Dit is sowaar alweer tyd vir Moedersdag 2024! Volgens Wikipedia is Moedersdag ‘n dag waarop ma’s, moederskap, die band tussen ‘n ma en haar kinders en ook die invloed wat ma’s op die gemeenskap het, gevier word.
As jy nog kopkrap oor wat jy kan doen om Moedersdag vir jou ma spesiaal te maak, dan hoef jy nie verder te wonder nie.
Hier is vir jou 13 idees waaruit jy kan kies. Van die dinge kan julle as gesin saam met ma, of Ouma, doen terwyl die ander meer gemik is daarop om haar sommer net te bederf.
Kom ons kyk eers na die saamdoen-idees.
HAAR GUNSTELING ONTBYT.
As jy en jou ma in dieselfde dorp bly, kan hierdie een werk.
Maak haar gunsteling ontbyt en bederf haar daarmee op Moedersdag.
Of vat haar uit vir ontbyt by haar gunsteling restaurant.
MAAK SAAM TUIN.
As ma van kosmaak hou, is ‘n kruietuin dalk net die ding om te oorweeg.
Kies ‘n klomp verskillende kruie en maak saam tuin.
Maak seker julle merk die kruie, sodat sy later weet wat daar geplant is. Julle kan selfs instruksies oor hoe om vir die kruie te sorg, ook insluit.
MAAK SAAM KOS.
Kies ‘n nuwe resep, wat julle nog altyd wou probeer, en maak saam kos.
Dis groot pret om sommer net saam in die kombuis te wees en alles wat ma gewoonlik alleen doen wanneer sy kos maak, saam te doen.
Kuier dan lekker agterna terwyl julle aan julle skepping smul.
HOU ‘N SPELETJIES-AAND.
Het julle gesin ‘n gunsteling bord-speletjie wat julle gespeel het toe jy nog in die huis was?
Gaan haal weer daardie speletjie uit die kas, kry die kinders bymekaar en laat hulle saam met Ouma die speletjie speel.
‘N FAMILIE-ETE.
Daar is min dinge so lekker soos ‘n familie-ete op spesiale dae.
So, reël om saam as familie te eet op Moedersdag.
As julle familie nie naby mekaar bly nie, kan julle selfs so iets oor Zoom of Skype doen.
Nou kom ons by die bederf-idees.
‘DINGE WAT EK WAARDEER’ HOUER.
Koop ‘n lekker vet glasbottel met ‘n wye bek. Sny ‘n A4-vel, of dalk selfs twee velle, in stroke.
Skryf iets wat jy omtrent jou ma waardeer op elke strook papier en sit dit in die houer vir ma om elke dag een van te kies om te lees.
‘N BEDERF-PAKKIE.
Maak ‘n bederf-pakkie deur al jou ma se gunsteling dinge bymekaar te sit in ‘n mandjie of ‘n kartondoos.
Dit kan dinge wees soos ‘n boek van haar gunsteling skrywer, ‘n plak sjokolade of ander lekkers waarvan sy hou, iets lekkers om te drink, ensovoorts.
As jou ma nie van lekkergoed hou nie, kan jy vrugte of droë vrugte en neute en biltong gebruik.
Of koop ‘n paar van haar gunsteling badprodukte en maak daarmee ‘n bederf-pakkie op.
INKLEURBOEK VIR VOLWASSENES.
‘n Ruk terug het al wat leef en beef inkleurboeke vir volwassenes gekoop en begin inkleur om te ontspan.
As jou ma ook die inkleur-ding gedoen het, gee dan vir Moedersdag vir haar ‘n nuwe inkleurboek en sommer ‘n nuwe stel inkleurpotlode ook.
PAMPERLANG-DAG.
Vrouens, veral ma’s, is baie keer so besig om vir ander te sorg, dat hulle soms vergeet hulle het ook versorging nodig.
Maak Moedersdag hierdie jaar spesiaal deur ma vir ‘n dag na ‘n spa te stuur, waar sy bietjie gepamperlang kan word.
As sy nie die tipe is wat van so iets sal hou nie, bied dan aan om vir haar volgende afspraak by die haarkapper te betaal.
TEE- OF KOFFIEMANDJIE.
Koop al jou ma se gunsteling tees en koffies en pak dit in ‘n mandjie. Sit ‘n mooi beker of twee daarby. Versier die mandjie met ‘n mooi lint.
Nooi jouself so nou en dan vir ‘n koffie en geniet die geskenk saam met haar.
BLOMME.
Blomme is altyd ‘n goeie idee vir Moedersdag, want ‘n mens kan dit self gaan aflewer of dit stuur, as jy nie naby jou ma bly nie.
Omdat Moedersdag op ‘n Sondag val, is dit ‘n goeie idee om die blomme al die Saterdag te laat aflewer.
Die kleurvolle verrassing sal sommer jou ma se Sondag goed laat begin en haar al die vorige dag vreugde verskaf.
‘N AANLYN-KLAS.
Wat is daar wat jou ma nog altyd wou leer doen?
Dalk wou sy nog altyd een of ander taal aanleer.
Of dalk wil sy leer hoe om goeie foto’s te neem of hoe om te skilder of hoe om kwiltwerk te doen.
Deesdae kan ‘n mens al hierdie dinge, en nog meer, in die gemak van jou eie huis leer deur ‘n aanlyn-klas te volg.
As jy weet jou ma stel belang daarin om iets nuuts te leer, teken haar in vir so ‘n klas.
‘N TELEFOONOPROEP.
As jy en jou ma ver van mekaar af bly, is ‘n telefoonoproep ‘n goeie idee.
Skakel jou ma vroeg op Moedersdag en gesels vir ‘n rukkie met haar.
Skakel haar dan weer die aand om te hoor hoe haar dag was en weer ‘n bietjie te gesels.
En stuur dan sommer vir haar ‘n Whatsapp voor sy gaan slaap om haar ‘n goeie nagrus toe te wens.
BONUS-IDEE: ‘N OORDENKINGSBOEK VIR STILTETYD.
Hier is ‘n bonus-idee, wat dus die idees vir Moedersdag 2024 na 14 toe opskuif!
Koop vir ma of ouma ‘n oordenkingsboek, wat sy in haar stiltetyd kan gebruik, in ons aanlyn-winkel.
Daar is een oor Markus, een oor van die vroue in die Bybel en een waar die stukkies vir die dag kort genoeg is dat sy dit sommer in ‘n minuut kan lees.
Al drie die oordenkingsboeke is in PDF-formaat, so sy kan dit sommer direk op haar foon laai en dit maklik daar lees.
Hierdie is maar ‘n paar idees wat jy in 2024 op Moedersdag kan gebruik om jou ma – of ouma – se dag spesiaal te maak.
Daar is sommer nog baie ander dinge wat ‘n mens kan doen, so laat die gesin koppe bymekaar sit as die idees wat ek gegee het, nie vir julle gaan werk nie. Deel sommer ook julle idees vir Moedersdag 2024 met ons in die kommentaar hieronder. Jou idee is dalk net die idee waarna iemand anders ook op soek is!