Jy het seker al gehoor dat mense ‘n woord vir die jaar kies. Daar is ook sommige wat ‘n frase vir die jaar kies. Party kies ‘n woord wat saamvat hoe hulle wil hê daardie jaar moet verloop. Ander kies ‘n woord wat uitdruk hoe hulle die jaar wil voel. En nog ander kies ‘n woord wat verduidelik hoe hulle daardie jaar wil leef of wie hulle daardie jaar wil word.
So ‘n woord of frase vir die jaar kan nogal ‘n handige ding wees, want dit gee jou so ‘n bietjie leiding in hoe jy elke dag jou lewe leef, waarvoor jy ‘ja’ sê, waarvoor jy ‘nee’ sê, op watter gewoontes jy fokus, ensovoorts.
Die afgelope paar jaar het ek ook elke keer ‘n woord vir my jaar gekies. Party jare het my woord baie vir my deur die jaar beteken. Ander kere het ek iewers langs die pad daarvan vergeet en dit het nie regtig ‘n impak op my lewe gehad nie.
Hierdie jaar het ek drie woorde vir my jaar, wat die Here vir my gegee het. Hy het ook vir my ‘n frase vir die jaar gegee. Vandag wil ek ‘n bietjie met jou gesels oor my woorde vir die jaar en ook hoe jy te werk kan gaan om jou eie woord vir die jaar te kies. (Ons gaan in ‘n ander artikel meer gesels oor my frase vir die jaar, want dit sluit baie mooi aan by wat die Here wil hê ons vir die jaar op moet fokus, naamlik Jesus.)

MY WOORDE VIR DIE JAAR.
Ek het drie woorde vir 2026, soos ek gesê. Al drie woorde druk uit wie ek wil wees en hoe ek wil leef. My woorde vir 2026 is getrou, vrugbaar en vreesloos.
GETROU.
In Mattheus 25:14-30 lees ons die gelykenis van die man wat op reis gegaan het en sy besittings aan sy slawe toevertrou het. Vir een het hy vyf muntstukke gegee, vir een twee en vir een net een. Toe hy terugkom van sy reis af, het die slawe kom verslag lewer van wat hulle met die geld gedoen het.
Die een wat die vyf muntstukke gekry het, het nog vyf wins gemaak. Toe die eienaar dit hoor, het hy vir hom gesê, “Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!”
Die slaaf wat twee muntstukke gekry het, het ‘n wins van nog twee gemaak. Ook hý het gehoor, “Mooi so, goeie en getroue slaaf….”
Die derde slaaf het egter die muntstuk in die grond begrawe en dus geen wins gemaak nie. En wat sê die eienaar vir hom? “Jou slegte en lui slaaf!”
Ek weet nie van jou nie, maar ek wil hê die Here moet ook eendag vir mý sê, “Mooi so, goeie en getroue slaaf!” En as ek dít wil hoor, dan beteken dit dat ek hier en nou getrou moet wees in dit wat die Here aan my toevertrou het. Dit sluit in wie ek is – ‘n kind van God, ‘n vrou, ‘n dogter, ‘n vriendin, ensovoorts. Dit sluit ook dinge in soos my gawes en talente, hierdie bediening, my finansies, hoe my lewe heenwys na Jesus, ensovoorts.
In 2026 gaan ek dus daarop fokus om getrou te wees met alles in my lewe sodat ek dié karaktereienskap, met die hulp van die Heilige Gees, in my lewe kan vaslê. Want ek wil eendag hoor, “Mooi so, goeie en getroue slaaf!”
VRUGBAAR.
Iemand sê nou die dag dat die Here nêrens in die Bybel vir ons sê om produktief te wees nie. Wat Hy wél vir ons sê, is dat ons vrug moet dra, met ander woorde ons moet vrugbaar wees. Jy sien, ‘n mens kan produktief wees sonder dat jou produktiwiteit vrug dra. En wie wil nou hulle tyd mors met dinge wat jou besig hou, maar op die ou end nie regtig iets in hierdie lewe of in die ewigheid beteken nie?
