HOE OM TELEURSTELLING TE VERWERK

Hier is 7 dinge wat jy kan doen om jou te help om teleurstelling te verwerk.

Die hele wêreld is vol mense wat al teleurstelling ervaar het. Om die waarheid te sê, elkeen van ons is al op een of ander manier teleurgestel.

Sommige het al jare lank ‘n droom wat nog nooit bewaarheid is nie. Ander het planne gemaak wat misluk het. En daar is ook diegene wie se verhoudings op die rotse geloop het.

Dis nie maklik wanneer ‘n mens ‘n teleurstelling het nie, maar ongelukkig is daar niks wat jy kan doen om te keer dat jy ooit teleurgestel word nie. Dis nou maar eenmaal iets wat deel is van die ou lewe.

Maar wat doen ‘n mens wanneer jy teleurgestel word? Hoe hanteer jy dit? Hier is 7 dinge wat jy kan doen om jou te help om teleurstelling te verwerk.

Vrou wat hartseer is - hoe om teleurstelling te verwerk

GLO GOD HET STEEDS ‘N PLAN.

Die Bybel leer ons dat God ‘n plan vir elke mens se lewe het. Nie een van ons is gebore sonder dat God ‘n doel het wat Hy in en deur ons wil bereik nie.

Ongelukkig is ons baie keer haastiger as God. Jy weet dalk wat jou doel is, en jy kan nie wag om dit te bereik nie. Nou hardloop jy voor God uit en probeer dinge in eie krag doen. En wanneer jou planne misluk, is jy teleurgesteld.

Of dalk is jy nog nie so seker van wat God deur jou wil doen nie. Nou probeer jy maar een ding na die ander. As jou planne dán nie uitwerk nie, was dit dalk nooit deel van God se plan nie.

Een ding wat jy moet onthou wanneer dinge nie werk nie, is dat God steeds ‘n plan vir jou lewe het. Net omdat hierdie plan nie uitgewerk het, of die droom nog nie bewaarheid is nie, beteken dit nie dis die einde van die pad nie.

God het net iets anders in gedagte. Onthou, Hy gee altyd iets beters in die plek van dit wat ons verloor het.

Bly glo dat Hy jou op die regte tyd op die regte plek sal laat wees en dat jy presies sal doen wat Hy beplan het jy moet doen. Of dat jy presies sal kry wat Hy beplan het om vir jou te gee.

TREUR DAAROOR.

As jou teleurstelling regtig groot is, gee jouself tyd om daaroor te treur. Dis belangrik dat jy die teleurstelling verwerk, en een manier is om daaroor te treur. Maar doen dit net vir ‘n beperkte hoeveelheid tyd. Dis nie gesond om vir maande of selfs jare te treur oor ‘n teleurstelling nie.

Wees ook versigtig daarvoor om jouself te bejammer. Dis ‘n mens se natuurlik reaksie op teleurstelling en hartseer. Maar dit gaan niks aan die saak verander nie. Dit gaan jou net nog slegter laat voel.

En moenie heeltyd fokus op wat kón wees nie. Dinge het nie uitgewerk soos jy gehoop het nie. Wees hartseer daaroor. Huil as dit jou laat beter voel. Maar laat dit dan gaan.

SIEN DINGE IN PERSEPKTIEF.

Soms is ons teleurgesteld oor iets wat ons jare later nie eers gaan onthou nie. Is dit regtig so erg dat jou kind se verjaardagpartytjie afgestel moes word omdat dit vir ‘n week aaneen gereën het?

As jou teleurstelling oor iets baie groot is, sien dit vanuit die groter prentjie van jou hele lewe. Herinner jouself aan dié dinge in jou lewe wat goed is en wat vlot verloop.

Wanneer jy fokus op al die goeie in jou lewe, gaan die teleurstelling meeste van die tyd nie heeltemal so erg lyk nie.

BID.

Gebed verander dinge. Soms verander dit die omstandighede, maar dit verander altyd die persoon wat bid.

