STIL NAGMAAL VIR PAASTYD

Kom sit vir ‘n oomblik… net jy en Jesus.

In ‘n wêreld wat altyd haastig is, kry ons min kans om regtig stil te word, om nie net te onthou wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het nie, maar dit weer diep in ons harte te beleef.

Veral in die weke rondom Paasfees word ons herinner aan die kruis en die prys wat met groot liefde vir ons betaal is. Hierdie waarheid is egter nie net belangrik tydens Paastyd nie, maar is iets waarna ons gereeld deur die jaar kan terugkeer.

Vandag wil ek met jou ‘n Stil Nagmaal deel, wat jy in Paastyd, maar ook enige ander tyd van die jaar, kan gebruik om stil te word by Jesus en te onthou, te voel en opnuut geraak te word deur dit wat Hy vir jou kom doen het.

So, neem jou tyd. Moenie haastig wees nie. Lees rustig deur elke gedeelte en laat die Heilige Gees toe om met jou hart te praat.

'n Stil Nagmaal vir Paastyd

Vir hierdie Stil Nagmaal gaan jy brood en wyn, die elemente van die nagmaal, nodig hê.

Dis ook ‘n goeie idee om die gedeelte hieronder uit te druk sodat jy dit byderhand het vir jou Stilnagmaal. Jy kan hier ‘n gratis PDF daarvan aflaai.

Dan gaan jy ook ‘n stil plekkie moet soek, waar jy alleen met Jesus kan wees en niemand jou gaan pla nie.

As jy alles bymekaar het, doen dan die volgende.

Psalm 46:11: Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

Voordat jy enigiets lees of doen — raak eers stil. Maak jou oë toe en haal ‘n paar keer diep asem. Bring jou hart en jou gedagtes tot bedaring. Raak bewus van die feit dat Jesus by jou is, net daar waar jy nou sit.

Wanneer jy gereed is, bid in jou hart tot Hom. Sê vir Hom dat jy met ‘n oop hart na Hom toe kom. Vra Hom om jou te help om opnuut weer te sien wat Hy vir jou gedoen het en om in jou ‘n diepe liefde vir Hom te bewerk wanneer jy onthou dat Hy vir jou gesterf het toe jy nog ‘n sondaar was.

Lees nou stadig deur Johannes 19:16–30 hieronder. Moenie jaag nie. Lees dit en verbeel jouself dat jy onder die skare is wat sien wat daar gebeur.

Hoor die geluid van die hamer wat die spykers in Jesus se hande en voete slaan.
Sien hoe die soldate die kruis oplig en in die grond plant.
Hoor die woorde van Jesus terwyl Hy aan die kruis hang.
Sien die doringkroon en die bloed wat van Hom afdrup.
Sien hoe dit skielik, sommer so in die middel van die dag, donker word.
Hoor die laaste woorde wat Jesus aan die kruis sê voordat Hy sterf.

Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.
Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota.
Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.
Pilatus het ook ‘n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.”
Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks.
Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”
Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”
Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ‘n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef.
Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.” Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere
onder mekaar verdeel,
en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.
By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan.
Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”
Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.
Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”
Daar het ‘n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou.
Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

Noudat jy weer die kruisverhaal gelees het, dink ‘n bietjie hieroor:

  • Wat tref jou die meeste in hierdie gedeelte?
  • Wat, dink jy, moes Jesus fisies en emosioneel deurgaan?
  • Dat Hy dit gewilliglik gedoen het — vir jou?

Lees ook Jesaja 53:5: Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

Laat hierdie waarheid insink: Die kruisiging van Jesus was nie net ‘n geskiedkundige gebeurtenis nie. Dit was persoonlik. Dit was vir jou, vir my, vir elkeen van ons wat al ooit in hierdie wêreld geleef het en nog gaan leef. Niemand is uitgesluit nie!

Die Bybel leer ons om onsself te ondersoek voordat ons die nagmaal gebruik. In 1 Korintiërs 11:28-29 staan daar: Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself.

Dink nou so ‘n bietjie oor jou eie lewe en vra jouself eerlik die volgende vrae:

  • Is daar sonde in jou lewe wat jy moet bely?
  • Is daar iemand wat iets aan jou gedoen het, wat jy nog nie vergewe het nie?
  • Het jy dalk iewers langs die pad geestelik afgestomp geraak?
  • Het jy begin om dit wat Jesus deur Sy dood en opstanding gedoen het, as vanselfsprekend te aanvaar?

Moenie bang wees om hierdie vrae eerlik te antwoord nie. Onthou, die kruis is ‘n plek van genade, nie veroordeling nie. Nadat jy jou hart en jou lewe ondersoek het, bely dit wat die Here jou gewys het voor Hom.

Onthou wat staan in 1 Johannes 1:9: Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Jesus se kruis wys vir ons twee dinge: Ons sonde is ernstig, maar God se liefde is groter.

Die Bybel sê in Romeine 3:23: Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie…

Maar vers 24 sê: maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.

En Johannes 3:16 verseker ons: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Jesus het in jou plek gesterf. Hy het die straf gedra wat jy moes dra. Hy het uitgeroep: “Dit is volbring.” As jy nog nooit regtig jou vertroue in Jesus geplaas het nie, kan jy dit vandag doen.

Bid eenvoudig: Here Jesus, ek glo U is die Seun van God en dat U vir my gesterf het. Ek erken ek is ‘n sondaar en dat ek U nodig het. Vergewe my asseblief en kom woon deur U Gees in my. Ek plaas in geloof my vertroue in U alleen.

Neem nou die brood.

Lees 1 Korintiërs 11:23-24: Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

Hou die brood ‘n oomblik vas.

Dink aan:

  • Die geseling…
  • Die doringkroon…
  • Die kruis…

Dank Hom vir Sy liggaam wat vir jou gebreek is. Eet die brood in stilte.

Neem nou die beker.

Lees 1 Korintiërs 11:25: Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

Dink aan:

  • Die bloed wat gevloei het…
  • Die vergifnis wat dit bring…
  • Die nuwe lewe wat dit moontlik maak…

Dank Jesus vir Sy bloed wat jou skoonwas. Drink die beker in stilte.

Daar is nie ‘n ander reaksie op dit wat Jesus vir ons gedoen het, as om dankbaar te wees nie. Sluit dus nou hierdie tyd af deur vir Jesus dankie te sê vir dit wat Hy vir jou gedoen het.

En onthou: Die kruis was nie die einde nie. Die graf was leeg. Hy leef! En omdat Hy leef, kan ons die lewe saam met Hom aandurf. Ons kan tyd met Hom spandeer in Sy Woord en in gebed.

Want geestelike groei gebeur nie in oomblikke soos hierdie een nie, maar meer in die daaglikse tye wat ons getrou opsy sit om by Hom te wees.

As jy graag meer gereeld stiltetyd wil hou en praktiese hulp soek om dit te doen, kan Die Stiltetyd Skatkis jou daarmee help. In dié skatkis is daar drie e-gidse:

By Jesus Se Voete – ons stiltetydgids wat jou gaan help om te leer hoe om stil te word by die voete van Jesus.

Hart Tot Hart – ons gebedsgids wat jou help om die basiese beginsels van gebed te verstaan en te begin toepas.

Jesus, Die Bybel, En Jy – ons gids waarin jy leer hoe om die VOLG-metode te gebruik om tyd in jou Bybel te spandeer sodat jy dit beter verstaan en ook kan toepas in jou lewe.

Maak dus sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel en kry vir jou Die Stiltetyd Skatkis sodat jy kan begin om gereeld tyd met Jesus te spandeer.

stiltetyd skatkis

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *