Vadersdag 2023 is sowaar al hierdie Sondag. Dis die een dag van die jaar waar ons die pa’s in ons lewens so ‘n bietjie kan bederf. Sommige van ons het dalk nie meer ons eie pa’s by ons nie, maar dit keer ‘n mens nie om jou skoonpa, jou stiefpa, jou man, jou broer, ‘n oom, of dalk iemand wat vir jou ‘n rolmodel is, te bederf nie.
Die volgende vraag is nou net, wat doen ‘n mens op Vadersdag om die pa’s en manne in jou lewe te bederf? Hier is ‘n paar idees wat jy kan gebruik.

GEE ‘N TUISGEMAAKTE KAARTJIE.
Kaartjies is deesdae nie goedkoop nie. As jy ‘n geskenk en ‘n kaartjie vir pa op Vadersdag wil gee, kan dit nogal ‘n duur storie raak.
Koop dus net vir hom ‘n geskenk en laat die kinders self kaartjies maak om by die pakkie te sit. As julle ‘n Bybelvers in die kaartjie wil skryf, kan jy hier loer vir inspirasie.
VRA UIT OOR SY KINDERLEWE.
Hoeveel weet jy oor jou pa se kinderlewe? Doen hierdie Vadersdag moeite om uit te vra en laat hom van sy gunsteling herinneringe met die gesin en familie deel.
Dis ‘n goeie idee om hierdie dinge neer te skryf, sodat julle dit, wanneer hy die dag nie meer daar is nie, steeds kan onthou.
DEEL GUNSTELING HERINNERINGE.
Dis nie net jou pa wat gunsteling herinneringe het nie. Julle as familie het ook dinge saam gedoen wat lekker was en waaraan julle graag terugdink.
Gebruik ‘n stukkie van Vadersdag om as familie te gesels oor al julle gunsteling herinneringe.
Skryf dit ook sommer neer, sodat julle in die toekoms weer daardeur kan lees en so weer kan herleef.
GAAN SAAM OP ‘N MINI-WEGBREEK.
As dit moontlik is, gaan as gesin of familie saam op ‘n mini-wegbreek.
Dit hoef nie ‘n duur storie te wees nie. Om net vir die naweek saam te gaan kamp is al klaar iets wat lekker is om te doen.
Maar as julle dit kan bekostig, kan julle natuurlik vir pa op ‘n baie eksotiese mini-wegbreek ook vat!
MAAK SY GUNSTELING KOS.
Maak al pa se gunsteling geregte en nooi hom om op Vadersdag by julle te kom eet.
As hy daarvan hou om self kos te maak, nooi hom om vroeg genoeg te kom, sodat hy saam met julle die kos vir die dag kan voorberei.
GENIET SY GUNSTELING STOKPERDJIE.
Het jou pa ‘n stokperdjie wat hy beoefen?
Dalk is dit iets waarin jy nie self vreeslik belangstel nie, maar laat hom spesiaal voel deur op Vadersdag, of die dag voor die tyd, saam die stokperdjie te beoefen.
Jy besluit dalk net agterna dat dit só lekker is, dat jy dit graag wil bly doen. En dan het julle iets wat julle gereeld saam kan doen!
BRAAI SAAM VLEIS.
Daar is seker nie een man in Suid Afrika wat nie van vleisbraai hou nie.
Bederf jou pa deur op Vadersdag saam as gesin of familie vleis te braai.
Maak dit spesiaal deur goeie snitte vleis, wat julle nie gewoonlik sal braai nie, vir die geleentheid te koop.
KAARTJIES VIR ‘N SPORTBYEENKOMS OF KONSERT.
Hou jou pa van sport? Kry dan vir hom kaartjies na sy gunsteling sportbyeenkoms.
As hy eerder ‘n konsert sal bywoon, kry dan vir hom kaartjies na die opera, sy gunsteling sanger se volgende optrede, of iets soortgelyks.
KUIER SAAM OP ZOOM.
Nie almal van ons is in die posisie waar ons naby ons pa’s bly nie.
As jou pa ver van julle af bly, reël ‘n kuier op Zoom of een van die ander soortgelyke platforms.
Julle kan selfs so oor Zoom saam eet!
HOU ‘N PIZZA EN SPELETJIE-AAND.
Nie alle pa’s is lief vir speletjies nie, maar as joune een is wat daarvan hou, eindig Vadersdag met ‘n pizza en speletjies-aand.
Koop jou pa se gunsteling pizza en speel sy gunsteling speletjies. Dit kan bordspeletjies, kaartspeletjies, of wat ookal wees.
Dis iets wat nie net vir jou pa lekker gaan wees nie, maar wat ook vir die kinders of kleinkinders groot pret kan gee.
NOG IDEES?
Hierdie is net ‘n paar dinge wat jy kan doen om jou pa, man, oupa of wie ookal op Vadersdag 2023 te bederf.
Of dalk het jy al klaar iets beplan, waaraan ek nie gedink het nie.
As jy het, deel jou idee met ons in die kommentaar hieronder. Dis dalk net die een waarna iemand anders op soek is om sy of haar pa op Vadersdag mee te bederf!
En as jy ‘n pa of oupa, broer of eggenoot is, mag Vadersdag 2023 vir jou ‘n baie besondere en spesiale dag wees!