Wanneer jy ‘n teleurstelling ervaar, bid daaroor. Praat jou hart teenoor God uit en vertel Hom presies hoe jy daaroor voel. Hy weet in elk geval, so niks wat jy sê gaan Hom skok of ontstel nie.

Vra Hom om jou te help om die teleurstelling te verwerk. Vra Hom ook om jou te wys waarom jou planne nie uitgewerk het nie. Hy sal nie vir jou kwaad wees as jy vra nie. En wanneer Hy vir jou wys, leer daaruit. Dan sal jy volgende keer weet om nie dieselfde fout te maak nie.

WEES DANKBAAR.

Onthou jy die ou Halleluja-lied, Tel Jou Seëninge? Wanneer jy teleurgesteld is, doen wat die lied sê en tel jou seëninge. As jy eerlik is met jouself, sal jy moet erken dat jou hele lewe nie een groot gemors is net omdat jy op een gebied teleurstelling ervaar het nie. Daar is nog baie dinge waarvoor jy kan dankbaar wees.

Wat is hierdie dinge? Skryf hulle neer. Maak ‘n punt daarvan om elke dag vir God dankie te sê vir elkeen van hulle.

SOEK NA DIE GOEIE.

Josef is een man wat ons baie oor teleurstelling kan vertel. God het hom profetiese drome gegee, dat hy in ‘n leiersposisie sou wees. Maar in plaas daarvan dat die drome waar word, word Josef eers as slaaf verkoop en later onskuldig in die tronk gestop.

Dit lyk asof alles omtrent Josef se situasie net negatief is, maar dis nie waar nie. Deur dit alles is God by hom en gee Hy hom guns by verskillende mense. So word Josef telkens tog aangestel in ‘n leiersposisie – eers in Potifar se huis en later ook in die tronk.

Elkeen van hierdie gebeure het Josef voorberei vir die eintlike taak wat God vir hom gehad het. En die dag toe hy tot tweede-in-bevel van Egipte verhoog word, was hy gereed vir wat God deur hom wou bereik.

Ook in jóú teleurstelling is daar iets goeds. Jy moet net daarvoor soek. Jy gaan dit dalk nie dadelik raaksien nie, maar moenie moed opgee nie. Hou aan soek na die positiewe. Op ‘n dag sal jy dit wel raaksien.

MAAK GEREED VIR DIE VOLGENDE GELEENTHEID.

Jou plan het dalk hierdie keer nie uitgewerk nie omdat dit nie die regte tyd was nie. As jy weet dis iets wat God op jou hart gelê het, hou aan om jouself voor te berei sodat jy gereed is wanneer die regte tyd wel aanbreek.

Hoe jy jouself gaan voorberei hang af van wat die droom is wat jy het.

Vir party kan dit beteken om ‘n paar kursusse te doen sodat jy volgende keer die beste kandidaat vir die nuwe pos is.

Ander se voorbereiding kan dalk wees om die Bybel te bestudeer sodat jy gereed is wanneer God jou in ‘n bedieningsposisie inskuif.

Of dalk is jou droom om ‘n huweliksmaat te hê. Dan kan jy jouself voorberei deur saam met God te werk sodat jy al meer soos Jesus word. Op dié manier sal jy die beste man of vrou wees wat iemand anders oor kan droom.

NOG ARTIKELS OM JOU TE HELP.

Dalk sukkel jy nie vandag met teleurstelling nie, maar met iets soos kommer, negatiewe gedagtes, of vrees. Hierdie artikels sal jou daarmee help.

HOE OM DIE GEVEG IN JOU GEDAGTES TE WEN

6 STAPPE OM ‘N LEWENSSTORM TE OORWIN

GOD SIEN JOU, MOENIE BANG WEES NIE

HOE OM OP TE HOU OM JOU TE BEKOMMER

‘N MUUR VAN BESKERMING: SEWE STAPPE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *