat onsself volgelinge van Jesus noem, om na die toekoms te kyk te dink dat ons lewens al hoe minder beteken, hoe ouer ons word.

Volgens hoe dinge in die wêreld werk, tree ‘n mens af wanneer jy 60 of 65 of dalk 70 is. Het jy gesien ek skryf volgens hoe dinge in die wêreld werk?

Want in God se Koninkryk is daar nie iets soos ‘n aftree-ouderdom nie. Wanneer jy aan Hom behoort staan jy altyd op een of ander manier in Sy diens. Daar is altyd iets wat Hy deur jou wil bereik, maak nie saak hoe oud jy is nie.

Die idee dat ouer word iets negatief is, is eintlik verkeerd.

Die Bybel sê in Spreuke 16:31: “Ouderdom is ‘n sierlike kroon; dit word bereik deur dié wat reg lewe.”

Hoe langer ons leef, hoe meer dinge leer die Here vir ons. Die dinge wat ons ervaar – die vreugdes, die oorwinninge, maar ook die swaarkry en teleurstellings – dra by tot ons kennis.

En as ons kies om dit wat die Here ons leer verder in ons lewens toe te pas, dan gaan ons vrug dra – vrug wat God verheerlik en wat ‘n voorbeeld vir die mense rondom ons is, wat hulle kan navolg.

Daarom moet ons kies om die tyd wat die Here vir ons hier op aarde gee, reg te gebruik. Ons moet besef dat ons ouderdom net ‘n getal is. Dit bepaal nie hoe die Here ons gebruik en wat Hy deur ons bereik nie.

Wat wél saak maak, is of ons die regte fondasie vir ons lewens kies, naamlik geloof in Jesus Christus.

En dat ons ‘n pad met die Here te stap sodat ons ‘n intieme verhouding met Hom kan bou, geestelik kan groei en die goeie werke wat Hy vir ons voorberei het, tot eer van Sy Naam uitvoer.

So, vandag het ek ‘n paar vrae vir jou:

Nommer 1: Het jy al gekies om jou geloof in Jesus Christus as Verlosser te plaas?

Nommer 2: As jy reeds ‘n volgeling van Jesus is, is jy besig om aan jou verhouding met Hom te bou? Is jy besig om geestelik te groei?

En nommer 3: Sal jy kan terugkyk op jou lewe en soos Paulus kan sê: Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.

Onthou, in die Koninkryk van God tree jy nooit af nie. Dit maak nie saak hoe oud jy vandag is nie – daar is iets wat die Here nog in jou wil doen en deur jou wil bereik. Al wat jy moet doen, is om Hom in geloof te volg!

Kom ons bid saam:

Hemelse Vader, dankie vir U Woord wat ons wakker skud en laat nadink oor ons lewens. Ons erken dat ons soms bang is om oud te word omdat ons dink dat ons nie meer waarde gaan hê wanneer ons oud is nie. Maar dankie dat U Woord sê ouderdom is ’n sierlike kroon vir dié wat reg lewe.

Ek bid vandag vir elkeen wat hierdie artikel lees. Ek bid dat Jesus die fondasie vir hulle lewens sal wees en dat elkeen aan die einde van hulle lewe sal kan sê: ek het die wedloop gehardloop, ek het volgehou, ek het getrou gebly.

Dan bid ek ook dat U elkeen van U kinders sal gebruik, maak nie saak hoe oud ons is nie. Wys vir ons wat U in ons en deur ons wil doen. Ek bid dit in die heilige Naam van ons Here Jesus Christus. Amen.

As jy graag aan jou verhouding met Jesus wil werk en jy het hulp nodig daarmee, maak dan gerus ‘n draai in ons aanlyn-winkel en kyk na die Stiltetyd Skatkis.

Dis drie e-gidse wat jou gaan help om stil te word by die voete van Jesus, die VOLG-metode te gebruik om te hoor wat Hy deur Sy Woord vir jou wil sê en om in gebed met Hom te gesels.

Maak dus sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel, kry jou Stiltetyd Skatkis en begin om gereeld tyd met Jesus te spandeer en so aan julle verhouding te werk.

stiltetyd skatkis

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *