20 BYBELVERSE VIR LYDENSTYD

Die kerkkalender (of liturgiese jaar) is ‘n sikliese, seisoenale kalender wat deur Christene gebruik word om die jaar te orden rondom die lewe, bediening, dood en opstanding van Jesus Christus. Dit help ons om tyd nie net volgens die wêreld se kalender te sien nie, maar volgens die verhaal van die Evangelie. Die seisoene op die kerkkalender sluit in Advent, Kersfees, Lydenstyd en Paasfees.

As jy hierdie artikel lees wanneer dit geplaas word, dan is ons in die Lydenstyd-seisoen. Baie gemeentes moedig hulle gemeentelede aan om in hierdie tyd die drie geestelike dissiplines waarvan Jesus in Mattheus 6:1-15 praat, te gebruik om hulle harte voor te berei vir Paastyd. Dié geestelike dissiplines is om te bid, te vas en te gee.

Sommige mense vas ‘n maaltyd of twee ‘n dag. Ander gee iets soos sosiale media, Netflix, YouTube, ensovoorts op. Die idee is dat jy die tyd wat jy sou gebruik om die ding te doen wat jy nou opgee, te gebruik om tyd met die Here in gebed te spandeer. Gelowiges word ook aangemoedig om saam met die Here na te dink oor hulle lewens en enige sonde wat Hy uitwys, te bely en daarvan weg te draai. Lydenstyd is dus ‘n seisoen waar ons kies om doelbewys meer tyd met die Here te spandeer, sodat Hy ons kan help om geestelik te groei. Onthou, die Here het belowe dat elkeen wat Hom met ‘n opregte hart soek, Hom sal vind!

20 Bybelverse vir Lydenstyd

Hoewel ons nou al ‘n paar weke lank besig is met Lydenstyd, is dit nog nie te laat om te besluit om hierdie drie geestelike dissiplines vir die volgende paar weke deel van jou lewe te maak nie. Om jou te help en aan te moedig in hierdie reis, deel ek graag ‘n klompie verse uit die Bybel wat ons meer leer oor elkeen van hulle.

Ons begin met ‘n klompie verse uit die Ou Testament.

Is dit ál wat Ek op ‘n vasdag wil hê: net dat ‘n mens homself verneder, dat hy sy nek buig soos ‘n biesie en in sak en as sit? Noem jy dít ‘n vasdag, ‘n dag waarvan die Here hou?
Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek?
Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ‘n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?

Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God.

Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur!
Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep.
Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie; of Hy nie weer voorspoed sal gee nie sodat daar weer graan- en drankoffers sal wees vir die Here julle God!

Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra;
dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here;…

Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm: Die Here is ‘n God wat reg laat geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.

As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie …!
Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!

Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val,
maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.

Ons vertrou op die Here: Hy is ons hulp en ons beskermer.
Ja, in Hom is ons hart bly, op sy heilige Naam vertrou ons.
Hou u liefde oor ons, Here, want ons stel ons vertroue in U.

Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.

Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord.
Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.
Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.
Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.

Wat jy moet doen, is om na jou God toe terug te keer: jy moet Hom liefhê en sy bevele gehoorsaam, jy moet jou hoop altyd op jou God vestig.

Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie.
Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting.

Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.
Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.

Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek.
Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan.
God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug.
Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ‘n toevlug.

Daar is ook verse in die Nuwe Testament waar ons meer leer oor die drie geestelike dissplines en om die Here te soek en op Hom te vertrou.

Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het.
Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie.
Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.
Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.
Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.
Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.

As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.
Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig
sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.

Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word.
In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie.
Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.
Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Hierdie is net ‘n paar Bybelverse vir Lydenstyd, wat jy kan gebruik om jou te bemoedig terwyl jy jou hart voorberei vir Paastyd. Onthou, jy hóéf nie te vas of te gee tydens Lydenstyd nie, maar dis ‘n goeie idee om ‘n bietjie meer tyd met die Here in gebed te spandeer en na te dink oor jou lewe en wat Jesus vir jou aan die kruis gedoen het. Ons vergeet soms dat Hy ‘n groot prys betaal het om ons te verlos van sonde en te versoen met God. Gebruik dus hierdie Lydenstyd jouself opnuut daaraan te herinner.

As jy nog nooit regtig gevas het nie en jy wil graag meer oor hierdie dissipline leer en dit dalk vir die res van Lydenstyd probeer, dan is 21 Dae Van Genade net waarna jy op soek is. Dis ons e-gids waarin ons gesels oor al die verskillende dinge wat jy oor vas moet weet om jou te help om daarmee te begin.

Dan is daar ook ‘n vastydjoernaal, wat jy kan gebruik om jou in jou tyd met die Here te ondersteun. Dié twee produkte is as aparte e-boeke beskikbaar, maar jy kan hulle ook in ‘n kombinasiepakket aankoop, wat jou ‘n paar rand gaan spaar. So, maak sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel en begin jou vasreis vir Lydenstyd saam met die Here.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *