WANNEER GOD VER VOEL – 3 WAARHEDE OM TE ONTHOU

Almal van ons het al tye gehad waar dit voel asof God baie ver is.

Dalk het jy ‘n geliefde verloor en in jou hartseer en gemis voel jy baie ver van God af.

Of dalk het jy ‘n probleem waarmee jy nou al lank sukkel. Jy bid en bid, maar niks gebeur nie. En jy begin wonder of God ooit daar is.

Daar is soveel dinge in die lewe wat ‘n mens kan laat voel God is nie by jou nie, dat Hy daar doer ver iewers is en dat jy nooit weer by Hom gaan uitkom nie.

Dis egter glad nie waar nie.

God is by ons en Hy het belowe dat Hy ons nooit sal verlaat nie.

Maar al weet ons dit, voel ons tog soms asof God ver is. As jy weer so voel, onthou dan hierdie drie waarhede.

Wanneer God ver voel

WANNEER GOD VER VOEL, ONTHOU SY LIEFDE VIR JOU.

Hierdie is ‘n waarheid waarvan ons al in die begin van die Bybel van lees.

In Genesis lees ons van Adam en Eva, wat die verbode vrugte geëet het en uit die Tuin van Eden verban is.

Dit mag lyk asof God hulle darem baie swaar straf, maar daar was ‘n goeie rede daarvoor.

Die Boom van die Lewe was ook in die Tuin en as hulle daarvan geëet het, sou hulle vir altyd van God geskei gewees het.

Daarom stuur God hulle uit die Tuin en begin dadelik om alles in plek te kry om die mensdom weer met Hom te versoen.

Op die regte tyd stuur Hy vir Jesus, wat vir ons aan die kruis sterf en ons so weer met Hom versoen.

Johannes 3:16 is vir ons so ‘n bekende vers, dat ons partykeer mis wat daar staan.

Lees dit vandag asof jy dit vir die eerste keer lees. Daar staan: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”

Dis hoe lief God jou het en hoe graag Hy jou by Hom wil hê!

As jy weer ‘n dag beleef wanneer God ver voel, spandeer tyd saam met Hom. Laat Hom toe om jou met Sy liefde te omvou en om jou daaraan te herinner dat Hy jou só graag by Hom wou hê, dat Hy bereid was om Sy Seun vir jou op te offer.

WANNEER GOD VER VOEL, ONTHOU HY VERHEUG HOM OOR JOU.

‘n Mens wonder partykeer hoe God Hom oor ons kan verheug.

Ons dink ons het al te veel kere die verkeerde ding gedoen. Ons dink ons het te veel behoeftes. Meeste van die tyd voel ons meer soos ‘n las as ‘n lus vir God. Maar dis ook nie waar nie.

In Sefanja 3:17 lees ons hoe God oor ons voel. Daar staan: “Die Here jou God is in jou midde, ‘n held wat verlos. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou stil met sy liefde. Hy sal oor jou juig met jubelkrete.”

Sien jy dit? God verheug Hom met blydskap en juig met jubelkrete oor jou en my! Ons verskaf Hom vreugde en plesier.

En net so kan ons ook vreugde in Gód vind.

In Psalm 37:4 staan: “Vind jou vreugde in die Here, dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer.”

Om ons vreugde in die Here te vind, beteken dat ons vreugde in ons harte het selfs wanneer omstandighede moeilik is, want ons weet Hy is betroubaar en dat Hy ons nooit sal verlaat nie.

Wanneer God weer ver voel, lees Psalm 139 om jou te herinner aan hoe God oor jou voel. Onthou dat Hy Hom verheug oor jou, dat jy vir Hom vreugde en plesier verskaf.

WANNEER GOD VER VOEL, ONTHOU HY WOON IN JOU.

In die Ou Testament het God tussen Sy mense gewoon. Sy Teenwoordigheid het die tabernakel oordek en later die tempel, wat Salomo gebou het, gevul.

Dit het egter verander toe Jesus gesterf en opgestaan het.

Nou woon God nie meer tussen Sy mense nie, maar in hulle. Ek en jy is nou die Tempel van die Heilige Gees.

Die mense in die Ou Testament moes deur ‘n priester tot God nader. Ek en jy het egter nie meer nodig om deur ‘n priester te gaan nie, want Jesus is Self ons Hoëpriester.

Ons kan nou enige tyd self met God praat, self na Sy troon van genade gaan.

Daarom kan jy, wanneer God ver voel, onthou dat Hy nie net by jou is nie, maar in jou woon.

Word vir ‘n paar minute stil by Hom en gesels met Hom. Sê vir Hom wat jou pla en waarom dit vir jou voel asof Hy ver is. Onthou ook om te luister na wat Hy vir jóú wil sê.

NADER TOT GOD.

As jy vandag voel asof God ver van jou af is, dan bid ek dat die waarhede hierbo, jou hart sal aanraak.

Onthou dat God jou liefhet en dat Hy by jou wil wees en jou by Hom wil hê. Kom dus na Hom toe, want Hy wag vir jou.

Spandeer tyd met Hom en vra Hom om jou te help om jou vreugde in Hom te vind. Vra Hom ook om jou te help om meer en meer van Hom te wil hê.

Kyk ook na die video hieronder, vir nog idees van dinge wat jy kan doen wanneer God ver voel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *