Een van die toertjies wat narre en mense in die surkus doen, wat my nog altyd gefasineer het, is ‘juggle’. Dis nou waar ‘n kunstenaar ‘n klompie balle in die lug hou sonder om een te laat val.
Ek het, net na ek studeer het, vir ‘n hele paar jaar saam met my pa kindervermaak gedoen. Ons het as narre opgetree by skoue en kinderpartytjies. Daar is dus heelwat kulkunsies wat ek kan doen, bloot omdat ek die geheim daaragter ken. Maar om te ‘juggle’ kon ek nooit regkry nie.
Dalk is dit omdat ek nooit regtig probeer het om die toertjie baas te raak nie. So geen wonder ek kan dit nie doen nie!
Maar het jy geweet dat ons almal, ongeag wie ons, almal elke dag besig is om daardie einste toertjie in ons lewens te doen?

Jy sien, ons het almal ‘n verskeidenheid balle wat ons in die lug moet hou. Dis nou die verskillende gebiede in die lewe waaraan ons moet aandag gee.
Sommige van dié balle is glasballe, waaraan jy elke dag moet aandag gee. As jy dit nié doen nie, kan die bal val. En as dit eers geval het, kan jy dit baie keer nie regmaak of terugkry nie.
Ander balle is rubberballe. Hoewel hulle ook belangrik is, is dit nie so ‘n groot probleem as jy een laat val nie. Jy kan dit weer terugkry of regmaak.
Daar is ses areas in ‘n mens se lewe wat beskou kan word as glasballe. Ek het aan die begin van 2022 ‘n video oor hierdie glasballe gemaak, wat vandag steeds van toepassing is. Kom ons kyk na die ses glasballe en waarom jy in 2023 hieraan aandag moet gee.
AKSIESTAPPE VIR ELKE GLASBAL.
Jy weet nou aan watter dele van jou lewe jy elke dag moet aandag gee. Nou is dit belangrik om te beplan hoe jy dit gaan regkry.
Ons is nie almal in dieselfde situasie nie, daarom gaan elkeen van ons se aksiestappe anders wees. As jy nie getroud is nie, hoef jy nie te werk aan ‘n huwelik nie. Of dalk het jy nie kinders nie en hoef dus ook nie aan ‘n verhouding met kinders te werk nie.
Dink ‘n bietjie oor die ses glasballe waaroor ons gepraat het. Skryf neer watter van daardie balle op jou van toepassing is. En skryf dan neer watter aksiestappe jy gaan neem om te sorg dat jy elke dag aandag hieraan gee.
Om jou so ‘n bietjie te help, gaan ons in die volgende twee artikels gesels oor jou geloofslewe. Ons gaan kyk na 10 verskillende geestelike dissiplines, wat jy kan gebruik om geestelik te groei. Ons gaan ook gesels oor geestelike doelwitte en ek gaan ‘n paar idees met jou deel wat jy as moontlike doelwitte vir 2023 kan gebruik.
Maar tot ons daarby kom, dink so ‘n bietjie oor die ander glasballe en wat jy kan doen om elke dag tyd daaraan te spandeer.