Vrugbaar is dus my tweede woord vir die jaar. Ek wil te alle tye vasgewortel wees in Jesus sodat Hy deur my kan vrug dra. Ek wil ‘n goeie grond hart hê, wat ontvanklik is vir die saad van die Woord en wat ‘n honderdvoudige oes lewer. Verder wil ek dié dinge wat my tyd steel en my besig hou, maar nie vrug dra nie, uit my lewe sny. Ek wil ophou om besig te wees sommer net sodat ek kan sê ek is besig en regtig fokus op dié dinge wat in die ewigheid nog iets gaan beteken.
VREESLOOS.
‘n Mens se gemaksone is ‘n lekker plek om te wees, maar dis ook ‘n gevaarlike plek om te bly. Geleenthede wat die Here oor ons pad stuur kan so maklik by ons verbygaan omdat dit dalk van ons gaan vra om uit ons gemaksone te beweeg en ons nie bereid is om dit te doen nie.
Terwyl ek aan die einde van 2025 oor die jaar nagedink het, het dit my opgeval hoeveel keer ék die geleentheid gehad het om uit my gemaksone te beweeg, maar gekies het om dit nie te doen nie. En ek het besef dat vrees baie keer die rede is waarom ek maar liewer in my gemaksone bly!
Daarom is vreesloos my derde woord vir die jaar. Dapper sou dalk ook ‘n goeie woord gewees het. Maar ek hou van vreesloos omdat ek hierdie jaar, met die Here se hulp, enige iets wat van my vra om uit my gemaksone te beweeg, vreesloos wil aanpak. 2 Timotheus 1:7 sê immers dat die Here ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee het nie, so ek wil nie langer toelaat dat vrees my lamlê en veroorsaak dat ek dalk aan die Here ongehoorsaam is of geleenthede wat Hy gee misloop omdat ek liewer in my gemaksone wil bly nie!
KIES JOU EIE WOORD VIR 2026.
Het my woorde vir die jaar jou geïnspireer om jou eie woord of woorde vir 2026 te kies? Die stappe wat jy kan volg om dit te doen is eintlik heel eenvoudig.
BID.
Die eerste stap is om stil te word by die Here en vir Hom te vra om vir jou ‘n woord of woorde te gee vir jou jaar.
LUISTER EN SKRYF.
Na jy gebid het oor ‘n woord vir 2026 is dit tyd om stil te sit en te luister en neer te skryf wat jy hoor. Onthou, die Here gaan tien teen een nie in ‘n hoorbare stem met jou praat nie, maar Hy kan gedagtes of gevoelens by jou laat opkom. Jy kan dalk ook prentjies en beelde in jou gedagtes sien. Of Hy kan ‘n spesifieke situasie in jou gedagtes laat opkom. Skryf al hierdie dinge neer.
BID EN LEES.
Nadat jy alles wat jy dink die Here vir jou gesê het neergeskryf het, gaan jy weer daardeur lees. Maar voor jy lees, vra eers weer vir die Here om dit wat Hy wil hê jy regtig moet raaksien, vir jou te laat uitstaan. Lees dan deur dit wat jy geskryf het. Is daar ‘n woord of ‘n tema wat uitstaan? Skryf dit neer. Daar kan meer as een wees, soos in my geval. Skryf hulle almal neer.
BID.
Volgende gaan jy weer bid oor dit wat vir jou uitgestaan het. As jy meer as een woord, tema of frase het, vra die Here om duidelik vir jou te wys watter een die regte een is en of dit dalk almal van hulle is! Jy kan met hierdie stap selfs ‘n paar dae gebruik en gereeld daaroor bid tot jy seker is watter woord, tema of frase die Here vir jou gekies het.
SOEK BYBELVERSE.
Die laaste stap is om Bybelverse te soek wat verband hou met jou woord vir die jaar. Skryf hierdie verse neer en plak hulle oral op waar jy hulle kan sien. Dit sal jou nie net herinner aan jou woord vir die jaar nie, maar jou ook bemoedig wanneer dit moeilik raak om die woord uit te leef.
WAT IS JOU WOORD VIR DIE JAAR?
Ek sou graag wou weet wat jou woord vir die jaar is en ook waarom jy dit gekies het. Laat weet sommer in die kommentaar hieronder. En kom ons bid vir mekaar, dat die Here ons help om die woorde en frases wat Hy vir die jaar vir ons gegee het, regtig uit te leef en Hom daarmee te eer!

