BOU ANDER OP MET WOORDE: 4 MANIERE

Bou ander op met jou woorde deur hulle aan te moedig, te prys vir goeie werk, hulle op te bou, en die regte woord op die regte tyd te spreek.

4 Maniere om ander op te bou met jou woorde.

Andor Foldes het as ou man steeds onthou wat se verskil die lof van iemand anders in sy loopbaan gemaak het. Sy vroegste herinnering was van sy pa wat, toe hy sewe jaar oud was, hom gesoen en bedank het dat hy hom in die tuin gehelp het.

Toe Andor sestien was, was hy reeds ‘n bekwame pianis. Hy en die onderwyser wat vir hom klavierles gegee het, het egter vasgesit, en dit het Andor baie gepla. Op ‘n dag het Emil von Sauer Boedapest toe gekom vir ‘n uitvoering.

Von Sauer was nie net bekend vir sy klavierspel nie, maar ook vir die feit dat hy die laaste oorlewende student van Franz Liszt was. Von Sauer het gevra dat die jong Foldes vir hom op die klavier speel. Foldes het van die moeilikste stukke van Back, Beethoven, en Schumann gespeel.

DIE BEMOEDIGING.

Na hy klaar was, het von Sauer opgestaan en hom op die voorkop gesoen. “My seun,” het hy gesê, “toe ek jou ouderdom was, het ek by Liszt begin les neem. Na my eerste les het hy my op die voorkop gesoen en gesê, ‘Pas hierdie soen goed op – dit kom van Beethoven. Hy het dit vir my gegee na hy my hoor speel het.’ Ek het vir jare gewag om hierdie heilige erfenis aan iemand anders oor te dra en ek voel dat jy dit verdien.”

Ek is seker Foldes het na hierdie gebeurtenis sommer harder geoefen en nog beter gespeel as voorheen!

In 1 Thessalonisense 5:11 lees ons: “Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.”

Kom ons kyk vandag na ‘n paar maniere hoe ons ander kan bemoedig, aanmoedig en opbou.

DIE REGTE WOORD OP DIE REGTE TYD.

Almal van ons het bemoediging nodig. Soms gaan ons deur ‘n moeilike tyd, en iemand anders sê net die regte ding op die regte tyd, en skielik gaan die lig in die tonnel aan, en dinge lyk nie meer so donker nie.

Wanneer jy iemand teëkom wat bemoediging nodig het, vra die Here om jou die regte woorde te gee. Hy weet presies wat daardie persoon nodig het om te hoor. Sý woorde kan iemand uit die gat van depressie en wanhoop haal, en hom neersit op die vaste Rots.

LOF WAAR LOF TOEKOM.

Om iemand anders lof toe te swaai, is iets wat elkeen van ons elke dag kan doen. Wanneer jy sien iemand is goed in wat hy doen, sê dit vir hom.

Maak ‘n punt daarvan om elke dag iemand te komplimenteer. Selfs iets so eenvoudig soos om ‘n vrou op haar mooi rok of haarstyl te komplimenteer, kan iemand se dag sommer beter maak.

AANMOEDIGING OP DIE REGTE MANIER.

‘n Vriend het een keer die opmerking gemaak dat nie alle mense op dieselfde manier aangemoedig kan word nie.

Sommiges het ‘n klop op die skouer nodig, terwyl ander ‘n skop op die agterstewe gegee moet word. As jy die ou wat ‘n klop op die skouer nodig het, ‘n skop op die agterstewe gee, gaan jy hom nie aanmoedig nie.

Die omgekeerde is ook waar. Ons moet dus leer wat die mense naby aan ons – familie, vriende, werkers – se aanmoedigingstaal is, en hulle dan so aanmoedig

BOU OP EERDER AS OM AF TE BREEK.

Dit is soms makliker om ander af te breek as op te bou. En die ergste is, ons besef nie eens altyd ons woorde is afbrekend nie!

Ons raak iets kwyt in ‘n grap, maar die persoon vir wie dit gesê word, neem dit anders op as wat ons bedoel het, en iets in hom knak.

Hy kan vir jare met ‘n stuk seer in hom rondloop wat sukkel om gesond te word, en wat veroorsaak is deur onbedagsame woorde.

As iemand oor en oor dieselfde negatiewe ding toegesnou word, soos dat hy nooit iets in die lewe gaan bereik en beteken nie, glo hy naderhand dit is waar, en word sy selfbeeld afgebreek en hy bereik nie veel in sy lewe nie.

Juis daarom moet ons versigtig wees met wat ons vir ander sê. As dit wat jy wil sê nie opbouend is nie, bly liewer stil.

Daar is ‘n Engelse spreekwoord wat lui: “Sticks and stones will break my bones, but words will never harm me.” Dit klink baie mooi, maar dit is nie die waarheid nie. Woorde kan seermaak. Woorde kan verneder en verkleineer. Woorde kan iemand se binnekant doodmaak.

Maar woorde kan ook aanmoedig, bemoedig en opbou. Woorde kan ‘n persoon in homself laat glo.

Wanneer jy vandag met iemand praat, maar seker jou woorde bemoedig, bou op en dien as aanmoediging.

2 thoughts on “BOU ANDER OP MET WOORDE: 4 MANIERE

  1. Pastor L Titus

    Shalom

    Baie Dankie vir julle onbaatsigtige en wonderlike bydrae.
    Ek het sommer van julle idees geinkorpeer met ons Moedersdag 2023 Program.
    Dit het my hart snare geroer, ek hoop dit doen dieselfde vir baie andere.
    My het altyd van die werk af vrugte gebring sommige was geknees, anders sleg.As ons gesê het mammie dit is vrot, het sy geantwoord ” nee my kind hulle is net oorryp” Vandag is sy reeds by die Meester maar steeds in ons harte.
    Geseënde Moedersdag vir elke moeder.Julle is meer as oorwinnaars.
    Psalm 16:6 …. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. 

    • Risa Cronje

      Bly jy kon dit gebruik. Hoop dit beteken iets vir andere ook. Seën vir jou werk!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *