DAWID: ‘N MAN NA GOD SE HART

Ons het in die vorige artikel gesels oor die hart en ek het belowe dat ons hierdie week gaan kyk na Dawid, wat ‘n man na God se hart was.

Waarom was hy ‘n man na God se hart?

Daar is meer as een rede daarvoor. In hierdie artikel kyk ons na vier van dié redes.

Dawid: 'n man na God se hart

GOD AS DAWID SE ROTS EN TOEVLUGSOORD.

Dawid was, in die eerste plek, ‘n man na God se hart omdat God altyd sy rots en toevlugsoord was.

Dawid het vir die grootste deel van sy lewe altyd een of ander vyand op sy spoor gehad.

Maar hy het altyd op God vertrou, Hom gesien as sy rots en toevlugsoord, en daarom het hy keer op keer as oorwinnaar uit die stryd getree.

Psalm 62:2-3: “Net by God vind ek rus; van Hom kom my verlossing. Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord; ek sal beslis nie wankel nie.

Psalm 18:3: “Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die horing van my redding, my toevlugsoord.”

GOD AS SY HERDER.

As jy Dawid se storie mooi onthou, sal jy onthou dat hy nie in ‘n paleis as ‘n prins gebore is nie. Hy was maar net ‘n skaapwagtertjie toe Samuel hom die dag as koning gesalf het.

Maar daar tussen die skape, wat hy moes beskerm teen allerhande wilde diere wat hulle kon verskeur, het hy geleer dat God ook sý Herder is.

Ons sien dit in die bekende Psalm 23.

In hierdie psalm leer Dawid ons die volgende van God:

Hy sorg vir ons en voorsien in ons behoeftes.

Hy lei ons op die regte paaie, sodat ons op die regte tyd op die regte plek is.

En Hy lei ons sodat ons die goeie werke wat Hy vir ons beplan het, kan doen.

Ons hoef vir niks bang te wees nie, want God is by ons.

God se leiding bring bemoediging en dit gee ons sekuriteit.

Hy beskerm ons.

Hy salf ons.

En Hy seën ons.

Net soos Dawid geweet het God is sy herder, moet ek en jy ook elke dag onthou dat Hy ook óns Herder is.

GOD IS SY KRAG EN SKILD.

Saul, wat voor Dawid koning was, het baie vertrou op sy wapenrusting en sy soldate. Maar nie Dawid nie. Sy vertroue was in die Here. God was vir hom sy krag en sy skild.

Ons sien dit in die volgende verse uit van die psalms, wat hy geskryf het:

Psalm 28:7-8: “Die Here is my krag en my skild; op Hom vertrou my hart. Ja, ek het hulp ontvang en my hart jubel, met my lied wil ek Hom prys: Die Here is vir sy volk ‘n krag. Hy is die toevlug van verlossing vir sy gesalfde.”

Psalm 59:10: “My Sterkte, aan U wil ek vashou. Ja, God is my toevlugsoord.”

Psalm 140:8: “Here, my Heer, die krag wat my verlos, U beskut my kop op die dag van oorlog.”

Vir Dawid was God sy krag en sy skild. ‘n Mens besef dus dat Dawid nie ‘n man na God se hart was omdat hý so oulik was nie, maar oor wie God in sy lewe vir hom was.

DAWID VERTROU GOD TEN VOLLE.

Die laaste rede waarom Dawid is man na God se hart was, was omdat hy God ten volle vertrou het.

Dawid was nooit sy lewe seker nie. Maar tydens sy regeringstydperk, het dit baie goed gegaan met Israel. Dit was, natuurlik, aan God te danke, wat belowe het om diegene wat Hom vertrou en aan Hom gehoorsaam is, te seën.

Ons sien dan ook weer in die psalms wat Dawid geskryf het, dat hy die Here ten volle vertrou.

Psalm 25:2: “My God, op U vertrou ek; laat my tog nie beskaamd staan nie; laat my vyande nie oor my jubel nie.”

Psalm 20:8: “Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar óns, ons vertrou op die Naam van die Here ons God.”

En in Psalm 31:5: “Maar ek, op U, Here vertrou ek. Ek sê: ‘U is my God…'”

Oor en oor skryf Dawid dat hy op God vertrou. Sy seun, Salomo, het ook op God vertrou, want hy skryf: “Wie hom toespits op ‘n saak, sal sukses behaal, en wie op die Here vertrou, is gelukkig” (Spreuke 16:20).

Dawid het gekies om nié te vertrou op mense en dinge nie, maar op God. En daarom was hy ‘n man na God se hart.

EK EN JY – MENSE NA GOD SE HART.

Ek en jy is ook mense na God se hart.

Hy het Sy Seun gestuur om die prys vir ons sondes te betaal, sodat ons weer in ‘n verhouding met Hom kan wees. Wanneer ons in ‘n verhouding met Hom is, is ons Sy kinders. En al Sy kinders is mense na Sy hart.

Omdat ons Sy kinders is, sal ons ook dié dinge doen wat Dawid gedoen het.

Ons sal Hom sien as ons rots, ons toevlugsoord, krag en skild. Ons sal Hom ook sien as ons Herder. En ons sal Hom bo alle ander dinge vertrou omdat ons weet hoe getrou Hy is.

Elkeen van hierdie dinge wys dat ons manne en vroue na God se hart is, net soos Dawid ‘n man na God se hart was!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *