JESUS IS DIE GOEIE HERDER

My oom boer met skape.

Hulle weiding is nie ver van die plaashuis af nie, dus het hulle nie ‘n herder nodig om na hulle te kyk nie.

Maar elke dag, net voor sononder, gaan my oom veld toe om hulle te gaan haal en hulle kraal toe te vat vir die nag. Hy fluit vir die skape en jaag hulle voor hom uit na die skaapkraal.

Terwyl ek een dag so vir hom en die skape gestaan en kyk het, het die Here my herinner aan die herders in Israel.

Daar doen hulle dinge so ‘n bietjie anders.

Hulle jaag nie die skape voor hulle uit nie. Hulle loop voor die skape uit en lei hulle na waar hulle moet gaan.

Jesus is die Goeie Herder

JESUS, DIE GOEIE HERDER.

In Johannes 10 noem Jesus Homself die Goeie Herder.

In vers 3 sê Hy die goeie herder roep sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit. Hy maak sy skape bymekaar en gaan voor hulle uit. Hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken.

Is dit nie ‘n mooi beeld van ons Here Jesus nie?

Hy is die Goeie Herder wat voor ons uit loop om ons te lei en te wys waar ons moet gaan.

Hy jaag nooit Sy skape aan of dwing hulle om Sy wil te doen nie. Nee, Hy lei hulle met die sagte fluistering van Sy stem.

MEER OOR DIE GOEIE HERDER.

In Psalm 23 lees ons ook oor die Goeie Herder.

Hier leer ons wat Hy nóg alles vir ons doen.

DIE GOEIE HERDER VOORSIEN.

“Die Here is my herder; ek ly nie gebrek nie.”

Jesus is die Herder wat vir ons sorg.

Daar is niks wat ons ooit mag nodig kry, wat Hy nie sal voorsien nie.

Ons moet Hom net vra en in geloof vertrou dat Hy sal voorsien.

DIE GOEIE HERDER GEE RUS.

“In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my.”

Jesus het reeds alles gedoen wat nodig was sodat ek en jy gered kan word.

Daar is niks wat ons moet doen nie.

Ons hoef dit nie te verdien of op een of ander manier daarvoor te werk nie.

Geen mens kan homself in elk geval met sy eie goeie dade red nie.

Nee, ons kan rus in Jesus se voltooide werk aan die kruis.

Ons hoef net wat Hy vir ons gedoen het, in geloof te aanvaar.

DIE GOEIE HERDER LEI ONS OP DIE REGTE PAD.

“Hy gee my nuwe lewenskrag; Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam.”

Die Goeie Herder het die Heilige Gees en die Woord vir ons gegee.

Uit die Woord leer ons hoe om dinge op Sý manier te doen.

Die Heilige Gees is die Gees van Waarheid en Hy leer ons ook. Boonop lei Hy ons om te doen wat God wil hê ons moet doen. En Hy help ons om God se wil te doen.

HY IS BY ONS WANNEER DIE STORMS DREIG.

“Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.”

Ons hoef nooit bekommerd of bang te wees nie.

Dit maak nie saak hoe die omstandighede lyk of watter lewensstorm dreig nie. Ons kan die Goeie Herder vertrou.

Hy gaan voor ons uit om ons veilig deur die storms van die lewe te lei.

En Hy sorg vir ons en is elke oomblik by ons om ons te beskerm en te help.

LEES OOK: JESUS IS BY JOU IN DIE VALLEIE

HY ALLEEN BRING BEVREDIGING.

“U dek vir my ‘n tafel voor die oë van my teenstanders. U verfris my kop met olie; my beker loop oor.”

Jesus, die Goeie Herder, is al wat ek en jy nodig het.

Hy alleen bring bevrediging en vervulling.

Hy vul ons met die Heilige Gees totdat daar nie meer plek is vir enige iets anders nie.

Ons lees daarvan in Johannes 7:37-39: “As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ Dit het Hy van die Gees gesê wat dié wat in Hom glo, sou ontvang.”

SY GOEDHEID EN TROUE LIEFDE VOLG ONS.

“Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae.”

Die Here is nie goed vir ons omdat óns goed is nie, maar omdat Hý goed is.

Sy goedheid en troue liefde volg ons oral waar ons gaan.

En ons het die versekering dat ons vir altyd, vir ewig, by Hom gaan wees.

DIE GOEIE HERDER.

Jesus is die Goeie Herder wat ons, Sy skape, met liefde en teerheid lei.

Hy sorg vir ons en voorsien in al ons behoeftes.

Hy lei ons en bring vir ons rus en vrede.

As die lewensstorms dreig, beskerm Hy ons.

Selfs in ons donkerste oomblikke kan ons verseker weet Hy is by ons en dat Hy altyd vir ons optree (Jesaja 64:4).

Hy weet wat is die beste vir ons en lei ons altyd op die regte pad.

En solank ons Hom volg en Sy stem gehoorsaam, sal alles altyd ten goede vir ons meewerk (Romeine 8:28).

JY EN DIE GOEIE HERDER.

Die Goeie Herder wil na jou ook omsien en vir jou sorg.

Hy wil jou lei na vrede en rus en seker maak jy is op die regte pad.

Hy is altyd besig om met jou te praat sodat jy Sy stem kan hoor en Hom volg.

Wanneer jy dus Sy stem hoor, moenie jou hard verhard nie.

Luister na wat Hy vir jou sê en wees gehoorsaam.

En jy sal sien hoe Sy goedheid en troue liefde jou volg oral waar jy gaan, elke dag van jou lewe!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *