24 BYBELVERSE OOR TROOS

Almal van ons het al tye beleef waar ons moeg, hartseer, bekommerd of moedeloos gevoel het. Die lewe kan soms so seermaak en ‘n mens verstaan dan nie altyd waarom dit gebeur nie. Ander kere gaan ‘n mens deur ‘n moeilike seisoen en dan voel dit of niemand verstaan of omgee nie. Maar al verstaan jy nie en al voel dit of jy alleen is, sê die Bybel dat die Here nie ver van jou af is nie. Hy is nie onbetrokke wanneer jy swaarkry of seer het nie. Hy sien jou hartseer raak, hoor jou gebede en Hy bring troos, vrede en hoop wanneer jy Hom nodig het.

En die Here doen dit nie net omdat Hy vir ons lief is nie, maar ook omdat Hy wil hê ons moet dit wat Hy vir ons gee. Deur ons wil Hy Sy liefde, bemoediging en vertroosting na iemand anders toe te bring. Want wanneer ons mekaar ondersteun, na mekaar luister, saam treur en saam bid, weerspieël ons iets van God se hart.

Vandag wil ek met jou ‘n paar Bybelverse deel, wat ons herinner aan God se troos en dat Hy ons ook roep om mekaar te bemoedig en op te bou.

24 Bybelverse oor troos

Troos, troos my volk, sê julle God.

Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.

Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word.

Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.

Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.

Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.

Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.

En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid…

En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê.

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. 4In elke moeilikheid bemoedig Hy ons.

God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.

Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.

Noudat ons gesien het hoe die Here ons vertroos, kan ons uitgaan en met die hulp en krag van die Heilige Gees, ook ander vertroos, bemoedig en ondersteun.

In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, want net soos daar vir ons ‘n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons ‘n oorvloed van bemoediging deur Christus.

As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur.

Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.

Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.

Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.

Troos mekaar dan met hierdie woorde.

Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.

Wanneer ons sê die Here vertroos ons, sê ons nie dat ons probleme altyd onmiddellik verdwyn nie. Ons sê daarmee dat ons weet ons is nie alleen nie. Ons weet die Here stap saam die pad saam met ons en Hy gee vir ons die krag, vrede en hoop wat ons nodig het om aan te hou.

Daarom wil ek jou aanmoedig om nie net hierdie verse te lees nie, maar ‘n bietjie meer tyd met elkeen te spandeer en die Here toe te laat om jou te wys wat daar regtig in elke vers staan. Jy kan die VOLG-metode hiervoor gebruik.

As jy nog nooit van die VOLG-metode gehoor het nie, dan is Jesus, Die Bybel, En Jy – ons VOLG e-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is – net waarna jy op soek is. In dié e-gids leer jy presies hoe die metode werk en ook hoe jy dit in jou stiltetyd en ook in jou Bybelstudietyd kan gebruik. Maak dus sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel en kry Jesus, Die Bybel, En Jy sodat jy die verse hierbo regtig van naby kan bekyk.

My gebed is dat hierdie verse jou herinner aan God se liefdevolle teenwoordigheid in jou lewe. Mag dit jou ook inspireer om ‘n bron van troos en bemoediging vir iemand anders te wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *