19 BYBELVERSE OOR HOOP

Ons leef in ‘n wêreld waar dit baie keer lyk of dinge maar hopeloos is en waar baie mense klaar hoop verloor het. Maar die Woord van God leer ons dat ons, as kinders van God, altyd hoop het. Dit maak nie saak wat in hierdie lewe gebeur nie, ons het hoop want ons dien die God van hoop. Ons het hoop want Jesus Christus is ons hoop. En ons het hoop, want ons weet die lewe hier is nie al wat daar is nie. Ons kan uitsien na die ewigheid saam met God en deur geloof elke dag wat ons hier op aarde leef, op Hom hoop. As jy vandag voel of dinge hopeloos is en jy wil hoop verloor, dan gaan hierdie Bybelverse oor hoop jou bemoedig en jou geloof versterk.

19 Bybelverse oor hoop

Hy [Dawid] het gesê: Ek het U lief, Here, my sterkte! Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die horing van my redding, my toevlugsoord.

Onvervulde hoop maak die hart siek, maar ‘n vervulde wens is ‘n boom van lewe.

Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus. Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die heiliges het, op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag. Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei.

Wees sterk en hou moed, julle almal wat julle hoop op die Here vestig.

My erfdeel is die Here, sê ek; daarom hoop ek op Hom. Goed is die Here vir hulle wat op Hom wag, vir die mens wat na Hom soek. Goed is dit om stil te hoop op die verlossing van die Here.

God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid.

Kyk, die Here hou sy oog op dié wat vir Hom ontsag het, op dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde, om hulle lewens van die dood te red en hulle aan die lewe te hou tydens hongersnood.

Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God. Maar dis nie al nie: Ons beroem ons ook op ons verdrukking, omdat ons weet verdrukking bewerkstellig volharding, en volharding lei tot betroubaarheid, en betroubaarheid tot hoop. En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

Want die verlossende genade van God het verskyn vir alle mense, en voed ons op, sodat ons in hierdie bedeling verstandig en regverdig en godvresend kan leef, deur goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp, terwyl ons uitsien na die salige hoop en glansryke verskyning van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus…

Regverdiges se verlossing kom van die Here – hulle toevlug in ‘n tyd van verdrukking. Die Here help hulle en bevry hulle. Hy bevry hulle van goddeloses en verlos hulle, want hulle skuil by Hom.

Alles wat vroeër opgeteken is, is tog vir ons tot lering opgeteken, sodat ons hoop kan hê deur die volharding en die bemoediging wat ons uit die Skrif ontvang.

Ons begeer dat elkeen van julle enduit dieselfde ywer sal toon om tot volle sekerheid van die hoop te kom, sodat julle nie traag word nie, maar die voorbeeld volg van hulle wat deur geloof en geduld die beloftes beërf.

Waarom kwyn jy weg, my siel, en is jy so onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom weer prys vir die verlossing wat sy teenwoordigheid bring.

En Jesaja sê op sy beurt: “Daar sal ‘n loot van Isai kom, en Hy sal opstaan om oor die nasies te regeer; en op Hom sal die nasies hoop.” Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.

Die doel daarvan was dat, deur hierdie twee onveranderlike dinge, waarvolgens dit vir God onmoontlik sou wees om te lieg, ons wat vrygekom het, ‘n kragtige bemoediging sou hê om stewig vas te hou aan die hoop wat voorlê. Ons het hierdie hoop as ‘n veilige en stewige anker van die siel, wat tot aan die binnekant van die voorhangsel ingaan.

Ja, hierdie God is ons God vir altyd en ewig; Hý sal ons lei vir ewig.

Dan bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, vir julle dit sal gee: geestelike wysheid en openbaring, wat in die kennis van Hom bestaan, en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien wat die hoop is wat sy roeping bied, wat die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels, wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is, vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van sy groot krag, wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo elke owerheid en gesag en mag en heerser, ja, bo enige naam wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige.

Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het, sodat ons ‘n lewende hoop mag hê op ‘n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word – ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing wat gereed is om in die eindtyd geopenbaar te word.

Want U is my hoop, my Heer; Here, van my jeug af stel ek my vertroue in U.

Ek vertrou dat hierdie Bybelverse oor hoop jou bemoedig het en ook jou geloof in die God van hoop, versterk het.

2 thoughts on “19 BYBELVERSE OOR HOOP

  1. Hallo Risa, Ek het ‘n paar dae gelede een van jou artikels gelees oor wat gebed is, bv om met die Here te praat, wanneer jy by die werk is ens. Snaaks dat mens net altyd as gebed dink aan op jou knieë. Ek soek nou daardie idees van jou maar kry dit nie op jou blad nie. Is dit moontlik om dit vir my te stuur. Ek het kanker en lê baiemaal net in my bed of sit en my stoel en praat of bid tot hom. Ek sal dit opreg waardeer. Baie dankie

    • Risa Cronje

      Hallo Danie. Ek sal kyk wat ek het om vir jou te stuur. Sterkte!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *