In Genesis 1 en 2 leer ons vier dinge by God wat, as ons dit toepas, ons gaan help om ‘n sukses van elke dag te maak.
Daar is min mense in hierdie lewe wat nie graag ‘n sukses van elke dag wil maak nie. Om ons hiermee te help, kyk ons videos oor produktiwiteit. Ons lees boeke en artikels daaroor en luister soms selfs na praatjies daaroor.
Maar min van ons raadpleeg die Bybel om uit te vind wat God daaroor te sê het.
In Genesis 1 en 2 lees ons hoe God die hemel en die aarde, en alles daarop, geskep het. Uit hierdie twee hoofstukke kan ons vier dinge by God leer wat, as ons dit toepas, ons gaan help om ‘n sukses van elke dag te maak.
So, kom ons kyk na die vier dinge en ook hoe ons dit in ons eie lewens kan toepas.
WERK MET ‘N PLAN.
Hoewel die Bybel nie pertinent sê dat God met ‘n plan gewerk het nie, kan ons sien aan dit wat Hy gedoen het, dat dit wel die geval was.
Hy begin met dit wat die belangrikste is, eerste en skep lig.
Dan skep Hy dinge in volgorde: Hy skei die land en die water van mekaar, want droë land is nodig vir die plante en diere wat Hy gaan skep.
Volgende skep Hy plante, want dit moet die kos wees vir die diere en voëls en mense wat Hy later gaan skep.
En so volg een ding op die ander, in ‘n logiese volgorde.
Ek en jy moet ook elke dag met ‘n plan werk. Jou plan gaan dalk nie altyd uitwerk soos jy gehoop het nie, maar as jy glad nie ‘n plan het nie, gaan jy maklik besig raak met dinge wat glad nie eers gedoen moet word nie en so kosbare tyd mors.
Die maklikste manier is om vroegoggend, voor jy jou dagtake begin, eers te besluit wat jy alles daardie dag wil doen. Skryf dit neer, sodat jy dit nie hoef te probeer onthou nie.
As jy take het wat logies op mekaar moet volg, skryf hulle dan in daardie volgorde neer, sodat jy net na jou lysie hoef te kyk om te sien waaraan jy volgende moet werk.
Jy kan vir jou ‘n dagboek kry om jou beplanning in te doen, maar ‘n gewone notaboekie werk net so goed.
WERK AAN EEN TAAK OP ‘N SLAG.
In Genesis 1 sien ons dat God aan net een ding op ‘n slag gewerk het.
Hy skep lig en dan is Hy klaar vir die dag.
Volgende skep Hy ‘n gewelf, wat Hy hemel noem, wat die waters bo en onder die gewelf, van mekaar te skei. En toe is Hy klaar vir die dag.
Die volgende dag skep Hy droë grond en op dieselfde dag ook die groen plante. En weer is Hy klaar vir die dag.
So sien ons dat God elke dag net aan een of twee take werk. Hy probeer nie tien goed gelyk doen nie, maar fokus net op een ding op ‘n slag.
Ek weet nie van jou nie, maar ek is geneig om heeltemal te veel take op my doen-lysie vir die dag te sit. Soms kom ek by al daardie take uit, ander kere nie. En soms kom ek nie eers by die belangrike take uit nie, omdat ek besig bly met goed wat nie noodsaaklik is om daardie dag af te handel nie!
God is hierin vir ons die voorbeeld, dat ons net aan een taak op ‘n slag moet werk.
Ons dink dat ons kan ‘multitask’, maar dis iets wat eintlik glad nie moontlik is nie.
‘n Mens is nooit besig om aan meer as een ding op ‘n slag te werk nie. Al wat jy eintlik doen, is om elke nou en dan een taak te los om met ‘n ander een te begin. Op dié manier vat een taak baie langer as wat dit sou vat as jy net daarop gefokus het en dit eers afgehandel het.
So, leer by God en fokus op net een taak op ‘n slag. Maak dit heeltemal klaar voor jy aanbeweeg na die volgende taak.
KYK TERUG EN WAARDEER.
In Genesis 1:10 lees ons dat God die droë grond aarde genoem het en die waters het Hy see genoem. En Hy het gesien dis goed.
In vers 12 lees ons weer dat God gesien het dit wat Hy vir daardie dag gedoen het, was goed.
Dit staan ook in vers 18, vers 21 en vers 25. In vers 31, na God alles geskep het, lees ons dat Hy gekyk het na alles wat Hy gemaak het en dat Hy gesien het dis baie goed.
Hieruit leer ons dat dit belangrik is om aan die einde van elke dag terug te kyk na wat jy alles daardie dag gedoen het en te waardeer wat jy daardie dag gedoen gekry het.
Dis so maklik om te fokus op die dinge wat jy nié gedoen gekry het nie. Maar dis ‘n fout.
Kyk na dit wat jy wel gedoen gekry het. Sien dit raak as iets goeds wat jy vir die dag gedoen het. En waardeer dat jy daardie dag die geleentheid gehad het, om daardie spesifieke ding af te handel.
RUS.
In Genesis 2:2 lees ons dat God op die sewende dag klaar was met al die skeppingswerk en dat Hy toe gerus het van al die werk wat Hy gedoen het.
Ook hierin is Hy vir ons ‘n voorbeeld.
‘n Mens kan nie sewe dae ‘n week werk, sonder om iewers ‘n breek te vat om te rus nie.
So, maak ‘n punt daarvan om ‘n dag te hê waar jy kan sê dat jou take vir die week afgehandel is en dat jy daardie dag gaan rus.
Gebruik die dag om tyd met God en met jou familie te spandeer. Doen dinge wat vir jou lekker is en jou laat ontspan. En vergeet so ‘n bietjie van die werk wat jy die week gedoen het en die werk wat die volgende week vir jou voorlê.
Ek kan jou nie waarborg dat, as jy hierdie vier stappe volg, jy altyd alles op jou doen-lysie gaan afhandel en dat al jou planne altyd gaan uitwerk nie. Maar ek kan jou waarborg dat jou dae, weke en maande baie meer suksesvol sal wees as jy God se voorbeeld volg en hierdie vier stappe in jou lewe toepas.